VEEL MEER AS ‘N JOBSTROOSTER
Toe Job in sy diepste nood verkeer het en sy vriende met allerlei slimmighede en menslike wyshede na hom toe gekom het, het hy met tye tot by breekpunt gekom en onder andere teenoor hulle uitgeroep: "Dergelike dinge (met ander woorde: Hierdie tipe woorde waarmee julle my probeer opbeur) het ek al baie gehoor: treurige vertroosters is julle almal" (Job 16:2). Die tema van troos en vertroosting is een van die mees sentrale temas in die Skrif. Die redding wat Yahweh vir sy volk belowe het en die seëninge wat toegesê word aan hulle wat uitsien na die aanbreek van die koninkryk van Yahweh, word in die Skrif dikwels beskryf as die manier waarop die Almagtige sy hand van vertroosting uitsteek na ‘n groep mense vir wie Hy regtig omgee. In YeshaYahu 40:1-2 lees ons dié woorde: "Troos, troos my volk, sê julle Elohiem. Spreek na die hart van Yerushalayiem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van Yahweh dubbel ontvang het vir al haar sondes." Wat is dit wat volgens hierdie gedeelte waarlik troos sal bring aan hulle wat aan Yisrael behoort? Die wete dat ons skuld betaal is en dat daar met ons sonde ‘n plan gemaak is. As ‘n mens die res van YeshaYahu 40 lees, is dit duidelik dat ons hier ‘n profetiese verwysing na die Messias het en dat dit danksy Hóm is dat ek en jy werklik getroos kan wees.
Daar is baie ander Skrifgedeeltes wat hierdie waarheid bevestig: YeshaYahu 51:3 ("Want Yahweh vertroos Tsion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin van Yahweh; vreugde en blydskap sal daarin gevind word, danksegging en die klank van liedere"); YeshaYahu 61:1-2 ("Die Gees van die Meester Yahweh is op My, omdat Yahweh My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van Yahweh en ‘n dag van die wraak van onse Elohiem; om al die treurendes te troos"); YeshaYahu 66:13 ("Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos; en julle sal in Yerushalayiem getroos word"). YermeYahu 31 is ‘n duidelike profesie oor die nuwe verbond en oor wat die nuwe verbond alles vir ons sal inhou. In vers 13 van hierdie hoofstuk staan daar: "Dan sal die jonkvrou haar verheug in die koordans, ja, die jongmanne en die oues tesame; en Ek sal hulle rou in vreugde verander en hulle troos en hulle tot blydskap bring uit hulle kommer".
Dit is duidelik dat hierdie troos wat van Yahweh af kom onontbeerlik is – ek en jy kan nie daarsonder nie. Ons kan nie sê: Nee dankie, ons het dit nie nodig nie – nie as ons begeer om deel van sy koninkryk te wees nie. Daar is ongetwyfeld méér ingesluit in hierdie troos as wat ‘n mens geneig is om te dink. In verreweg die meeste gevalle waar daar van "troos" of "vertroosting" in die Skrif gepraat word, is dit afkomstig van die Hebreeuse woorde "negem" en "nagam". Twee bekende persoonlikhede in die Skrif se name is van hierdie woord afgelei: NegemYah (Nehemia), wie se naam beteken: "Die vertroosting van Yahweh" en Nagum (Nahum), wie se naam eenvoudig beteken: "Vertroosting". As ‘n mens deur hierdie twee boeke in die Skrif lees, is daar ‘n boodskap van vertroosting in beide: Die uitkoms en vertroosting wat ná die ballingskapperiode onder leiding van mense soos NegemYah gekom het, asook die vertroosting in die boodskap van Nagum dat wanneer die verskriklike Dag van Yahweh aanbreek, daar redding en uitkoms sal wees vir hulle wat hulle vertroue in Yahweh geplaas het. Nog ‘n persoon wie se naam ook verband hou met die troos wat van Yahweh af kom, is Noag. Volgens die woordeboeke beteken die woord "noag" letterlik "to rest, to settle down, to be comforted". Ons weet dat die persoon van Noag in die Skrif dikwels met die eindtyd in verband gebring word en met die ewige rus waarna ons kan uitsien.
Wat beteken die woord "negem" presies en waarom is dit so ‘n belangrike woord vir ons wat ons verwagting in Yahweh en in die koms van sy koninkryk gestel het? Volgens die Strongs leksikon beteken "negem" die volgende: "to sigh, to breathe strongly; to be sorry, to pity, to console, to comfort, to repent". Die eerste twee betekenisvelde is nogal interessant: "to sigh; to breathe strongly". Dit laat mens dink aan die woorde van Rom 8:26-27: "En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van Elohiem vir die afgesonderdes intree." Wat gebeur in ‘n mens in wie se binneste die Gees van Yahweh intree met onuitspreeklike sugtinge? Hy word vertroos! Dit is waarom Yahweh sy Gees in die eerste plek in ons harte uitstort: om ons te vertroos. Dit is waarom die Gees van Yahweh die Trooster genoem word. Waarom het ons ‘n Trooster nodig? Is dit om ons beter te laat voel as ons slegte nuus gekry het of slegte dinge oorgekom het? Dit ook, maar ten diepste het ons die Gees van Yahweh ontvang as "eersteling" of "waarborg" dat ons met die aanbreek van die Dag van Yahweh volmaak getroos sal word, nadat ons ons hele lewe lank gebuk gegaan het onder die negatiewe uitwerking van sonde en die nadelige gevolge van sonde. Hierdie waarheid word vroeër in die hoofstuk verwoord, in Rom 8:23: "En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam."
Is hierdie troos net iets wat ons gaan help op die dag wanneer die Messias weer kom, of kan ons nou reeds iets hiervan in ons daaglikse lewens ervaar? Die Skrif toon duidelik aan dat dit ‘n troos is wat ook vir die hier en nou bedoel is. Een van die bekendste troosboodskappe in die Skrif is Psalm 23:4: "Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my." Juis hier waar ons op aarde dikwels voor onheil en selfs voor doodskaduwees te staan kom, is dit Yahweh se "stok" of "loot" wat ons vertroos. "Stok" is ‘n vertaling van die Hebreeuse woord "shevet" wat "tak, stok of stam" beteken. Hierdie stok of loot dui ten diepste op die Messias ("the Branch") en die feit dat Hy gekom het om die skynbaar dooie stokke (of: verlore skape / verlore stamme) van Yisrael te identifiseer en weer soos wilde olyfboomtakke of "lote" op die oorspronklike olyfboom in te ent. Hy is die ware Wynstok en ons is die lote. As ons in Hom bly, dra ons veel vrug en ervaar ons elke dag sy vertroosting en bemoediging. As ons nie in Hom bly nie, verloor ons ons krag en ons diepste troos, want sonder Hom kan ons niks doen nie (Joh 15:1-5).
Nog ‘n gedeelte wat bevestig dat ons hierdie troos van dag tot dag nodig het, is Psalm 119:50 "Dit is my troos in my ellende, dat u belofte my lewend maak." Ons sien dus nie net uit na daardie dag wanneer die Messias by sy koms ons sal lewend maak nie. Die blote belofte dat dit sal gebeur, maak ons nou alreeds lewend! Dit blaas nuwe lewe in ons wanneer ons op ons laagste is in hierdie wêreld. Dit gee vir ons nuwe krag wanneer die lewe met sy terugslae en teleurstellings die laaste bietjie energie uit ons tap. Daar is iets dinamies in ‘n belofte. Dit steek die vlam van hoop aan die brand … en hóú dit brandend. En hier praat ons nie van ‘n gewone belofte nie. Dit is nie ‘n belofte wat ons van ‘n mens ontvang het nie. Dis ‘n belofte wat die Almagtige self vir ons gegee het! Daarom is dit ‘n belofte wat ons troos en lewend maak – veral op dié dae wanneer ons die vlaag van ellende rondom ons op sy felste beleef.
Ons het hierbo gesien dat "negem" soms ook "repent" kan beteken. Wat is die verband tussen "comfort" en "repent", of in Afrikaans, tussen "troos" en "berou"? Wat het hierdie twee begrippe met mekaar te make? Daar is ‘n paar plekke in die Skrif waar die woord "negem" met "berou" vertaal word, en nie met "vertroos" nie. Een so ‘n plek is Shemot 32:14: "Toe het dit Yahweh berou oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy sy volk sou aandoen." Nog ‘n plek is YermeYahu 26:13 "Maak dan nou julle weë en julle handelinge goed, en luister na die stem van Yahweh julle Elohiem; dan sal dit Yahweh berou oor die onheil wat Hy teen julle gespreek het." Hier sien ons wat troos ten diepste beteken. Hou in gedagte dat die primêre betekenis van "negem" is "to sigh; to breathe deeply". Niks in hierdie lewe kan ons méér vertroos nie as die besef dat die Almagtige na ons hopelose toestand (as gevolg van die uitwerking van sonde) gekyk het en (menslik gesproke) diep gesug het omdat Hy innig jammer vir ons gevoel het - net soos die Messias tydens sy aardse bediening dikwels innig jammer vir mense gevoel het. Dit is egter nie al nie. Hy voel nie net jammer vir ons nie. Hy het nie net diepe en innige deernis met ons nie. Hy soek as’t ware na ‘n rede om die onheil en die ellende waarin ons onsself gedompel het, te herroep en van ons af weg te neem. Daar is by Hom ‘n gretigheid en ‘n ongeduld om aan ons sy guns en sy ontferming te bewys (YeshaYahu 30:18). Alhoewel Hy nie nodig het om oor enigiets berou te hê nie (omdat Hy so absoluut regverdig is en nie foute maak nie), gebeur dit keer op keer dat Hy berou het oor die onheil wat Hy onvermydelik oor sy volk moes bring. Hierdie berou van Yahweh word telkens op ‘n innige en aangrypende manier teenoor sy volk verwoord. Dit word nêrens mooier uitgedruk as in Hoshea 11:8-9 nie: "Hoe kan Ek jou oorgee, o Efrayiem, jou prysgee, o Yisra’el? Hoe kan Ek jou maak soos Adma, jou gelykstel met Tsevoïm: my hart is omgekeer in My, tegelykertyd is my medelyde (letterlik: my "nigum", afgelei van "negem") opgewek. Ek sal my gloeiende toorn nie laat geld nie, Ek sal Efrayiem nie weer te gronde rig nie; want Ek is El en nie ‘n mens nie, die Afgesonderde in jou midde". As dit nie vir jou en my troos nie, sal niks ons troos nie.