Jaloesie

Op die 28ste Julie 1945, vandag presies 62 jaar gelede, is ‘n sekere Jim Davis op ‘n plaas in Indiana gebore waarop daar onder meer koeie en 25 katte was. Jim het van kleins af gehou daarvan om te teken en alhoewel sy tekenwerk aan die begin nie altyd so watwonders was nie, het hy later die skepper van die bekende Garfield karakter geword. Vandag is daar meer as 2600 koerante regoor die wêreld wat daagliks ‘n Garfield strokiesprent plaas en ‘n geraamde 256 miljoen mense wat dit elke dag lees. Die Guinness Book of World Records het Garfield as "the most widely syndicated comic strip in the world" bekroon.

Wat het dit alles met jou en my te doen? Kom ons vergeet vir ‘n oomblik van die man, Jim Davis en wend ons tot sy hoofkarakter, ‘n vet kat met die naam Garfield. Davis het blykbaar besluit om sy karakter "Garfield" te noem omdat dit die naam van sy oupa was en sy oupa iemand was wat baie reguit en uitgesproke was (Engels: "opinionated"). Garfield se karakter is in sekere opsigte geweldig lewensgetrou en help ‘n mens soms om mense en hulle maniere beter te verstaan. Agter die komiese element wat in Garfield se sêgoed na vore kom, lê daar partykeer waarhede, of bloot net gedragspatrone, wat merkwaardige ooreenkomste toon met ons eie wel en weë en die lewe soos ons dit elke dag ervaar.

Kom ons neem die strokiesprent wat die afgelope week, op 23 Julie, verskyn het, as voorbeeld.

Aan die woord is Liz, die vriendin van Garfield se eienaar, Jon. Sy is klaarblyklik baie besorgd daaroor dat Garfield bedreig sal voel oor haar vriendskap met Jon. Sy wil nie hê Garfield moet voel hy (wat Garfield is) word nou skielik eenkant toe geskuif en Liz kry al die aandag nie. Daarom vra sy baie beleef of Garfield nie dink dis moontlik dat hulle twee vir Jon kan deel nie. Met sy tipiese droë humor, en sonder om enige geheim daarvan te maak hoe belangrik sy kos vir hom is, antwoord Garfield: "Vat jy die helfte van Jon wat kan soen en ek vat die helfte wat kan kos gee." Daar is heelwat temas waaraan ‘n mens onmiddellik kan dink as jy hierdie strokiesprent lees, maar die een wat seker die meeste uitstaan, is die tema van jaloesie.

Iemand het eenkeer gesê: "In jealousy there is more self-love than love." Dis juis een van die uitstaande karaktereienskappe van die karakter, Garfield, wat in meeste van die Garfield strokiesprente uitgebeeld word. Om sy eie woorde te gebruik: "It’s all about ME". Die pynlike waarheid is natuurlik dat daar in hierdie wêreld te veel mense is wat in hierdie opsig nes Garfield is. Ja, selfs onder toegewyde gelowiges, tref ons gereeld diegene aan wat met hulle woorde en dade en gesindhede gereeld openbaar: "It’s all about ME!" Die Skrif leer dat liefde en menslike jaloesie mekaar wedersyds uitsluit. In Shir Hashiriem (Hooglied) 8:6 lees ons hierdie woorde "Liefde is sterk soos die dood, maar die liefdes-ywer is hard soos die doderyk" (Scriptures: "Love is as strong as death, jalousy as cruel as the grave." En Shaul sê in 1 Kor 13:4 "Die liefde is nie jaloers nie". Die motief agter menslike jaloesie is gewoonlik ‘n stuk liefdeloosheid wat gebore is uit ‘n selfsugtige drang om iets of iemand net vir jouself te hê. Dit druis in teen die liefdesbeginsel wat in beide die Voor-Messiaanse en Messiaanse Geskrifte beklemtoon word: "Jy moet Yahweh jou Elohiem bo alles liefhê en jou naaste soos jouself." Wie Yahweh bo alles liefhet, kan nooit ‘n houding inneem van "It’s all about ME" nie. En wie sy naaste soos homself liefhet, is werklik bly oor sy naaste se sukses en voorspoed en seën – nie JALOERS daarop nie. Die negatiewe impak van jaloesie kan onder meer ook in die volgende verse gesien word:

Bereshiet (Genesis) 26:13-15 En die man het groot geword en voortdurend groter geword totdat hy baie groot was: hy het troppe kleinvee en beeste gehad en baie bediendes, sodat die Pelieshtyne hom beny het. En al die putte wat die dienaars van sy vader in die dae van sy vader Avraham gegrawe het, daardie putte het die Pelieshtyne toegestop en met grond opgevul.

Bereshiet (Genesis) 30:1 En toe Ragel sien dat sy vir Yaákov geen kinders verwek nie, het Ragel jaloers geword op haar suster en aan Yaákov gesê: Gee vir my kinders of anders sterf ek.

Bereshiet (Genesis) 37:11 En sy broers was afgunstig op hom, maar sy vader het die saak in gedagte gehou (vgl. Hand 7:9).

Iyov (Job) 5:2 Want bitterheid vermoor die dwaas, en jaloesie maak die domme dood.

Mieshleh (Spreuke) 14:30 'n Rustige hart is die lewe vir die vlees, maar hartstog (letterlik: "jaloesie") 'n verrotting vir die beendere.

YeshaYahu (Jesaja) 11:13 Dan sal die jaloesie van Efrayiem verdwyn, en die teëstanders van Yehudah sal uitgeroei word; Efrayiem sal Yehudah nie beny nie, en Yehudah sal Efrayiem nie benoud maak nie.

Rom 13:12-13 Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord. Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie.

1 Kor 3:3 omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?

Ya’akov (Jakobus) 3:14-16 Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie. Dit is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels; want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerlei gemene dade.

In gedeeltes soos 2 Kor 11:2-4 sien ons ‘n ander kant van jaloesie. "Want ek is jaloers oor julle met die ywer van Elohiem, want ek het julle aan een man verbind, om julle as 'n reine maagd aan die Messias voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Gawwah deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor die Messias. Want as iemand kom en 'n ander Y'shua verkondig as wat ons verkondig het, of as julle 'n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of 'n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval." Die Skrif stel Yahweh vir ons voor as ‘n jaloerse Elohiem wat ywerig daaroor waak dat dit wat aan Hom behoort nie met of deur ander gedeel word nie. En dat Hyself nie ondergeskik of selfs gelyk gestel word aan iets of iemand wat nie met Hom vergelyk kan word nie.. Daardie selfde jaloersheid behoort ook by jou en my voor te kom. Nie ‘n jaloersheid oor iets wat aan ons behoort nie, maar ‘n jaloersheid oor dit wat aan Hom behoort. "The passion of jealousy possesses an intense force, it fires the whole nature … and takes so firm a hold that it remains most deeply rooted until the exciting cause is removed … and like a torrent irresistibly sweeps all before it; it stops at nothing … and it overthrows everything in the pursuit of its enemy (Spurgeon)." Mag hierdie eienskap in ons lewens na vore kom wanneer die eer en die Naam van ons hemelse Vader op die spel is!