In die konteks waarin die Skrif ontstaan het, het begrippe soos ploeg met osse en die jukke op osse se nekke ‘n belangrike rol gespeel en daarom word daar dikwels na hierdie simboliek verwys wanneer sekere waarhede beklemtoon word. In ons tyd het mense dikwels ‘n baie negatiewe verstaan van die begrip "juk" of "jukke" (Engels: "yoke"). Jukke word vandag normaalweg as bindinge en ondraaglike laste gesien en daarom as iets waarvan ‘n mens so gou as moontlik ontslae moet raak. In die ou Hebreeuse kultuur het jukke egter nie altyd so ‘n negatiewe konnotasie gehad nie. In die Jewish Encyclopedia kom daar ‘n perspektief oor jukke na vore wat vir ‘n mens laat verstaan presies wat die Messias bedoel het toe Hy gesê het: "Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele, want my juk is sag en my las is lig" (Matt 11:29-30).

By Sinai, sê die Jewish Encyclopedia, het Yiesrael die juk van Yahweh se koninkryk op hulle geneem. Boonop neem elkeen wat by Yiesrael aansluit, op homself of haarself die juk van Yahweh se koninkryk. Hierdie juk het alles te doen met die Torah wat Yahweh vir sy volk gegee het en die verhewe motief agter hierdie stel leringe en riglyne uit Yahweh se hand. Dis ‘n juk wat nie (soos vandag allerweë geglo word) bedoel is om jou in ‘n ystergreep te plaas sodat jy geen vryheid het nie. Inteendeel, dis ‘n juk wat bedoel is om jou te bevry van die beslommernis en bekommernis van die daaglikse handel en wandel en die spanning van voortdurend te wonder oor reg en verkeerd. Daarby is dit ‘n juk wat jou onder Yahweh se beheer en beskerming plaas en jou vrywaar van die juk van jou vyande. In die antieke Joodse geskrifte word dit só verwoord: "Every one who takes upon himself the yoke of the law removes from his shoulders the yoke of government and daily sorrows. But whoever removes the yoke of the law will be burdened with the yoke of government and daily sorrows."

Die Messias was terdeë bewus van hierdie verstaan van die Torah as ‘n juk wat jou in pas en in lyn bring met Yahweh se volmaakte wil en bedoeling. Hy was egter ook bewus van die manier hoe godsdienstige groepe soos die Fariseërs in hulle ywer gekarring en bygevoeg het by hierdie juk sodat dit later vir mense heeltemal ondraaglik geword het. Hy was ook bewus van die juk wat onder meer van die kant van die Romeinse (en heidense) gesagdraers op die nekke van gewone mense geplaas is. In sy geskrifte het Josephus (die bekende geskiedskrywer wat in die eerste eeu n.M. gelewe het) verwys na die juk van die Romeinse owerheid en die sorge wat dit vir mense meegebring het. ‘n Mens kan jou voorstel dat hierdie juk die vorm aangeneem het van regulasies soos belasting en allerlei beperkinge oor wat ‘n mens mag doen en nie mag doen nie. Vir iemand wat aan Yahweh lojaal wou bly, sou die afdwing van heidense maatreëls en heidense gebruike van die kant van die Romeinse owerheid, ook ‘n bykomende juk op die skouer gewees het. Vir sulkes kom gee die Messias die versekering: "My juk sal nie dieselfde aan julle doen as wat die juk van die godsdienstige en Romeinse leiers aan julle doen nie. My juk is ‘n terugkeer na die juk van die koninkryk van Yahweh, waar Hy weer die regmatige plek as Koning van jou lewe inneem."

Dis opvallend hoe baie spreekwoorde daar in die Skrif voorkom wat met jukke op mense se nekke te make het. Spreekwoorde soos die volgende:

"Om iemand se juk van jou nek af te ruk" (Bereshiet 27:40; YermeYahu 28:10)

"Om jou hand op die nek van jou vyande te lê" ( Bereshiet 49:8)

"Om jou nek te verhard" (Devariem 10:16; NegemYah 9:16)

"Om ‘n ysterjuk op iemand se nek te sit" ( Devariem 28:48; YermeYahu 27:2)

"Om jou nek onder iemand se diens te buig" (NegemYah 3:5; Yermeyahu 27:8)

"Om die juk van jou oortredinge op jou nek te hê" (Egah / Klaagliedere 1:14)

"Om die juk van jou vervolgers op jou nek te hê" ( Egah 5:5)

"Om ‘n meulsteen aan iemand se nek te hang" (Matt 18:6)

In die geheel gesien, kan ons die boodskap van die Skrif oor jukke, en die uitwerking daarvan op mense, as volg saamvat:

  1. NET YAHWEH EN DIE KRAG VAN SY WOORD EN SY MAGTIGE REGTERARM KAN JUKKE VERBREEK
  2. Yesh 9:4 (3) Want die juk wat op hulle gedruk het, en die stok wat hulle rug getref het, die slaanstok van hulle drywer, het U verbreek soos op die dag van Miedyan.

    Yerm 28:2 So sê Yahweh van die leërskare, die Elohiem van Yiesraél: Ek het die juk van die koning van Bavel verbreek.

  3. JUKKE WORD AFGELIG DEUR GEHOORSAAMHEID, MAAR VERERGER DEUR ONGEHOORSAAMHEID
  4. Yerm 30:8 En op daardie dag … sal Ek hulle juk verbreek van hulle nek af en hulle stroppe stukkend ruk … maar hulle sal Yahweh hulle Elohiem dien.

    Devar 28:47-48 Omdat jy Yahweh jou Elohiem nie met vreugde en vrolikheid van hart … gedien het nie, sal jou vyand … 'n ysterjuk op jou nek sit totdat hy jou vernietig het.

  5. SOMS IS JUKKE DEEL VAN YAHWEH SE VORMINGSWERK IN DIE LEWENS VAN SY VOLGELINGE
  6. Yerm 27:2 So het Yahweh vir my gesê: Maak vir jou stroppe en jukke, en sit dit op jou nek

    Egah 3:27-28 Dit is goed vir 'n man dat hy die juk in sy jeug dra. Laat hom eensaam sit en stilbly, as Hy hom dit opgelê het

  7. SOMS IS JUKKE DIE ONVERMYDELIKE GEVOLG VAN VERVOLGING WAARONDER ONS GEBUK GAAN
  8. Egah 5:5 Ons vervolgers is op ons nek; ons is afgemat sonder dat daar rus aan ons gegun word.

    Yerm 30:8 En op daardie dag, sê Yahweh van die leërskare, sal Ek sy juk verbreek van jou nek af en jou stroppe stukkend ruk; en vreemdes sal hom nie meer diensbaar maak nie.

  9. ALMAL VAN ONS MOET FYN DAARTEEN WAAK OM NIE JUKKE OP DIE SKOUERS VAN MEDEGELOWIGES TE LAAI NIE
  10. Luk 17:1 En Hy het vir sy dissipels gesê: Dit is onvermydelik dat die struikelblokke kom, maar wee hom deur wie hulle kom.

    Hand 15:10 Nou dan, waarom versoek julle Elohiem deur op die nek van die dissipels 'n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie?

  11. GELOWIGES WAT NIE IN DIE DUISTERNIS WANDEL EN WETTELOOS IS NIE, TREK SAAM IN DIESELFDE JUK
  12. Devar 22:10 Jy mag nie met 'n os en 'n esel tegelyk ploeg nie.

    2 Kor 6:14 Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die wetteloosheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?

  13. UITEINDELIK SAL ALMAL OP EEN OF ANDER MANIER BUIG ONDER DIE JUK VAN DIE MESSIAS

Ber 49:8 Yehudah, jy is dit! Jou sal jou broers loof. Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; voor jou sal die seuns van jou vader hulle neerbuig.

Heb 10:13 en wag nou verder totdat sy vyande gemaak is 'n voetbank van sy voete.