DIE BELANGRIKHEID VAN KLEIN DINGETJIES
Die woorde van Hooglied 2:15 is welbekend: "Vang julle vir ons die jakkalse, die klein jakkalse wat die wingerde verniel, want ons wingerde staan in die bloei." Dit is inderdaad so dat dit dikwels die klein jakkalse is wat die wingerd verniel. Anders as wat mense dikwels diep in hulle harte glo, maak die klein dingetjies wél saak. Wanneer ‘n mens met die Skrif omgaan, is hierdie beginsel geweldig belangrik. Geen deel van die Skrif kan bloot maar net geïgnoreer word nie, al is dit skynbaar hóé klein en onbelangrik of onbeduidend. Niks mag by die woorde van die Skrif bygevoeg of weggelaat word nie – so word dit in die Skrif self bepaal (o.m. in Devariem 4:2; 12:32; Yahushua 1:7; Prediker 3:14; Openbaring 22:18-19).
‘n Betekenisvolle vers in hierdie verband, is die Messias se uitspraak in Matt 5:18 "Voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie." ‘n Jota is een van die letters van die Hebreeuse alfabet – die kleinste van al die Hebreeuse letters (
י) – en stem ooreen met die Afrikaanse letter "J" of die Engelse letter "Y" (aan die begin van ‘n woord). ‘n Tittel is ‘n klein strepie of tekentjie wat bokant of onderkant ‘n Hebreeuse letter geplaas word (byvoorbeeld: i of t) om aksent aan te dui. As hierdie strepies weggelaat word, kan dit die betekenis van ‘n woord of ‘n sin totaal verander.Niemand het beter geweet hoe belangrik hierdie klein tekentjies was, as die Jode self nie. In een van die Joodse geskrifte word die boek Devariem as ‘n persoon voorgestel wat voor die Almagtige gaan "lê" en die volgende woorde "uitspreek": "Thou hast written in me thy law, but
now a testament defective in some part is defective in all. Behold, Solomon endeavours to root the letter Jod out of me." Die vers in Devariem waarna hier verwys word, is Devariem 17:17 waar daar staan dat ‘n koning vir homself nie baie vroue mag aanskaf nie. Die Hebreeuse weergawe is: "Velo yarbeh lo nashiem". Die woord "nashiem" beteken "vroue", maar as ‘n mens die "Jod" of die "jota" daaruit haal, dan staan daar "neshem" wat "diere" kan beteken. Dit is bekend dat daar ‘n Joodse skool van denke was wat ‘n saak daarvoor probeer uitmaak het dat Koning Salomo met sy baie vroue nie in stryd met die Torah gehandel het nie, omdat dit net ‘n "jota" is wat die verskil maak tussen "Hy mag vir homself nie baie vroue aanskaf nie" en "Hy mag vir homself nie baie diere aanskaf nie".
Daar is nog ‘n fiktiewe Joodse staaltjie wat die betekenis van ‘n klein lettertjie soos die "jod" of "jota" beklemtoon. Daar word vertel dat hierdie klein letter "jota" eendag met die Skepper "gepraat" het en gesê het: "Thou hast rooted me out of the name of that holy woman." Die verwysing is hier na die naam van Sarai, die vrou van Avraham, wat na Sarah verander is, deurdat die "jota" aan die einde van die naam weggelaat is. Volgens die staaltjie was die Almagtige se antwoord: "Hitherto thou hast been in the name of a woman, and that in the end; but henceforward thou shalt be in the name of a man, and that in the beginning." Die man van wie hier gepraat word, is die groot voorloper van die Messias in die Voor-Messiaanse Geskrifte, wie se naam op ‘n stadium van Hoshea na Yahushua verander is, deurdat ‘n "jota" aan die begin van sy Naam bygevoeg is. Die verhaal is fiktief, maar die beginsel is duidelik: Selfs die kleinste lettertjie "jota" kan geweldige implikasies hê binne die raadsplan van die Almagtige.
Dit is nie net die weglaat van ‘n skynbaar onbenullige letter soos ‘n jota wat ‘n groot verskil in betekenis kan maak nie. Dit is ook wanneer een letter na ‘n ander letter verander word. In Hebreeus kan dit baie maklik gebeur, want die verskil tussen sommige letters is baie gering. Twee letters wat baie maklik met mekaar verwar kon word, veral in vroeër tye toe die teks van die Skrif nog met die hand neergeskryf is, is die letters He (
ה) en Cheth (ח). In ‘n ou Joodse geskrif het ‘n bekende rabbi gesê: "It is written in Lev 22:32: ‘Ye shall not profane my holy name.’ Therefore, whosoever shall change ‘Cheth’ into ‘He’, destroys the world." Die Hebreeuse woorde in Levitikus (Wayyikra) 22:32, waarna hierdie rabbi verwys, is "Velo techallu et shem qadosh" ("En jy mag die afgesonderde Naam nie skade aandoen / vernietig nie"). As ‘n mens die Cheth in "techallu" verander na ‘n He ("tehallu"), dan lees hierdie verbod: "En jy mag die afgesonderde Naam nie prys / besing nie". Is dit nie ironies nie dat juis dit waarteen hierdie Rabbi baie honderde jare gelede gewaarsku het, tot ‘n groot mate gebeur het, en dit is veral die Jode wat die skuld hiervoor moet kry. Die hele wêreld het daaronder gely omdat daar groter beswaar aangeteken is as die Naam van Yahweh letterlik geprys word, as wanneer sy Naam uit Skrifvertalings weggelaat word en in die proses totaal deur mense geïgnoreer word.In die finale instansie is dit nie net die verandering of weglaat van letters wat die Skrif van sy krag ontneem nie, maar ook die verandering of weglaat (of ignorering) van woorde, sinne, hoofstukke en totale bedelings (soos die hele sg. Ou Testament). Oneindige skade word gedoen deur mense wat mensgemaakte kriteria gebruik om met die Skrif te maak soos wat ‘n mens met ‘n plakboek maak wanneer jy dit takel met ‘n skêr en ‘n pot gom. Daar is oorvloedige getuienis dat dit inderdaad is wat oor honderde jare met die vertaling en interpretasie van die Skrif gebeur het. Letters, woorde en verse is op vindingryke wyse by die oorspronklike teks van die Skrif bygevoeg en weggelaat om bedenklike kerklike leerstellinge op so ‘n manier te probeer rugsteun. Op die oog af lyk dit taamlik onskuldig. Ja, dit lyk soos "klein jakkalsies", maar dis hierdie klein jakkalsies wat die wingerd verniet het. Vandag pluk ons die wrange vrugte van grootskaalse misleiding, maar terselfdertyd ook grootskaalse onsekerheid oor wat om te glo en wat nie. Wat kan ek en jy hieraan doen?
Mat 5:18 Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.
Mat 5:19 Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.
Mat 5:20 Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie.