KOM ONS WEES BLY!

Die huttefees of loofhuttefees (Feast of Tabernacles) is tradisioneel by uitnemendheid ‘n fees van blydskap. In NegemYah 8:17 vind ons ‘n beskrywing van hierdie fees: "En die hele vergadering wat uit die gevangenskap teruggekom het, het hutte gemaak en in die hutte gewoon; want van die dae van Yeshua af, die seun van Nun, tot op daardie dag het die kinders van Yiesraél nie so gedoen nie; en daar was baie groot blydskap." Die woorde "baie groot blydskap" is ‘n vertaling van die Hebreeuse woorde "simgah ghedolah me’od". Die volgorde van hierdie drie woorde in Hebreeus is presies die teenoorgestelde as in Afrikaans ("simgah" beteken "blydskap"; "ghedolah" beteken "groot" en "me’od" beteken "baie"). Die feit dat hier nie net van "groot blydskap" gepraat word nie, maar van "baie groot blydskap" sê vir ons dat hierdie geleentheid met ongekende en onbeskryflike blydskap gepaard gegaan het. Die beskrywende woord "me’od" (baie) word in die Skrif gebruik om gebeure en dinge te beskryf wat werklik onbeskryflik groot was. Aan die einde van die ses skeppingsdae het die Almagtige gesien dat sy handewerk baie ("me’od") goed was (Bereshiet 1:31). Die rede waarom Kayien (Kain) vir Hevel (Abel) doodgemaak het, was omdat hy baie ("me’od") kwaad was omdat die Almagtige sy offer verwerp het, maar Hevel se offer aanvaar het (Bereshiet 4:5). En die rede waarom Yahweh Sedom en Amorah (Sodom en Gomorra) met die grond gelyk gemaak het, was omdat hulle sonde baie ("me’od") erg was (Bereshiet 18:20). Die enigste ander plek in die Skrif waar ons ook die uitdrukking "baie groot blydskap" aantref, is toe die wyse manne die ster gesien wat die geboorteplek van die Messias aangedui het. Ons lees in Matt 2:10 dat hulle hul met baie groot blydskap verheug het toe hulle hierdie ster gesien het. Daar is min twyfel dat MattitYahu (Matteus), wat sy evangelie eers in Hebreeus geskryf het (voordat dit later in Grieks oorvertaal is), presies dieselfde woorde gebruik het as met die beskrywing van die Loofhuttefees in NegemYah (Nehemia) se tyd.

Daar is dus geen twyfel nie dat die Loofhuttefees ‘n oproep is om bly te wees met ‘n soort blydskap wat nie sy gelyke in hierdie wêreld het nie! Die enigste manier waarop gelowiges vandag so ‘n tipe blydskap kan beleef, is om dieper en verder te kyk as bloot net die uiterlike omstandighede wat hulle lewens omring. In die leefwêreld waarin ons ons van dag tot dag bevind, is daar nie genoeg motivering om ons te verheug met ‘n baie groot blydskap nie. As ons dit egter kan regkry om ons oë en ore en harte oop te maak vir die realiteit en die waarheid van Yahweh, die Almagtige, en sý Woord (waarin sy karakter en sy gawes vir ons beskryf word) sal ons vind dat daar ‘n blydskap in ons begin opwel wat groter is as enige ander belewing wat ons hier op aarde kan ervaar. Die Webster Dictionary beskryf "joy" as "a delight of the mind, from the consideration of the present or assured approaching possession of a good." Daar is nie altyd blydskap opgesluit in ons "consideration of the present" nie. Wanneer ons egter ons geloofsoog rig op die "assured approaching possession" van ‘n redding en ‘n koninkryk en ‘n erfporsie wat uitstyg bo enige iets wat ons nog ooit mee kennis gemaak het, bring dit ‘n oorvloedige en uitbundige blydskap mee. En dit is die Vader se bedoeling dat ons met ‘n fees soos die Loofhuttefees spesiaal aan hierdie dinge moet dink, en aan die blydskap wat dit in ons harte teweeg bring, uitdrukking moet gee. Regdeur die Skrif word daar talle van hierdie motiewe aangedui – motiewe wat ons sou kon noem: waarhede wat so kragtig en lewensveranderend is dat dit slegs met uitbundige blydskap erken en ontvang kan word.

 

 

 

  1. Kom ons wees bly, want die Een wat lieflikhede in sy regterhand hou, sal vir ons die pad van die lewe bekendmaak!
  2. Tehilliem 16:11 "U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig."

  3. Kom ons wees bly, want ons ken ‘n Bruidegom wat ons as sy bruid beklee met klere van verlossing en geregtigheid!
  4. YeshaYahu 61:10 Ek is baie bly in Yahweh, my siel juig in my Elohiem; want Hy het my beklee met die klere van verlossing, my in die mantel van geregtigheid gewikkel—soos ‘n bruidegom wat priesterlik die hoofversiersel ombind, en soos ‘n bruid wat haar versier met haar juwele.

  5. Kom ons wees bly, want daar is Een wat ons ellende raakgesien het en uit sy guns ons benoudheid weggeneem het!
  6. Tehilliem 31:7 Ek wil juig en bly wees in u goedertierenheid, omdat U my ellende aangesien, my siel in die benoudhede geken het

  7. Kom ons wees bly, want die tydelike teëspoed wat ons nou ken, word verdwerg deur die grootheid van Yahweh en sy verlossing!
  8. Gavakuk 3:17-18 Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie, nogtans sal ek jubel in Yahweh, ek sal juig in die Elohiem van my verlossing.

  9. Kom ons wees bly, want die Elohiem van die leërskare het sy Woord in ons harte geplaas en sy Naam oor ons uitgeroep!
  10. YermeYahu 15:16 Toe u woorde gevind is, het ek hulle opgeëet, en u woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart; want u Naam is oor my uitgeroep, Yahweh, Elohiem van die leërskare!

  11. Kom ons wees bly, want beproewinge en versoekinge bring mee dat ons volmaak en sonder gebrek voor Y'shua sal staan!
  12. Ya’akov 1:2-4 Ag dit louter vreugde, my broers, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.

  13. Kom ons wees bly, want ons vervolging is vir die eer van Y'shua en plaas ons op een vlak met die profete!

MattitYahu 5:11-12 Geseënd is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle praat om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.