KYK, DIE MENS …!

Die woord "kyk" (Engels: "Behold") word dikwels in die Skrif gebruik as ‘n meganisme om die leser se aandag te vestig op iets wat besonder merkwaardig of noemenswaardig is. Voorbeelde hiervan is die volgende: "Kyk, jy is swanger" (Bereshiet 16:11); "Kyk, Ek seën hom" (Bereshiet 17:20); "Kyk, jy sal sterwe" (Bersehiet 20:3) en "Kyk, ek het oud geword" (Bereshiet 27:2). Die bedoeling is nie altyd dat daar fisies met die oë gekyk moet word nie. Die bedoeling is meer: "Neem kennis van hierdie feit of hierdie gebeurtenis, want dit is besonders en dit is belangrik." Die Hebreeuse woord wat in hierdie gevalle gebruik word, is "hinei" en word gespel met die medeklinkers: H – N – H. Dit is die eerste woord van die bekende Hebreeuse lied: "Hinei matov umanaim, shevet achiem gam yachad", met die vertaling, "Behold, how good and how pleasant it is for brothers to dwell together" (Tehilliem 133:1).

‘n Studie van hierdie woord, "hinei", wat meer as 1000 keer in die Voor Messiaanse Geskrifte voorkom, is besonder insiggewend. ‘n Mens sou hierdie woord byna as ‘n woord van verwondering kon beskou. Dis ‘n woord wat vir jou en my oproep om ons veral oor twee uitstaande aspekte te verwonder: (1) Hoedat die Almagtige van die begin af op ‘n volmaakte en ‘n kragtige manier met sy guns en sy geregtigheid by die mense van hierdie wêreld betrokke geraak het, en (2) Hoedat die mense van hierdie wêreld van die begin af die negatiewe uitwerking van sonde in hulle lewens ervaar het. ‘n Mens sien dit reg deur die Skrif, maar veral in die eerste tien hoofstukke van Bereshiet wat vir ons ‘n oorsig gee oor die periode van die skepping af tot en met Noag. In hierdie tien hoofstukke word die woord "hinei" agt keer gebruik: Eers twee keer om na Yahweh en sy grootheid te verwys, dan vier keer om na Noag en die sondigheid van die wêreld te verwys, en dan weer twee keer om na Yahweh en sy grootheid te verwys. Kom ons kyk kortliks na hierdie patroon, wat gebaseer is op die eerste agt plekke in die Skrif waar die woord "hinei" gebruik word, sonder om een enkele vers uit te laat.

  1. Ber 1:29 Kyk, Yahweh seën die mens met vrugbaarheid, heerskappy en die oorvloed van die aarde.
  2. Ber 1:31 Kyk, alles wat Yahweh gemaak het, was baie ("me’ood") goed.
  3. Ber 6:12 Kyk, die aarde en alle vlees ("basar") is bedorwe.
  4. Ber 6:13 Kyk, die aarde en alle vlees ("basar") gaan vernietig word.
  5. Ber 6:17 Kyk, daar gaan vloedwaters kom wat die aarde en alle vlees ("basar") gaan vernietig.
  6. Ber 8:13 Kyk, die oppervlakte ("paniem") van die aarde ("adam") was droog.
  7. Ber 8:11 Kyk, Yahweh het die duif terug gestuur met ‘n olyfblaar in die mond.
  8. Ber 9:9 Kyk, Yahweh rig ‘n verbond op met Noag, en sy saad na hom.

Dit lyk byna asof hierdie patroon, op sigself, in die woord "hinei" (wat as H – N – H gespel word) gereflekteer word: (1) Die eerste fokuspunt is Yahweh en sy grootheid (met die letter "H" as verteenwoordigend van sy Naam); (2) dan verskuif die fokus na die mens (verteenwoordig deur die letter "N" – die eerste letter van Noag se naam – ook die eerste letter van "nefesh" wat beteken: "die mens met ‘n sterflike siel"); (3) dan verskuif die fokus weer terug na Yahweh as die Een wat die Alef en die Tau is – wat uiteindelik sy grootheid en sy beloftes sal laat seëvier.

As ‘n mens na hierdie eerste agt gebruike in die Skrif van die woord "hinei" kyk, en selfs nog verder in die boek Bereshiet, na die manier waarop die woord "hinei" in verband met die aartsvaders soos Avraham, Yietsgak en Yaakov gebruik word, kan jy, saam met die mense van daardie tyd, slegs in verwondering staan oor wat alles hier na vore kom:

  1. IN VERWONDERING OOR DIE MENS …

  1. IN VERWONDERING OOR DIE ALMAGTIGE …

Wat staan ons te doen wanneer ons so ‘n Elohiem leer ken en byna sprakeloos en magteloos moet toekyk hoedat Hy ons keer op keer met sy guns en sy grootheid oorweldig? Die antwoord is weer eens opgesluit in die woordjie "hinei" en ook in hierdie opsig kan ons leer by mense soos Avraham en Yaakov.

Avraham het in Bereshiet 22 in verwondering daaroor gestaan dat Yahweh hom beveel het om Yietsgak, die seun wat die sleutel gehou het in die belofte van ‘n groot nageslag, te gaan offer op ‘n berg in die land MoriYah (= "verskyning van Yah" of "Kyk, Yah"). Hoe reageer Hy as hy so te sê sprakeloos is by die aanhoor van hierdie opdrag van Yahweh? Twee keer in hierdie hoofstuk antwoord hy met die Hebreeuse woord, "hineini" , wat vertaal kan word as "Hier is ek" of, meer letterlik: "Kyk, ek …" (22:1 en 22:11).

Yaakov het dikwels drome gedroom en visioene gesien waarin hy slegs maar in verwondering kon verkeer oor die grootheid van die Een wat hom van kleins af op so ‘n wonderbaarlike manier gelei en bewaar het. Hoe het hy reageer wanneer hy so ‘n verskyning van Yahweh (= "mar’ah" - Ber 46:2) ervaar het? Twee keer word daar aan ons beskryf dat hy gereageer het met die Hebreesue woord "hineini" – Hier is ek (Ber 31:11 en Ber 46:2-4)! Ek het die voorreg gehad om U te sien en die grootheid van U handelinge. U het Uself as’t ware vir my gegee. Nou is dit my beurt om myself vir U te gee. Daarom, Hineini, Hier is ek!

Toe Y'shua voor Pilatus met ‘n doringkroon en ‘n purperkleed verskyn het, was al wat hy kon sê: "Kyk, die mens …". In Hebreeus word dit weergegee met die woorde: "Hinei haghabbér" – Amper asof hy wou uitroep: Wat maak ‘n mens uit van hierdie een? Hoe verklaar jy hom? Hy is gehul in die kleed van ‘n koning, maar die kroon op sy kop is van dorings. Dis dieselfde teenstrydigheid wat sedert die dae van Adam en Noag met ons was. Die mens beklee met oorvloed en eer en heerskappy. Maar ook die mens wat gebuk gaan onder smart omdat sonde ‘n vashouplek gekry het. Ons kan net maar in verwondering staan en kyk, en reageer deur te sê "Hier is ek", as ons ontdek wat Yahweh gedoen het om te verseker dat ek en jy nie deur sonde verswelg word en deur die toekomstige wêreldvloed meegesleur word nie.