KYK, EN GLO!

Reg deur die Skrif word die woord "Kyk" (Heb: "hinei") dikwels gebruik om die leser se aandag te vestig op ‘n waarheid of ‘n gebeurtenis wat so belangrik is, dat dit die moeite werd is om spesiale klem daarop te plaas. In baie gevalle is die funksie van hierdie woord eenvoudig om seker te maak dat die leser of die hoorder nie "verbygaan" by ‘n aspek wat vir ons verstaan van die Woord, onontbeerlik is nie.

In die Nuwe Verbond word hierdie woord, of die Griekse ekwivalent van hierdie woord, net so dikwels gebruik. Een van die boeke waar dit die meeste voorkom en waar dit veral gebruik word om aspekte uit te lig wat van die grootste belang is vir ons geloof en ons verwagting van die toekoms, is die boek Openbaring. Dis asof Johannes (wat die Openbaring neergeskryf het – na alle waarskynlikheid in Hebreeus, voordat dit later in Grieks vertaal is) die woord "hinei" gebruik om gelowiges te help om nie in allerlei slaggate te trap of afdraaipaaie te neem wat uiteindelik hulle geloof mag skade berokken nie. Die interessante is dat Johannes verkies om nie ingewikkelde argumente of indrukwekkende doktrines oor die eindtyd te formuleer nie. Nee, hy volg ‘n baie eenvoudiger en uiteindelik, ‘n meer oortuigende roete. Dertig keer in Openbaring gebruik hy bloot die Hebreeuse woord "hinei" om vir jou en my, sonder enige omslagtigheid, te sê: Kyk, en glo! Kom ons kyk na ‘n paar van hierdie plekke, EN GLO soos die Woord aandui:

  1. Openb 1:7 "Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amein!" Hierdie vers verwys na die profesie van Zeg 12:10 en Matt 24:30. Wat belangrik is om hier raak te sien is dat Openbaring, wat uit en uit bedoel is om ons vir die eindtyd voor te berei, ondubbelsinnig aandui dat "elke oog" sal sien as die Messias weer kom. Diegene wat aandring op ‘n geheime koms van die Messias en ‘n wegraping, voordat Hy later weer op die wolke kom (en elke oog Hom sal sien), kan gerus maar kennis neem van hierdie "hinei", reg aan die begin van Openbaring.
  2. Openb 1:18 "Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amein. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood." Ons moet mooi kyk en hoor wat hier gesê word. Y'shua was dood, maar het opgestaan en leef nou tot in ewigheid. En die sleutels van die doderyk en die dood is aan Hom toevertrou. Het Hy hierdie sleutels al gebruik om die doderyk oop te sluit sodat die gelowiges wat sterf, by Hom in die hemel kan wees, selfs voordat Hy weer terugkeer na die aarde? Die Skrif se antwoord is: Nee, Hy gaan hierdie sleutels eers gebruik wanneer Hy weer kom – dan sal die gelowiges uit die dood opstaan en lewe tot in ewigheid – vgl. Openb. 20:4-6; Joh 5:28-29; Joh 6:54; Hand 24:15; Rom 8:11; 1 Kor 15:23; 1 Kor 15:52; 2 Kor 4:14; 1 Tess 4:15-17; 2 Tim 2:18.
  3. Openb 3:8 en 22:12 "Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou 'n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie" en "En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees". Speel die werke wat ons doen enige rol in die loon wat ons eendag sal ontvang? Sonder enige twyfel! Niemand kan deur werke, sonder geloof gered word nie. Maar net so sal niemand deur geloof, sonder werke, gered word nie. Die merkwaardige is dat die Messias vir ons ‘n oop deur gegee het. Mense bid dikwels vir ‘n oop deur ten opsigte van die werk of die beroep wat hulle hier op aarde beoefen. Yahweh, die Almagtige, het vir jou en my ‘n oop deur gegee vir die mees belonende en bevredigende werk wat daar is – die werke van geregtigheid wat tot in ewigheid sal bly staan!
  4. Openb 3:11-12 "Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie. Wie oorwin, Ek sal hom 'n pilaar in die tempel van my Elohiem maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie." Is die slagspreuk "Eenmaal gered, altyd gered" in ooreenstemming met die Woord? Dit is, as ons die woord "red" reg verstaan. Alhoewel Y'shua reeds gekom het om diegene wat in Hom glo, op die pad van redding te plaas, is hierdie redding nog nie ‘n afgehandelde proses nie. Dit sal eers finaal by sy tweede koms voltrek word. Om die beeldspraak van Openbaring 3 te gebruik: Gelowiges in die Messias het reeds ‘n kroon ontvang, maar hulle is nog nie ‘n pilaar in die tempel van Yahweh nie. In beginsel is dit moontlik dat gelowiges nog hierdie kroon kan verloor. Daarom moet hulle vashou wat hulle het. Hulle moet sy Woord bewaar, dan sal Hy hulle ook bewaar (vers 10).
  5. Openb 3:20 "Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My." Is hierdie vers ‘n beskrywing van hoe "maklik" dit is vir ‘n ongelowige om tot geloof te kom en gemeenskap met Y'shua te ervaar? Nie heeltemal nie. Hierdie woorde word gerig aan die adres van ‘n gemeente – die gemeente van Laodisea. Hulle het aanspraak daarop gemaak dat hulle ‘n gemeente is wat "aan niks gebrek" het nie, maar in werklikheid was hulle lou en naak en arm en blind en ellendig. Hulle het op die punt gestaan om deur Y'shua uit die mond "gespuug" te word … tensy hulle bereid was om sy klop te hoor en (simbolies) die deur vir Hom oop te maak, met ander woorde, te glo op sy voorwaardes, nie hulle eie nie.
  6. Openb 7:9 "Na hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was 'n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande." Daar is heelwat onsekerheid oor die identiteit van die verskillende groepe gereddenes wat in Openbaring vermeld word (veral die 144000 van hfst. 7, die 144000 van hfst. 14 en die "groot menigte wat niemand kon tel nie" in hfst. 7). Alhoewel dit nie met sekerheid gesê kan word nie, lyk dit asof al drie hierdie groepe moontlik net verskillende beskrywings van dieselfde groep mense kan wees. Vgl. die volgende gedeeltes met mekaar: (1) 7:3; 14:1; 7:17 en 22:4 [merk op voorhoofde] (2) 7:14; 14:3-4; 5:9-10; 21:24 [losgekoop] (3) 7:14; 14:5 en 21:27 (wit klere en sonder gebrek) (4) 7:15; 14:5 en 22:3 [voor die troon van Elohiem] (5) 7:4; 14:1; 21:12 [12 stamme].
  7. Openb 21:1-5 "En ek het 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. En ek, Yahuganan, het die afgesonderde stad, die nuwe Yerushalayiem, sien neerdaal van Elohiem uit die hemel, voorberei soos 'n bruid wat vir haar man versier is. En ek het 'n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van Elohiem is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en Elohiem self sal by hulle wees as hulle Elohiem. En Elohiem sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut." Hier word ons opgeroep om daarop te let dat Yahweh, in die bedeling wat kom, alles gaan nuutmaak en dat ons kan uitsien na ‘n nuwe hemel-aarde waarin Yahweh by en tussen die mense sal woon – in die ewige stad wat Hy van die grondlegging van die wêreld vir sy uitverkorenes in gereedheid gebring het.