LEWE VOOR DIE AANGESIG VAN YAHWEH

Die uitdrukking "die aangesig van Yahweh" kom omtrent 251 keer voor in die Ou Verbond. In die Nuwe Verbond word dit ook gebruik (bv. Luk 1:76 "Jy sal voor die aangesig van Yahweh uitgaan om sy weë reguit te maak"), maar die feit dat die Nuwe Verbond vir ons in Grieks nagelaat is en die oorspronklike Hebreeuse uitdrukkings grootliks verlore geraak het, beteken dat ‘n mens nie seker kan wees oor presies waar hierdie uitdrukking oral gebruik is nie. Maar kom ons bepaal ons vir ‘n oomblik by die Ou Verbond. Die eerste keer waar ons hoor van die aangesig van Yahweh, is in die tuin van Eden, in Bereshiet / Genesis 3:8 waar daar staan: "die mens en sy vrou het hulle verberg vir die aangesig van Yahweh". Die laaste keer (Ou Verbond) is in Malági / Maleagi 3:14 waar daar staan: "Wat baat dit om in rouklere voor die aangesig van Yahweh te wandel?" Nogal interessant: Beide die eerste en die laaste verwysing na die aangesig van Yahweh, is in ‘n negatiewe konteks. Aan die begin verberg die mens hom vir die aangesig van Yahweh en aan die einde loop hy in rouklere voor die aangesig van Yahweh. Miskien is dit ‘n aanduiding daarvan dat om voor die aangesig van Yahweh te wandel, nie sommer maklik gebeur nie. Dit kom nie sommer vanself nie. Eintlik druis dit in teen die natuurlike geaardheid van die mens om voor die aangesig van Yahweh te wandel.

Wat beteken dit nou eintlik om voor die aangesig van Yahweh te wandel? "Aangesig" beteken eintlik maar "gesig" – maar hoe kan ons voor sy gesig wandel as geen mens hier op aarde nog ooit sy gesig gesien het nie? Kom ons kyk na die Hebreeuse woord wat met "aangesig" vertaal word, die woord "paniem". Die woord is ‘n meervoudsvorm, wat nie bedoel is om meer as een aan te dui nie (asof Yahweh twee of drie gesigte het nie), maar grootsheid, omvangrykheid en uitgebreidheid, net soos "Elohiem" (die titel wat meeste van die tyd vir die Allerhoogste gebruik word); shamayiem (hemel); mayiem (water); gayiem (lewe) en ragamiem (barmhartigheid). Daar is baie verskillende aspekte wat in die Woord aan die aangesig van Yahweh gekoppel word. Sy aangesig is verteenwoordigend van Homself – sy teenwoordigheid, sy guns wat Hy op ons uitstort; sy hulp en sy beskerming en sy redding, maar ook sy toorn wat ontvlam wanneer mense in ongehoorsaamheid die rug op Hom keer. Om voor sy aangesig te wandel is dus om in sy teenwoordigheid te kom – om jou in die ruimte te begewe waar Yahweh self sy krag en sy guns en sy liefde en sy invloed in jou lewe laat geld. Geen mens wat ‘n ontmoeting met Yahweh gehad het, van aangesig tot aangesig, se lewe kan ooit weer dieselfde wees nie!

Die woord "paniem" (aangesig) kom van "panah" wat basies beteken "om te draai". Jou gesig is daardie deel van jou liggaam wat jy kan draai in ‘n nuwe rigting. Die simboliese betekenis hiervan is kragtig en uiters veelseggend. Yahweh wil graag sy gesig na ons toe draai. Hy wil ons graag seën. Hy wil ontmoeting en gemeenskap met ons hê. Hy wil hê ons moet vir ‘n verandering iets van Homself en van sy kwaliteite beleef. Maar voordat dit kan gebeur moet ons eers ons gesig na Hom toe draai. Die woord "paniem" is in Hebreeus so ‘n kragtige en veeldimensionele woord dat dit dikwels gebruik word om die posisie VOOR iets of iemand aan te dui. Om tot by die aangesig van Yahweh te kom of om die gesig na Hom toe te draai, beteken om VOOR Hom te gaan staan, byna soos ons in Afrikaans sal sê: Kom staan hier VOOR my, dat ek jou van aangesig tot aangesig kan sien. Ons hemelse Vader wil egter nie net hê dat ons voor Hom sal kom staan nie, maar dat ons voor Hom sal lewe – elke dag van ons lewe en met elke greintjie van ons krag. Kom ons ondersoek die Skrif om te probeer vasstel wat dit ten diepste beteken om voor die aangesig van Yahweh te lewe – wat dit alles behels, wat dit van ons gaan vra, en wat ons kan verag dit in ons lewens sal verander.

  1. Dit begin met ‘n geloofstap – ‘n vaste keuse om jou op die weë van Yahweh te begewe. In die boek Kohelet / Prediker 2:12 skryf die Prediker: "Daarna het ek my begewe ("panah") om wysheid en onverstandigheid en dwaasheid in oënskou te neem." Om jou op hierdie pad te begewe, is geen geringe besluit nie. Dit vra waagmoed en "guts". ‘n Mens kom op ‘n punt waar jy soos Yaákov (Jakob) sê: "Ek het Elohiem gesien van aangesig tot aangesig ("paniem el paniem"), en tog is my lewe gered". Daarom het ons geloofspad ook soos Jakob s’n by Pniél begin – die plek waar ek die aangesig van Elohiem beleef het.
  2. Dit vereis dat jy moet draai, weg van die oue, in die rigting van die nuwe. "Wend ("panah") julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde" (YeshaYahu / Jesaja 45:22). "Julle het lank genoeg om hierdie berge getrek. Draai weg ("panah") na die noorde" (Devariem / Deuteronomium 2:3). "Bekeer julle en wend julle af van julle drekgode en wend julle aangesig ("paniem") af van al julle gruwels" (Yegezkel / Esegiël 14:6).
  3. Dit neem jou hele lewe in beslag. Van die vroegste tye af wou Yahweh hê dat sy volk voortdurend voor aangesig moes wees, nie net af en toe nie. Avraham het bly staan voor die aangesig ("paniem") van Yahweh – selfs toe die drie boodskappers wat met hom oor Sedom en Amorah kom praat het, weggegaan het (Bereshiet / Genesis18:22). "Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig ("paniem") van Yahweh jou Elohiem verskyn op die plek wat Hy sal uitkies" (Devariem / Deuteronomium 16:16). "So sê Yahweh … daar sal vir Yahunadav, die seun van Regav, nooit ‘n man ontbreek wat altyd voor my aangesig ("paniem") sal staan nie" (YermeYahu / Jeremia 35:19).
  4. Dit laat jou na jouself kyk soos Yahweh na jou kyk. Dit bring met ander woorde ‘n nuwe dimensie van eerlikheid, opregtheid en gestrooptheid in jou lewe na vore. "Toe Avram nege en negentig jaar oud was, het Yahweh aan Avram verskyn en vir hom gesê: Ek is El, die Almagtige; wandel voor my aangesig ("paniem"), dan sal jy opreg wees" (Bereshiet / Genesis 17:1); "Toe sê Mosheh voor die aangesig ("paniem") van Yahweh: Ek is onbesnede van lippe! Hoe sal Farao dan na my luister?" (Shemot / Exodus 6:30); "Ag, Yahweh, dink tog daaraan dat ek voor u aangesig ("paniem") in trou en met ‘n volkome hart gewandel het en gedoen het wat goed is in u oë" (YeshaYahu / Jesaja 38:3).
  5. Dit kweek in jou die hoogste agting vir Yahweh. "Koning Dawied het toe ingegaan en voor die aangesig ("paniem") van Yahweh gebly en gesê: Wie is ek, Meester Yahweh, en wat is my huis, dat U my tot hiertoe gebring het?" (2 Shemuel / 2 Samuel 7:18); "En GiezkiYah het voor die aangesig ("paniem") van Yahweh gebid en gesê: Yahweh, Elohiem van Yiesraél, wat op die gerubs troon, U alleen is die Elohiem van al die koninkryke van die aarde, U het die hemel en die aarde gemaak!" (2 Melagiem / 2 Konings 19:15). "Sou julle vir My nie bevrees wees nie, sê Yahweh, of voor my aangesig ("paniem") nie bewe nie?" (YermeYahu / Jeremia 5:22).
  6. Dit berei jou voor vir iets groters wat nog kom. "‘n Stem van een wat roep: Berei ("panah") in die woestyn die weg van Yahweh; maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse Elohiem!" (YeshaYahu / Jesaja 40:3); "En hulle sal sê: Vul op, vul op, berei ("panah") die weg, verwyder die struikelblok uit die weg van my volk" (YeshaYahu / Jesaja 57:14). "Beslis, die regverdiges sal u Naam loof, die opregtes sal voor u aangesig ("paniem") woon" (Tehielliem 140:13).
  7. Dit verander jou totale lewe en sin vir waardes. "U berei die tafel voor my aangesig ("paniem") teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van Yahweh bly in lengte van dae" (Tehielliem 23:5-6). "Hy sal seën wegdra van Yahweh en geregtigheid van die Elohiem van sy verlossing. Dit is die geslag van hulle wat na Hom vra, wat u aangesig ("paniem") soek – dit is Yaákov" (Tehielliem 24:5-6). "Van U sê my hart: Soek my aangesig ("paniem")! Ek soek u aangesig ("paniem"), o Yahweh! Verberg u aangesig ("paniem") nie vir my nie, wys u kneg nie af in toorn nie: U was my hulp! Verstoot en verlaat my nie, o Elohiem van my verlossing!" (Tehielliem 27:8-9).