KAN ‘N LUIPERD SY VLEKKE VERANDER?
In YermeYahu 13:23 staan die woorde: "Kan 'n Kushiet sy vel verander of 'n luiperd sy vlekke? Dan sal julle ook in staat wees om goed te doen, julle wat gewoond is om kwaad te doen." Hierdie vergelyking word gebruik teen die agtergrond van die "afvallige volk wat weier om na (Yahweh se) woorde te luister, wat wandel in die verharding van hulle hart en agter ander magtiges aan loop om hulle te dien en hul daarvoor neer te buig" (Yerm 13:10). Uit hulle gedrag blyk dit dat net so min as wat ‘n Kushiet (‘n Ethiopiër) sy vel kan verander of ‘n luiperd sy vlekke, net so min is die volk Yisrael in staat om goed te doen, of selfs net die keuse te maak om hulle rug te draai op dit wat verkeerd is in hulle eie lewens. Baie van ons ken ook sulke mense. Maak nie saak wat jy vir so ‘n mens sê nie, of hoeveel keer daar gepraat word oor die verkeerde in sy of haar lewe nie, daar is eenvoudig ‘n weiering, en selfs ‘n onvermoë, om af te sien van die kwaad en die goeie te omhels. Baie van ons is gefrustreerd en moedeloos omdat dit gaan oor iemand wat baie naby aan ons is en vir wie ons lief is. Ons wil so graag dat daar ‘n verandering moet kom, maar helaas, dit gebeur nie. Dan besef ‘n mens: ‘n Luiperd kan nie sommer sy vlekke verander nie.
As ons egter eerlik met onsself wil wees, sal ons moet erken: dis nie net ander mense wat worstel met hierdie weiering en skynbare onvermoë om te verander nie – ek en jy worstel ook daarmee – dis deel van elkeen van ons. Soms is ‘n mens nie eens daarvan bewus nie. Ander kere dring die besef stadig maar seker tot ‘n mens deur: Wat ‘n sekere area van my lewe betref, het ek gewoond geraak om kwaad te doen. Net soos die volk Yisrael van ouds, het ek van Yahweh afvallig geword, ja, geweier om na sy stem te luister en gewandel in die verharding van my eie hart. Ek het al probeer om te verander; ek is gefrustreerd met myself en met hierdie ding in my lewe wat nie reg is nie, maar dit voel vir my onmoontlik om te los wat verkeerd is en te gryp na wat reg is – om weer goed te doen en die vreugde van oorwinning in my lewe te smaak. Ook wat my eie lewe betref, is die spreuk waar: ‘n Luiperd verander nie sommer sy vlekke nie!
Die Skrif het vir ons ‘n kragtige boodskap in hierdie verband. Ten diepste gaan dit oor die stryd binne-in elkeen van ons tussen goed en kwaad. Adam en Gawah (Eva) het hierdie stryd geken. Dawid het hierdie stryd geken. Die volk Yisrael het hierdie stryd geken. Shaul (Paulus) het hierdie stryd geken en dit onder meer so verwoord: Die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek (Rom 7:19). Kom ons hoor wat die Skrif sê oor "die goeie" en oor hoedat die goeie in ons lewe weer die oorhand kan kry oor die neiging om die slegte en die verkeerde aan te hang. ‘n Goeie wegspringplek is om te kyk na die woord wat in Yerm 13:23 met "goed" vertaal word ("dan sal julle ook in staat wees om goed te doen"). Die Hebreeuse woord is "yatav" wat moontlik verband hou met seker die mees bekende Hebreeuse woord, "tov" wat ook "goed" of "goeie" beteken. Die basiese betekenis van "yatav" is "to be (or make) good; to be (or make) glad; to be (or make) well; to be joyful; to be pleasing".
In die Hebreeuse denke is daar nie ‘n wesenlike verskil tussen om goed te wees, om goed te voel en om goed te doen nie. As jy goed is, sal jy outomaties ook goed doen. En as jy goed doen, sal jy outomaties ook goed voel. Ons is geneig om te dink dat om goed te voel, moet iemand anders aan jou goed doen. Die Skrif se patroon is: Om waarlik goed te voel of goed te wees, of te kan sê: Dit gaan goed met my, moet ek goed doen aan iemand anders. Ons is ook geneig om te dink dat om goed teenoor iemand anders te doen, moet hy dit eers verdien – hy moet eers goed doen of goed wees teenoor my. Die Skrif se patroon is egter anders: Die motivering om goed te doen kom van binne af, van myself af, nie van buite af nie. Ek behoort nie eers gemotiveer te word om goed te doen as iemand anders aan my goed gedoen het nie. Nee, ek word gemotiveer om goed te doen omdat Yahweh aan my goed gedoen het en iets spesiaals in my hart tot stand gebring het. Dis waar wat iemand eenkeer gesê het: "Om te kan sê dit gaan goed of die lewe is lekker, moet ek ‘n goeie mens of ‘n lekker mens (vir ander) wees."
As ‘n mens na teksgedeeltes kyk soos Yerm 13:23 ("kan 'n Kushiet sy vel verander of 'n luiperd sy vlekke?" en "julle is gewoond om kwaad te doen") en Yer 4:22 ("slim is hulle om kwaad te doen, maar om goed te doen, weet hulle nie"), dan wil dit voorkom of mense nooit sal kan verander nie. As ons na ons eie lewens kyk en na die lewens van mense vir wie ons al so lank bid en by wie ons so graag verandering wil sien, dan lyk dit soms inderdaad totaal hopeloos – net soos ‘n luiperd wat die kolle op sy vel probeer verander, maar heimlik weet dat dit nie kan gebeur nie. Die Skrif is egter baie duidelik daaroor: Mense wat in ‘n patroon is om verkeerd te doen en die volle impak van hierdie verkeerdheid in hulle eie lewens ervaar – die gebrek aan vreugde, die berou, die onvervuldheid, die knaende gevoel van verlies en eensaamheid - KAN verander en weer die goeie doen, en ook die volle impak van hierdie terugkeer na die goeie in hulle lewens ervaar – die vreugde, die verligting, die tevredenheid en die "shalom" van Yahweh. Hoe gebeur dit en hoe kom ‘n mens daarby verby dat ‘n luiperd nie sy kolle kan verander nie?
In die boek YermeYahu alleen, in die hoofstukke wat volg op Yerm 13 waar die profeet dit byna kategories stel dat die volk net so min sal kan verander as wat ‘n luiperd sy kolle kan verander, is daar minstens agt plekke waar die oproep weer en weer aan die adres van die volk gerig word dat hulle tog sal terugkeer na Yahweh en weer die goeie sal doen (Yerm 18:11; Yerm 25:5; Yerm 26:3; Yerm 29:14; Yerm 31:21; Yerm 35:15; Yerm 36:3 en Yerm 42:10). Sou die Vader telkens sy hand na die volk toe uitgesteek het en hulle opgeroep het om hulle te bekeer as dit totaal onmoontlik was? Nee, natuurlik nie. Hy het geweet dat dit moontlik is. Nie omdat hulle self die kapasiteit gehad het om te verander nie. Nie omdat hulle skielik die vermoë ontwikkel het om hulle sondige geaardheid in toom te hou of te bedek nie. Nee, die Vader weet dat dit moontlik is dat mense kan verander, omdat dit moontlik is dat ‘n mens tot die besef kan kom dat hy homself nie kan verander nie, maar dat die Almagtige hom kan verander. Is dit moontlik dat ek en jy kan verander? Ja, dit is! As ons net by daardie punt kan kom waar ons sterf aan onsself en ons eie pogings om goed te wees en Yahweh toelaat om sy Gees in ons harte uit te stort om die onmoontlike in ons moontlik te maak. Om die kolle aan ons buitekant weg te was. Om die doodsbeendere weer lewend te maak. Om die duisternis in ons weer lig te maak. Om die kwaadaardige gewasse uit te sny en ons hele weefsel en wese weer goed te maak.
Die merkwaardige van die boek YermeYahu is dat daar ná Yerm 13 nie net agt plekke is waar die uitnodiging herhaal word om na Yahweh terug te keer nie. Daar is ook agt plekke waar dit uitgespel word hoe dit moontlik is dat iemand wat so ver van Yahweh af weggedwaal het, weer ‘n herstelde verhouding met Hom kan hê. Nie minder nie as agt keer word die boodskap in YermeYahu herhaal: Wanneer iemand so ver van goeddoen is soos luiperd daarvan is om sy kolle te verander, KAN daar ‘n drastiese verandering kom as Yahweh ingryp en self hierdie verandering teweegbring. Kom ons kyk na hierdie agt gedeeltes in YermeYahu.