MEER AS GENOEG BEWYSE

In die April 2007 uitgawe van "Israel Today" is daar ‘n artikel oor ‘n bekende en gerespekteerde Kabbalistiese Rabbi van Israel wat blykbaar kort voor sy dood verlede jaar ‘n kriptiese nota nagelaat het met die versoek dat dit eers ‘n jaar later oopgemaak en gelees moes word. Die nota is onlangs oopgemaak en daarin sê Rabbi Kaduri, wat oor die 100 jaar oud was toe hy gesterf het, dat die naam van die Messias aan hom geopenbaar is. Die nota sê dat die naam bepaal kan word deur die eerste letters van elke woord in die volgende sin, neer te skryf: "Yariem Ha’am Veyogiag Shedvaro Vetorato Omdiem". Die eerste letters van elke woord spel die naam "[wvwhy" wat as "Y'shua", "Yahushua" of "Yehoshua" uitgespreek kan word. As ‘n mens die kriptiese sin, as geheel, vertaal, sê dit min of meer die volgende: "Hy sal die volk ophef en bewys dat sy woord en sy torah geldig is."

In die openbare media het daar ‘n hele storm rondom hierdie onthulling losgebars. Van Joodse kant af word daar heftig beswaar gemaak, want dit kan as bewys gesien word dat die gelowige volgelinge van Y'shua van Nasaret al die tyd reg was en dat die Messias 2000 jaar gelede reeds gekom het. Kaduri se eie familie betwyfel die egtheid van die nota en sê dat Kaduri kort voor sy dood te swak was om so ‘n nota te kon skryf. Christene wêreldwyd sê dit bewys hulle was reg oor die Messias – meeste bly egter stil oor hoekom hulle Hom "Jesus" noem en nie "Y'shua" nie. En Jode wat die hoogste respek vir Rabbi Kaduri gehad het en hom as ‘n "Tsadiek" of ‘n "heilige persoon" beskou, wys daarop dat die Rabbi voor sy dood self gesê het dat hy die persoon in lewende lywe ontmoet het wat hy geglo het later as "Mashiach" openbaar sou word. Dus verwys die kriptiese naam na ‘n ander "Yehoshua" as die een wat 2000 jaar gelede op aarde was.

Die hele polemiek rondom Kaduri se nota bring ons opnuut te staan voor die realiteit dat die oorgrote meerderheid van die Yehudiem (Jode) reg oor die wêreld vandag nog weier om Y'shua van Nasaret as Messias te aanvaar, of net eenvoudig nie kan insien en glo dat Een uit die huis van ‘n eenvoudige timmerman aan die profiel van die Mashiach kan voldoen nie. Eintlik is dit verstommend, in die lig daarvan dat daar meer as ‘n honderd Messiaanse profesieë is wat letterlik met die lewe en werk van Y'shua van Nasaret in vervulling gegaan het. ‘n Mens dink hier, om maar net ‘n paar voorbeelde te noem, aan die profesieë dat Hy uit die huis van Dawied sou wees (o.m. Yermeyahu 23:5); dat Hy in Betlegem gebore sou word (Migayah 5:2); dat Hy Satan se kop sou vermorsel en deur Satan in die hakskeen gebyt sou word (Bereshiet 3:15); dat Hy aan armes reg sou laat geskied (Yeshayahu 11:4); dat Hy die geknakte riet nie sou verbreek nie (Yeshayahu 42:3); dat Hy die vermoeides sou verkwik met sy woorde (Yeshayahu 50:4); dat Hy vrylating vir die gevangenes sou bring (Yeshayahu 61:1); dat Hy nederig sou wees en selfs op ‘n esel sou ry (Zegaryah 9:9); dat Hy aan nasies reg sou laat geskied (Yeshayahu 42:1); dat Hy deur Yahweh self as sy geliefde Seun bekendgestel sou word (Tehielliem 2:7); dat Hy verag en deur mense verlaat sou word (Yeshayahu 53:3); dat Hy ter wille van ons oortredinge deurboor sou word (Yeshayahu 53:5); dat Hy sou uitroep, "My El, my El, waarom het U my verlaat" (Tehielliem 22:1) en dat sy siel nie aan die doderyk oorgegee sou word nie (Tehielliem 16:10).

Die Yehudiem se onvermoë om Y'shua van Nasaret as Messias te erken, is nog meer verstommend, as ‘n mens in ag neem dat daar in sekere van hulle eie geskrifte gesê word dat die "Mashiach" eers aan Israel geopenbaar gaan word, dan vir ‘n tyd lank verberg gaan word, en uiteindelik weer geopenbaar gaan word. Hierdie interpretasie berus op Bemiedbar (Numerie) 11 waarin daar staan dat Yahweh se toorn teenoor sy volk ontvlam het en daar letterlik ‘n vuur in hulle midde losgebreek het. Nadat Mosheh vir hulle ingetree het, het die vuur doodgegaan. Kort daarna, so lees ons in Bemiedbar 11:10 het die toorn van Yahweh weer "oorvloediglik oor hulle ontvlam". Hierdie vuur (of toorn van die Almagtige) wat uitgebreek het, daarna geblus is en toe weer uitgebreek het, so verklaar die Yehudiem hierdie gedeelte, is ‘n aanduiding van hoe die openbaring van die Messias sal wees. ‘n Mens wonder waarom die meerderheid Yehudiem nie kan insien dat dit is wat met Y'shua van Nasaret gebeur het en nog sal gebeur nie.

Net soos daar oorvloedige en oortuigende bewyse is dat die opstanding van Y'shua uit die dode werklik gebeur het en die ruggraat van ons geloof is, is daar oorvloedige en oortuigende bewyse dat Y'shua van Nasaret die verwagte Messias is wat eers op aarde gebore sou word, daarna vir ‘n tyd lank sy plek aan die regterhand van sy Vader sou gaan inneem, om uiteindelik weer terug te kom aarde toe sodat Hy die koninkryk van Yahweh ten volle kan laat realiseer. Behalwe die vervulde profesieë wat reeds hierbo aangedui is, is daar verdere onomstootlike bewyse wat hierdie waarheid bevestig.

  1. Die bewys van Y'shua, die opvolger van Mosheh. Shemot 23:20-23 "Kyk, Ek stuur 'n Boodskapper voor jou uit om jou op die pad te bewaar en om jou na die plek te bring wat Ek gereedgemaak het. Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie rebels teen Hom nie; want Hy sal julle oortreding nie vergewe nie, want my Naam is in Hom. Maar as jy terdeë na sy stem luister en alles doen wat Ek sal sê, sal Ek die vyand van jou vyande en die teëstander van jou teëstanders wees. Want my Boodskapper sal voor jou uit gaan en jou bring na die Amoriete en Getiete en Periziete en Kenaániete, Gewiete en Yevusiete; en Ek sal hulle vernietig."
  2. Die bewys van Y'shua, die Hoëpriester. Zegaryah 6:11-12 "Maak 'n kroon en sit dit op die hoof van Yahushua, die seun van Yahutsadak, die hoëpriester, en sê vir hom dit: So sê Yahweh van die leërskare: Kyk, 'n Man wie se Naam is Spruit, en Hy sal uit sy plek uitspruit, en Hy sal die tempel van Yahweh bou."
  3. Die bewys van Y'shua, die Spruit afkomstig van Nasaret. YeshaYahu 11:1-2 "Maar daar sal 'n takkie uitspruit uit die stomp van Yishai, en 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra; en op Hom sal die Gees van Yahweh rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van Yahweh." (Die woord "Nasaret" is afgelei van die Hebreeuse woord vir "loot" of "spruit")
  4. Die bewys van Y'shua, die Seun van Elohiem, heel eerste herken deur Satan en sy demone. Matt 4:3; 4:6; 8:29 En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van Elohiem is, sê dat hierdie klippe brode word … As U die Seun van Elohiem is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy boodskappers bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen 'n klip stamp nie … En meteens skreeu hulle en sê: Wat het ons met U te doen, Y'shua, Seun van Elohiem? Het U hier gekom om ons voor die tyd te pynig?
  5. Die bewys van Y'shua in die hart van die aarde. Matt 12:39-40 "Maar Hy antwoord en sê vir hulle: 'n Slegte en owerspelige geslag soek na 'n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Yonah. Want soos Yonah drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees."
  6. Die bewys van Y'shua, die eintlike Seun van die Vader. Matt 27:17 "Nadat hulle dan byeengekom het, sê Pilatus vir hulle: Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat: Bar-Abba, of Y'shua wat genoem word die Messias?" ("Bar-Abba" beteken "Seun van die vader").
  7. Die bewys van Y'shua, die Een wat kom in die Naam van Yahweh. Markus 11:9 "En die wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hoshia-na! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van Yahweh!" (Y'shua se Naam bevat letterlik die Naam van die Vader).