MENSE (MAN) VAN ELOHIEM

Die benaming "man van Elohiem" of "mens van Elohiem" word in die Skrif dikwels gebruik om na mense te verwys wie se lewens daarop ingestel was om Yahweh te dien en te volg, na sy stem te luister en sy Woord aan andere bekend te maak. In baie gevalle verwys dit spesifiek na ‘n profeet – iemand wat geroep is om "vir" of "namens" Yahweh te spreek, of soms ook namens ander mense, vóór Yahweh te spreek. Só kom dit na vore by die eerste plek waar daar van ‘n profeet in die Skrif gepraat word, Bereshiet (Genesis) 20:7. Dit is wat die woord "profeet" letterlik beteken – om vir, namens of voor (iemand) te spreek. Mense wat nie spesifiek as profete bekendstaan nie, word egter ook soms as "mense van Elohiem" bestempel en in die Na-Messiaanse Skrifte word gelowiges opgeroep om waarlik mense van Elohiem te wees. In die Skrif word Mosheh, Dawied, EliYah, Elisha, Yahuganan en Timoteus onder meer mense van Elohiem genoem. Die oproep van die Skrif, in sy geheel, is dat hulle wat begeer om Yahweh te behaag, waarlik mense van Elohiem sal wees in dié sin dat hulle sy karakter sal weerspieël, in sy weë sal wandel, en sy wil sal volbring.

  1. Mense van Elohiem se vernaamste nalatenskap is om instrumente en draers van Yahweh se seën te wees. Devariem (Deuteronomium) 33:1. En dit is die seën waarmee Mosheh, die man van Elohiem, die kinders van Yiesraél geseën het voor sy dood.
  2. Mense van Elohiem is nie bereid om, ter wille van materiële gewin, gehoorsaamheid aan Yahweh te verruil vir gedienstigheid aan mense nie. 1 Melagiem (1 Konings) 13:8. Maar die man van Elohiem sê vir die koning: Al gee u my die helfte van u huis, ek kan nie met u saamgaan nie, en ek kan geen brood eet of water drink in hierdie plek nie.
  3. Mense van Elohiem is mense van integriteit, in wie se monde die Woord van Yahweh waarheid is. 1 Melagiem (1 Konings) 17:24. En die vrou sê vir EliYah: Nou weet ek dit dat u ‘n man van Elohiem is en dat die woord van Yahweh in u mond waarheid is.
  4. Mense van Elohiem is ingestel op die nood van ander en is nie te hoogmoedig om te erken dat daar dinge is wat hulle nie weet nie. 2 Melagiem (2 Konings) 4:27. Maar toe sy by die man van Elohiem op die berg kom, het sy sy voete gegryp. En Ghegazi het aangekom om haar weg te stoot; maar die man van Elohiem sê: Laat haar staan, want haar siel is bitter bedroef in haar, en Yahweh het dit vir my verberg en my dit nie meegedeel nie.
  5. Mense van Elohiem se optrede is daarop gemik om ander mense te laat besef dat daar geen Elohiem op die aarde is nie, behalwe die Elohiem van Yiesraél. 2 Melagiem (2 Konings) 5:15. Toe draai hy om na die man van Elohiem, hy en sy hele gevolg, en hy het ingekom en voor hom gaan staan en gesê: Kyk, nou weet ek dat daar geen Elohiem op die hele aarde is nie, behalwe in Yiesraél.
  6.  

  7. Mense van Elohiem is mense wat werklik bedroef is oor sonde en ongeregtigheid en oor die manier waarop daar van Yahweh en sy gebod afgewyk word in hierdie wêreld. 2 Melagiem 8:11-12. En hy het sy gesig strak na hom gerig totdat hy verleë was; en die man van Elohiem het geween. Toe sê Gazaél: Waarom ween my meester? En hy antwoord: Omdat ek weet watter kwaad jy die kinders van Yiesraél sal aandoen; jy sal hulle vestings aan die brand steek en hulle jongmanne met die swaard ombring en hulle jong kinders verpletter en hulle swanger vroue oopsny.
  8. Mense van Elohiem is mense wat kwaad word wanneer Yahweh se eer op die spel is of wanneer daar in die hand van die Vyand gespeel word. 2 Melagiem (2 Konings) 13:18-19. Verder sê hy: Neem die pyle. En hy het dit geneem. Toe sê hy vir die koning van Yiesraél: Slaan teen die grond! En hy het drie maal geslaan en opgehou. Daarop word die man van Elohiem baie kwaad vir hom en sê: Jy moes vyf of ses maal geslaan het; dan sou jy die Arameërs volkome verslaan het; maar nou sal jy die Arameërs drie maal verslaan.
  9. Mense van Elohiem is mense wat van die lig getuig, sonder om voor te gee dat hulle self die lig is. Yahuganan (Johannes) 1:6-8. Daar was 'n man van Elohiem gestuur, wie se naam Yahuganan was. Hy het tot 'n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo. Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.
  10. Mense van Elohiem is nie net passiewe gelowiges nie – hulle vlug weg van ongeregtigheid, beywer hulle vir geregtigheid, stry die stryd van die geloof en gryp na die ewige lewe. 1 Timoteus 6:11-12. Maar jy, man van Elohiem, vlug van hierdie dinge weg, en jaag na die geregtigheid, ware toewyding, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.
  11. Mense van Elohiem is volkome toegerus vir elke goeie werk omdat hulle die hele Skrif gebruik as bron van lering, weerlegging, teregwysing en onderwysing in geregtigheid. 2 Timoteus 3:14-17. Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die afgesonderde Skrifte ken wat jou wys kan maak tot verlossing deur die geloof in die Messias Y'shua. Die hele Skrif is deur Elohiem ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van Elohiem volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.