So sê Yahweh: In die tyd van die welbehae … gee (Ek) U as ‘n verbond van die volk, om die land weer op te rig ("to restore the earth"), om verwoeste erfenisse te laat beërwe; om te sê aan die gevangenes: Gaan uit! aan hulle wat in duisternis is: Kom te voorskyn! (soos iemand wat vir die eerste keer ontdek wat dit beteken om werklik te lewe)By die paaie sal hulle wei, en op al die kaal heuwels sal hulle weiveld wees. Hulle sal geen honger en geen dors hê nie, en die woestyngloed en die son sal hulle nie steek nie; want hulle Ontfermer sal hulle lei en hulle saggies aanbring na die fonteine van water. En Ek sal al my berge tot ‘n weg maak (so anders as ons, wat geneig is om berge van molshope te maak) , en my grootpaaie sal opgevul wees. Kyk, hulle hier kom van ver, en kyk, hulle daar kom van die noorde en van die weste, en hulle daar kom uit die land van die Siniete.
Yesh 59:21
Wat My aangaan, dit is my verbond met hulle, sê Yahweh: My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en uit die mond van die kroos van jou kroos, sê Yahweh, van nou af tot in ewigheid nie (Yahweh plaas sy Gees / lewensasem en sy woorde in ons mond sodat ons sy verbond so intens en intiem as moontlik kan beleef).
Yesh 61:7-11
In plaas van julle skande ontvang julle ‘n dubbele deel; en in plaas van die oneer sal hulle jubel oor hul deel. Daarom sal hulle in hul land ‘n dubbele deel in besit neem, ewige vreugde geniet. Want Ek, Yahweh, het die reg lief; Ek haat die roof met onreg, en Ek sal hulle getrou hul loon gee en ‘n ewige verbond met hulle sluit. En hulle nageslag sal bekend word onder die nasies en hulle nakomelinge onder die volke; almal wat hulle sien, sal hulle daarvoor aansien dat hulle ‘n geslag is wat Yahweh geseën het (dit kan nie anders nie: die nuwe verbond móét ‘n verskil maak). Ek is baie bly in Yahweh, my siel juig in my Elohiem; want Hy het my beklee met die klere van verlossing, my in die mantel van geregtigheid gewikkel (is daar iets wat méér blydskap as dit kan bring?) - soos ‘n bruidegom wat priesterlik die hoofversiersel ombind, en soos ‘n bruid wat haar versier met haar juwele. Want soos die aarde sy plante voortbring, en soos ‘n tuin sy gewasse laat uitspruit, so sal die Meester Yahweh geregtigheid en lof laat uitspruit voor die oog van al die nasies.
Yerm 31:31-34
Kyk, daar kom dae, sê Yahweh, dat Ek met die huis van Yiesraél en die huis van Yehudah ‘n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op daardie dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Mietsrayiem uit te lei nie—my verbond wat hulle verbreek het, alhoewel Ek gebieder oor hulle was, sê Yahweh. Maar dit is die verbond wat Ek na daardie dae met die huis van Yiesraél sal sluit, sê Yahweh: Ek gee my wet in hulle binneste en skryf dit op hulle hart (die gevolg daarvan dat sy Gees en sy woorde in ons mond gelê is); en Ek sal vir hulle ‘n Elohiem wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken Yahweh; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, sê Yahweh; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie (sonder vergifnis deur die bloed van die Lam is niks hiervan moontlik nie).
Yerm 32:38-42
En hulle sal vir My ‘n volk wees, en Ek sal vir hulle ‘n Elohiem wees (dis wat Yahweh ten diepste vir sy mense begeer – ‘n verhouding met wedersydse implikasies). En Ek sal hulle een hart en een weg gee om My altyd te vrees (geen verdeeldheid, weens die feit dat almal Hom werklik vrees) , hulle ten goede en hulle kinders na hulle. En Ek sal ‘n ewige verbond met hulle sluit, dat Ek My van hulle nie sal afwend om aan hulle goed te doen nie; en Ek sal my vrees in hulle hart gee (dis hoekom daar nie verdeeldheid kan uitspruit nie), sodat hulle van My nie afwyk nie. En Ek sal My oor hulle verheug om aan hulle goed te doen; en Ek sal hulle duursaam in hierdie land plant, met my hele hart en met my hele siel (dus kan ons nie anders as om Hom met hart en siel lief te hê nie). Want so sê Yahweh: Soos Ek oor hierdie volk gebring het al hierdie groot ellendes, so bring Ek oor hulle al die goeie wat Ek oor hulle praat.
Yegez 36:24-27
En Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee (niks hiervan is moontlik as dit nie was vir sy guns en sy voorsiening nie). En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.
Yegez 37:22-26
En Ek sal hulle een volk maak in die land, op die berge van Yiesraél; en een Koning sal vir hulle almal koning wees; en hulle sal nie meer twee nasies wees nie en verder nie meer in twee koninkryke verdeeld wees nie (die verlore skape van die huis van Yisrael word ingebring – die wilde olyfboomtakke word ingeënt). En hulle sal hul nie meer verontreinig met hulle drekgode en hulle verfoeisels en met al hulle oortredinge nie; en Ek sal hulle verlos uit al hulle woonplekke waarin hulle gesondig het, en sal hulle reinig. So sal hulle dan vir my ‘n volk wees, en Ek vir hulle ‘n Elohiem wees (nou is daar geen verskil tussen oorspronklike en ingeënte takke nie). En my kneg Dawied sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel. En hulle sal woon in die land wat Ek aan my kneg Yaákov gegee het, waar julle vaders in gewoon het; ja, hulle sal daarin woon, hulle kinders en hulle kleinkinders tot in ewigheid; en my kneg Dawied sal hulle vors wees vir ewig. En Ek sal ‘n verbond van vrede met hulle sluit, dit sal ‘n ewige verbond met hulle wees; en Ek sal hulle daar bring en hulle vermenigvuldig; en Ek sal my afgesonderde plek (toekomstige tempel?) in hulle midde vestig vir ewig.
Yegez 39:25-29
Daarom, so sê die Meester Yahweh: Nou sal Ek die lot van Yaákov verander en My ontferm oor die hele huis van Yiesraél en ywer vir my afgesonderde Naam (binne die konteks van die nuwe verbond speel die afgesonderde Naam van Yahweh ‘n belangrike rol). En hulle sal hul oneer vergeet en al hul ontrou wat hulle teen My begaan het, as hulle in hul land veilig woon en daar niemand is wat hulle verskrik nie. As Ek hulle terugbring uit die volke en hulle versamel uit die lande van hulle vyande, sal Ek My in hulle as die Afgesonderde laat ken voor die oë van baie nasies. En hulle sal weet dat Ek, Yahweh, hulle Elohiem is, daaraan dat Ek hulle in ballingskap laat gaan het na die nasies, maar hulle weer versamel het in hulle land (slegs Hy kan van so ‘n groot minus weer ‘n plus maak) en daar niemand meer uit hulle agter laat bly het nie. En Ek sal my aangesig nie meer vir hulle verberg nie (wat ‘n eer om die vooruitsig te hê dat die Almagtige vir ons sy aangesig sal laat sien), omdat Ek my Gees oor die huis van Yiesraél uitgegiet het, sê die Meester Yahweh.