MY BESTE VIR YAHWEH

Pesag en Ongesuurde Brode is die fees wat ons daaraan herinner dat Yahweh nie wou toelaat dat sy volk in slawerny vasgevang bly nie en daarom voorsiening gemaak het dat hulle kon wegtrek uit die land van Mitsrayiem (Egipte). Die woord Mitsrayiem is afgelei van die woord "matsor" wat op sy beurt weer afgelei is van "tsur" en die grondliggende betekenis van al drie hierdie begrippe is: "to cramp, to confine, to distress, to bind, to limit". Yahweh het iets beters vir sy volk in gedagte gehad as dat hulle in ‘n land en in ‘n situasie sou bly waar hulle permanent ingeperk en verdruk word. Sy plan vir hulle was dat hulle sou "oorgaan" ("passover" – "pasag", waarvan "pesag" afgelei is) van Egipte na die Beloofde Land wat oorloop van melk en heuning. Selfs die naam van hierdie volk, die "Hebreërs", dui daarop dat dit van die begin af die bedoeling van Yahweh was dat hulle ‘n "pesag"-volk sou wees – ‘n volk wat nie vergaan in ‘n situasie van hopeloosheid en uitsigloosheid nie, maar ‘n volk wat bereid is om oor te gaan op die nuwe pad wat Yahweh self vir hulle sou aanwys. Die woord "Hebreër" is afgelei van die woorde "ever" en "avar" en hierdie begrip het die wonderlike betekenis van "to cross over; to come over, to pass through; to go to the opposite side". Dit beskryf een honderd persent wat Avraham moes doen toe hy nog in die land van die Chaldeërs (Babilonië) was, en wat Mosheh saam met die volk moes doen toe hulle nog in Mitsrayiem (Egipte) was, en wat Yahushua (die opvolger van Mosheh) saam die volk moes doen toe hulle by die Jordaanrivier gekom het. En dit is wat ek en jy ook moet doen as ons tot die besef kom dat ons ons op ‘n weg bevind wat nie in lyn en in pas is met die weg wat Yahweh van die begin af aangedui het nie.

Wat is die metode wat Yahweh gebruik het om te verseker dat dit vir Yisrael moontlik sou wees om van Mitsrayiem na die Beloofde Land oor te gaan (d.w.s. te "pasag")? Eers het Hy al die eersgeborenes van die mense en diere van Mitsrayiem in een nag met die dood getref. En daardie selfde nag het Hy by al die gesinne van Yisrael wat hulle huise se deure met die bloed van ‘n lam bestryk het, verbygegaan (ge"pasag") en die eersgeborenes gespaar. Dit was asof al die fokus met dié besondere nag (en die fees wat hieruit gebore is) op die eersgeborenes geval het en ‘n mens sou nie verkwalik kon word as jy die Fees van Pesag as die Fees van die Eersgeborenes beskryf nie. Waarom is daar met hierdie fees soveel klem op die eersgeborenes geplaas? Ek kan aan twee redes dink. In die eerste plek sê die Skrif vir ons dat Yisrael self die "eersgebore seun" van Yahweh was (Shemot 4:22). Yahweh het sy eersgebore seun lief en sal alles doen wat nodig om te verseker dat hierdie seun se bestemde erfdeel ontvang. In die tweede plek is Pesag die fees wat meer as al die ander feeste demonstreer dat daar ‘n tyd in die geskiedenis van die mensdom sou aanbreek wanneer Yahweh sy eersgebore en eniggebore Seun na hierdie wêreld sou stuur. Hierdie Seun sou as Pesaglam ook "geslag" word en sy bloed, net soos die bloed van die Pesaglammers in Mitsrayiem, sou die sleutel sou wees waardeur daar vergifnis (of: pesag) sou kom vir die volle Yisrael, die simboliese eersgeborene van Yahweh. Dit is waarom Pesag die fees van die Eersgeborenes is.

Die konsep van die eersgeborenes is in die oë van die Vader so belangrik dat Hy dit in ‘n sekere sin ingeweef het en volledig deel gemaak het van die voorskrifte rakende die feeste en die offers van Yisrael. Dit kan gesien word in die talle verwysings in die Skrif, nie net na eersgeborenes nie, maar ook nie eerstelinge ("firstfruits"). ‘n Eersteling het in baie opsigte dieselfde betekenis as ‘n eersgeborene gehad – albei was verteenwoordigend van die eerste en die beste uit alles wat iemand sou besit en albei moes as offer aan Yahweh toegewy word. Deel van die Fees van Ongesuurde Brode (waarvan Pesag die voorbereidingsdag was) was dat daar op die dag na die Shabbat wat in hierdie sewe dae periode val, ‘n eersteling van die garsoes voor die aangesig van Yahweh gewuif moes word. Tydens hierdie fees was daar ook ‘n geleentheid waar ander soort eerstelinge ook gebring kon word – eerstelinge van diere, maar ook eerstelinge van vrugte. Ook eerstelinge van geld, want die eersgeborenes van sekere soort diere en ook die eersgeborenes van mense moes losgekoop word. Dit beteken daar moes geld in die plek van hierdie eersgeborenes na die plek van samekoms gebring word. Vir my lyk dit asof dit tydens dieselfde geleentheid was, m.a.w. wanneer almal saamgekom het op die dag na die Shabbat vir die beweegoffer en die eerstelinggerf. Niemand moes met leë hande voor Yahweh verskyn nie.

Daar is ‘n treffende beskrywing in Devariem (Deuteronomium) 26:1-11 oor hoe en waarom ‘n eersteling aan Yahweh gebring moet word. Die diepste motivering waarom eerstelinge aan Yahweh gebring moes word, is die feit dat Yahweh aan sy volk ‘n erfenis gegee het (vers 1); dat Hy absoluut getrou was (dit wat Hy met ‘n eed belowe het, het Hy gedoen – vers 3); dat Hy sy volk aangehoor het toe hulle geroep het (vers 7); dat Hy hulle aangesien het in hulle ellende en moeite en verdrukking (vers 7); dat Hy hulle uit Mitsrayiem uitgelei het met ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm (vers 8); dat Hy groot en ontsagwekkende dade – ja selfs tekens en wonders in hulle midde gedoen het (vers 8) en dat Hy hulle ‘n land gegee het wat oorloop van melk en heuning (vers 9). Sewe kragtige redes waarom ek en jy vandag nog ook ons eerstelinge aan Yahweh moet bring …

‘n Interessante deel van die verklaring wat die persoon moes maak wat sy eersteling bring, word beskryf in vers 6: "Dan moet jy voor die aangesig van Yahweh jou Elohiem verklaar en sê: My vader was ‘n swerwende Arameër en het na Mitsrayiem (Egipte) afgetrek en daar as vreemdeling vertoef met min mense; maar hy het daar ‘n groot, magtige en talryke nasie geword." Dit lyk asof hierdie vers ‘n verwysing is na Yakov (Jakob) en sy lang (en dikwels frustrerende) verbintenis met sy oom Laban in die land van die Arameërs. Op een ná (Benyamien), is al die seuns van Yakov gebore toe hy vir ‘n periode van 20 jaar saam met sy oom in die land van die Arameërs gewoon het. In ons eie verklaring voor Yahweh sal meeste van ons ook moet bely: ons vaders was swerwende Arameërs wat net nie so ver kon kom om die waarheid van Yahweh se woord vir hulleself toe te eien nie. Miskien sal ons selfs saam met die profeet YermeYahu moet erken: Net leuens het ons van ons vaders geërf (Yerm 16:19). Maar danksy die guns en die bonatuurlike ingryping van Yahweh, het Hy my ingebring sodat ek deel kon word van ‘n magtige en talryke nasie wat nog nie in sy totaliteit gesien kan word nie, maar wat op die groot dag van die Messias se koms geopenbaar sal word.

Elkeen van ons kan ons eie unieke verhaal en getuienis vertel van hoe dit gebeur het dat Yahweh ons ingebring het om ‘n deel te kan kry van die Beloofde Land en die erfporsie wat daarmee gepaardgaan. Maar niemand van ons kan die Messias uit hierdie getuienis weglaat nie. As dit nie vir sy dood en sy opstanding was nie, sou ons nie vandag hier gewees het om ons eerstelinge te bring nie. Ons het gisteraand tydens ons Pesagbyeenkoms veral nagedink oor die betekenis van sy dood. Laat ons nie die betekenis van sy opstanding vergeet nie. Hy was die eersteling wat uit die dood opgestaan het. Een van die wonderlikste betekenisse van die woord "eersteling" is dat jy seker kan wees dis nie die "enigste" nie – nie as dit gaan oor die eersteling van die oes nie. Dit is moontlik dat ‘n Eersgeborene ook die enigste kan wees. Maar dit is nie moontlik dat ‘n eersteling wat uit die oes geneem is, die enigste kan wees nie. Jy kan seker wees: daar is nog baie waar hierdie eersteling vandaan kom. Dit is wat Y'shua se opstanding veral vir jou en my beteken: Hy was die eerste van nog baie wat ook gaan opstaan. En dis vir ons seker die grootste rede om vandag met groot vreugde ons eerstelinge vir Yahweh te bring.

Daar is nog ‘n laaste vraag wat dikwels in hierdie verband gevra word. Hoe groot moet my eersteling wees? Hoeveel moet ek vir Yahweh gee by hierdie spesiale geleentheid? Ek wens ek kon die Skrif aanhaal en vir jou sê jy moet so of so ‘n bedrag gee, of jy moet so of so ‘n persentasie van jou inkomste gee. Dis egter die een plek waar die Skrif nie ‘n voorskrif gee nie. Dis nie dieselfde as my tiende nie en ek behoort ook nie van my tiende af te knyp en die geld in ‘n koevertjie plaas en op die koevertjie skryf "Eersteling" nie. Watter soort eersteling sou dit dan wees? Die Skrif sê net dit moet ‘n "eersteling" wees en die woord wat gewoonlik gebruik word is "reshiet", afgelei van "rosh" wat beteken "the head; the principle; the excellent; the foremost; the choicest". Die Jode het geglo as jy na jou vrugtebome gaan en sien die eerste vrugte aan die boom, dan kies jy ‘n aantal van die grootste, die sappigste en waardevolste van dit wat aan daardie boom is, en pluk dit en neem dit as eersteling vir Yahweh. Hoeveel? Soveel, dat dit genoegsaam uitdrukking gee aan jou dankbaarheid en vreugde oor dit wat Yahweh vir jou gedoen het. Soveel, dat dit jou geloof en jou oortuiging weerspieël dat jou voorspoed en jou seën nie afhang van hoeveel jy vir jouself gaan oorhou nie, maar van Yahweh wat sy hand oorhou – oor jou en jou huis en jou besittings - en dit nie van jou onttrek nie.