MY GEES IN JULLE BINNESTE

Ek kry die afgelope week ‘n e-pos van iemand wat skepties is oor wat ons glo en ‘n paar vrae vra – onder andere:

1. Waarom is Die Bybel in twee dele verdeel OT en NT ?

2. Hoekom kom julle net sekere OT (Moses) wette na ?

3. Waarom wil jy die wet onderhou, die sabbat ens ?

4. Wat is die verskil tussen wet en genade ?

Ek het ‘n e-pos teruggestuur en probeer verduidelik hoe ons die Skrif verstaan en hoe ek meen ‘n mens nie die Skrif moet verstaan nie; waar die benaminge "Ou Testament" en "Nuwe Testament" vandaan kom; hoe chaoties die regerings van hierdie wêreld sou wees as ons dieselfde beginsel op regeringswette sou toepas as wat baie mense op Yahweh se wette toepas (m.a.w. as sekere wette van die verlede as gevolg van verstaanbare redes nie meer geldig is nie, dan het die burgers van ‘n land die reg om ‘n streep deur al die ander wette van daardie land te trek) … en toe kom ek by die vraag: Waarom wil jy die wet onderhou?

Waarom wil ek en jy die wet onderhou? Wat sou ons besiel om die wet van Yahweh te onderhou? Watter mens wat vandag by sy volle verstand is, sou so iets wou doen? Ek weet ek word nou ‘n bietjie weggevoer en ek weet sarkasme bring mens nêrens nie, maar ek moes my tot ‘n groot mate inhou toe ek hierdie vraag sien. Uiteindelik het ek die vraag so goed beantwoord as wat ek kon (sonder om sarkasties of neerhalend te wees) – of my e-pos vriend dit sou verstaan, weet ek nie. Ek kon uiteindelik maar net die gebed uitspreek dat Yahweh se Gees iets hiervan vir hom verstaanbaar sou maak.

Kom ons maak dit egter weer ‘n slag vir onsself uit: Waarom wil ons die wet of die Torah onderhou? Kom ons draai die vraag om: Waarom wil baie mense dit nie onderhou nie? Ons ken meeste van die antwoorde op hierdie vraag:

  1. Omdat hulle ‘n baie negatiewe konnotasie aan die woord "wet" heg
  1. Omdat hulle meen dat die wet net vir die Jode gegee is
  2. Omdat hulle meen dat Y'shua die wet afgeskaf het
  3. Omdat hulle geluide oor die wet by Shaul (Paulus) hoor wat vir hulle baie negatief klink

Onderliggend aan baie van hierdie wanopvattings oor die wet, lê die oortuiging dat daar ‘n radikale breuk tussen Ou Verbond en Nuwe Verbond (of tussen OT en NT) bestaan. Ek het die afgelope twee maande ‘n paar uitstekende boeke gelees oor die politieke en godsdienstige klimaat rondom die tyd toe die Messias op aarde gelewe het; oor bevindinge van die ontdekking en die vertaling van die Dooie See Rolle en oor die geskiedenis van die eerste 500 jaar na die geboorte van die Messias en watter faktore ‘n rol gespeel in wat vandag algemeen beskou word as die totstandkoming van die Christelike Kerk (ongeveer 400 jaar na Messias) en die getuienis van al hierdie dokumente is eenstemmig:

  1. Die vroeë gelowiges in die Messias het nie so ‘n onderskeid tussen OT en NT geken nie.
  2. Almal van hulle was ywerige onderhouers van die wet en het die OT as bindend beskou
  3. Niemand van hulle het ooit na sekere dele van die Skrif verwys as "net vir die Jode" nie.
  4. Almal van hulle het die koms van die Messias verstaan as bevestiging van die geldigheid van die Skrif (OT)

Daar is talle gedeeltes in die Skrif wat aangehaal kan word as bevestiging daarvan dat hierdie vroeë gelowiges in die Messias se verstaan van die Skrif suiwer en reg was en dat dit op daardie vroeë stadium nog nie besoedel was deur allerlei valse idees wat later in die kerk posgevat het nie. Een so ‘n gedeelte is Yegezkel (Esegiël) hoofstuk 36. Baie treffend in hierdie hoofstuk is die gedeeltes van vers 23 tot 29 waar Yahweh ‘n lysie maak van die dinge wat Hy self, as deel van die Nuwe Verbond, sal doen. Alhoewel hierdie hoofstuk nie pertinent na die nuwe verbond verwys nie, is dit duidelik dat hier oor die nuwe verbond gepraat word en in die breër konteks lê Yegezkel 36 ingebed tussen Yegezkel 34:25 en Yegezkel 37:26 waar Yahweh elke keer hierdie presiese woorde gebruik: "En Ek sal 'n verbond van vrede met hulle sluit" en dit pertinent koppel aan die ewige verbond wat Hy in die toekoms met sy volk sal aangaan. Kom ons kyk na hierdie lysie van dinge wat Yahweh gesê het Hy sal doen:

  1. Ek sal my grote Naam afsonder wat onder die nasies ontwy is (vers 23)
  2. Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom (vers 24)
  3. Ek sal skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word (vers 25)
  4. Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee (vers 26)
  5. Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen (vers 27)
  6. Ek sal vir julle ‘n Elohiem wees en julle sal vir my ‘n volk wees (vers 28)
  7. Ek sal julle verlos van al jul onreinhede (vers 29)

 

Hierdie laaste "Ek sal …" was vir my ‘n aanknopingspunt om die vierde vraag te beantwoord wat my e-pos vriend gevra het: Wat is die verskil tussen wet en genade? Daar is natuurlik ‘n groot verskil tussen wet en genade. Baie mense sit met die idee dat redding eers uit die wet was en dat dit nou uit genade is. Niks is verder van die waarheid as dit nie. Dis soos om ‘n appel met ‘n waatlemoen te vervang en dan te sê dis dieselfde ding – die waatlemoen is net groter en beter as die appel. Die Skrif gaan oor baie meer as om net kitsreseppies vir redding bekend te maak. Die wet was nooit gegee sodat Israel hulle redding daardeur kon verdien nie. Yahweh se bemoeienis met Yisrael, en ook met ons, is uit onverdiende guns. Sy wet, of meer korrek sy Torah, is net ‘n verdere verlengstuk van hierdie onverdiende guns. Dis om vir ons te leer hoe om te lewe. Dis om vir ons te help sodat ons nie in die valstrikke van hierdie wêreld verstrengel raak nie. Dis ‘n stuk openbaring wat vir ons wys hoe ons regdeur ons lewe sy seën kan beleef, al gaan dit soms moeilik en al kry ons soms teëstand.

Torah en guns mag nie lynreg teenoor mekaar gestel word nie. Soms lyk dit of Shaul dit doen, maar dan praat hy van wat mense gemaak het van die Torah – hoe hulle ‘n klomp mensgemaakte artikels daar bygevoeg het en dit op mense afdwing op ‘n manier wat die bedoeling van Yahweh heeltemal verdraai. Wanneer ons die Torah van Yahweh verbreek en onteer en verontagsaam, kan ons verseker wees dat ons die negatiewe gevolge daarvan sal dra. En dis juis hier waar genade, Yahweh se ongelooflike guns, op sy sterkste na vore kom: Hy kom staan voor ons, wys na die Messias en wat Hy gedoen het en sê vir ons: "Ek sal julle verlos van julle onreinhede. Glo in my Seun en wat Hy vir jou gedoen het. Aanvaar die vergifnis van sonde uit my hand. En gaan dan heen en sondig nie meer nie.