DIE
ONVERVALSTE MELK VAN DIE WOORD?
Daar staan in die Skrif dat gelowiges soos pasgebore kindertjies na die
onvervalste melk van die Woord moet verlang, sodat hulle kan groei en sterker
word in die geloof. Dit klink baie maklik, maar daar is twee probleme: (1) Die
Woord wat aan gelowiges voorgehou word (van die kansels af, oor die media, selfs
in moderne vertalings van die Skrif), is nie meer heeltemal "onvervals" nie, en
(2) Die mens is van nature nie so gemaklik daarmee om die "onvervalste melk" van
die Woord in te neem nie, want dit bots teen sy eie aard, sy eie aspirasies en
sy eie tradisies. Wat dus veronderstel is om die "onvervalste melk" van die
Woord te wees, is in sommige gevalle die "verdunde en versoete melk" waarmee
gelowiges gepaai en gepamperlang word en in ander gevalle die "ongewenste melk"
wat mense nie wil hoor nie, omdat dit hulle gemaksones versteur.
WAT SÊ DIE
WOORD OOR DIE WOORD?
Die Woord van
Yahweh is ewig en staan vas in die hemele (Ps 119:89); die hele inhoud van sy
woord is waarheid (Ps 119:160) - daarom is sy Woord 'n lamp vir ons voet en 'n
lig vir ons pad (Ps 119:105). Die Woord is lewend en kragtig en skerper as 'n
tweesnydende swaard (Heb 4:12) en word beskou as die swaard van die Gees waarmee
ons die stryd teen die Bose kan aanpak (Efes 6:17). Die Woord van Yahweh is die
saad wat die proses van wedergeboorte in ons laat plaasvind (1 Pet 1:23). Dit is
die Woord wat ons wys maak tot saligheid (2 Tim
3:15) en ons vir elke goeie werk volkome toerus (2 Tim
3:17). Ons word opgeroep om nie net
die woord van die lewe vas te hou nie (Fil 2:16), maar ook soos pasgebore
kindertjies na die onvervalste melk van die woord te verlang, sodat ons daardeur
kan opgroei (1 Pet 2:2).
DUS:
- Die
Woord is konstant ... en verander nie soos wat mense en omstandighede verander
nie
- Die
Woord is betroubaar ... en gee antwoorde vir diegene met moeilike vrae en
keuses
- Die
Woord is gesaghebbend ... en het besliste seggenskap in die lewens van
gelowiges
- Die
Woord is kragtig ... en het potensiaal om gewone mense se lewens radikaal te
verander
EN TOG ...
- Is
daar talle mense wat na die Woord luister en dit bestudeer, maar dit verander
nie hulle lewens nie
WAT IS DIE
VERBAND TUSSEN DIE WOORD EN DIE WAARHEID?
- Ps
119:160 "Die hele inhoud van u woord is waarheid"
- Joh
17:17 "Heilig hulle in u waarheid; u woord is die
waarheid"
- Joh
1:14 "Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon
... vol van genade en waarheid"
- Joh
8:31,32 "As julle in my woord bly, is julle waarlik my
dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal
julle vrymaak"
DUS:
- Die
Woord van Yahweh is die waarheid wat ons nodig het om as vervulde mense te
lewe
- In
die geskiedenis het hierdie Woord Skrif geword en Vlees geword
-
Daar is geen teenstrydigheid tussen die Woord wat Skrif geword het en die
Woord wat vlees geword het (d.w.s. Yahshua) nie.
- As
ons beide die geskrewe en die vleesgeworde Woord aanvaar, sal ons die waarheid
ken en hierdie waarheid sal ons vrymaak
EN TOG ...
- Is
daar talle wat sê dat hulle Christene is, maar dit lyk nie of die waarheid
hulle vrygemaak het nie
IS DIE WOORD
WAT VOORGEHOU WORD, ALTYD DIE WAARHEID? (HOE "ONVERVALS" IS DIE WOORD NOG VANDAG?)
-
Daar word verkondig (en dit staan so in die meeste moderne vertalings) dat ons
Elohim se Naam "HERE" is, terwyl die oorspronklike Skrifte op byna 7000 plekke
sê sy Naam is "Yahweh".
-
Daar word verkondig dat die Messias se Naam "Jesus" is, terwyl dit duidelik is
dat die Naam wat die engel aangekondig het en waarby almal Hom geken het, die
Naam "Yahshua" is.
-
Daar word verkondig dat die eerste dag van die week ons dag van aanbidding en
van rus moet wees, terwyl die Skrif dit pertinent stel dat die sewende dag, of
die Sabbat, hiervoor afgesonder is.
-
Daar word verkondig dat die Messias 'n nuwe geloof tot stand gebring het,
terwyl die Woord net weet van een geloof - gebou op die fondament van die
Skrifte en bevestig deur die getuienis van Yahshua.
-
Daar word verkondig dat Kersfees en Paasfees die 2 belangrikste "Christelike"
feeste is, terwyl die Woord sê daar is 7 ander feeste wat gevier moet word en
niks weet van Kersfees of "Easter" nie.
-
Daar word verkondig dat babatjies wie se ouers gelowiges is, gedoop moet word,
terwyl die Skrif onomwonde sê slegs diegene met berou oor hulle sonde en
geloof in die Messias moet gedoop word.
-
Daar word verkondig dat Yahshua die wet beëindig het, terwyl Hy self gesê het
dat Hy nie gekom het om dit te beëindig nie en dat mense wat so iets verkondig
nie gereken sal word in sy koninkryk nie.
-
Daar word verkondig dat ons 'n “Drie-enige God” aanbid, terwyl die Skrif so 'n
begrip nie ken nie en sê dat die Elohim wat ons aanbid is net EEN.
-
Daar word verkondig dat gelowiges wat sterf, onmiddellik hemel toe gaan,
terwyl die Skrif sê hulle "slaap" tot met die opstanding wanneer die Messias
weer kom.
-
Daar word verkondig dat daar voor die wederkoms 'n "wegraping" van gelowiges
gaan plaasvind, terwyl die Skrif sê die Messias sal eers na die finale
verdrukking verskyn om sy volgelinge te versamel.
DUS:
- Die
"woord" en die "waarheid" wat vandag aan mense voorgehou word, is in baie
gevalle so totaal verskillend van die oorgelewerde Woord van Yahweh dat dit
nie meer die waarheid is nie en daarom ook nie mense sal vrymaak nie.
IS DIE "ONVERVALSTE
MELK" VAN DIE WOORD MAKLIK
OM TE DRINK?
- "So
het julle dan die gebod van Elohim kragteloos gemaak ter wille van julle
oorlewering (tradisie)" Matt 15:6
- "Julle
verstaan dit goed om die gebod van Elohim opsy te sit en so julle oorlewering
(tradisie) te onderhou" Mark 7:9
- "As
Ek die waarheid spreek, waarom glo julle My nie? Die wat uit Elohim is,
luister na die woorde van Elohim. Daarom luister julle nie, omdat julle nie
uit Elohim is nie" Joh 8:46,47
- "Wat
die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede,
omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen Elohim is; want dit onderwerp hom
nie aan die wet van Elohim nie, want dit kan ook nie" Rom 8:6-7
- "daar
sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat
hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal
versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die
waarheid en hulle sal wend tot fabels" 2 Tim 4:3,4
DUS:
- Die
Woord sê uitdruklik dat daar (veral in die laaste dae) 'n rebelsheid teen die
waarheid sal wees en dat mense na allerhande metodes sal gryp om die waarheid
van die Woord te probeer omseil ...
- Jy
staan vandag voor die uitdaging om nie langer die "verdunde" of "versoete" of
"vervalste" melk te drink wat vandag so algemeen "beskikbaar" is nie, maar (dalk
vir die eerste keer in jou lewe) soos 'n baba sterk te verlang na die
onvervalste melk van die Woord ...
