MOENIE PERSPEKTIEF VERLOOR NIE
Dit bly een van die merkwaardigste verskynsels dat mense ‘n geloof probeer beoefen waarin hulle ‘n skerp onderskeid maak tussen die sg. Ou Testament en Nuwe Testament en verklaar dat slegs die Nuwe op hulle van toepassing is. Die onderskeid tussen Nuwe en Ou Testament (meer korrek: Messiaanse Skrifte en Voor-Messiaanse Skrifte) word dan gewoonlik uitgedruk in terme van die onderskeid tussen genade en wet, of die onderskeid tussen geloof en werke, of die onderskeid tussen liefde en toorn of die onderskeid tussen vryheid en gebondenheid. Kom ons kyk kortliks na die voorkoms van woorde wat met hierdie begrippe verbind word in die "Ou Testament" en "Nuwe Testament" – in ‘n uiters letterlike vertaling soos Woord en Getuienis. Ter wille van die argument gebruik ons hier die afkortings "OT" en "NT" om na die twee tradisionele onderafdelings van die Skrif te verwys …
Dis ironies dat woorde soos guns en goedertierenheid (wat die idee van "genade" uitdruk) meer as 300 keer in die OT voorkom en net sowat 130 keer in die NT. Moes die NT dan nie proporsioneel baie meer oor "genade" bevat het nie? Verder moet dit ook as baie vreemd aangeteken word dat die woord "werke" 60 keer in die OT gebruik word en 112 keer in die NT. Is dit dan nie juis die OT wat op "werke" klem lê terwyl die NT op "genade" fokus nie? Wat van liefde – die "lieflingskind" van die NT en almal wat die NT verhef bo die OT? Wel, as ons al die woorde van die OT tel wat die konnotasie van liefde en liefhê bevat, kom jy uit by ver meer as 500. In die NT is dit sowat 290. Dus, ons leer baie meer van liefde in die OT as in die NT. Neem ‘n mens ‘n begrip soos gehoorsaam of gehoorsaamheid wat soms as "Ou Testamenties" beskryf word, is daar weer ‘n verrassing: dit kom slegs sowat 13 keer in die OT voor en 43 keer in die NT (die saak van gehoorsaamheid kom natuurlik baie meer voor – beide in die OT en die NT). Alle woorde wat met vrymaak of vryheid te make het in die NT is ongeveer 180 in totaal. In die OT is dit meer as 600. Wie het gesê dit is net in die NT waar ons waarlik oor vryheid kan leer?
Party mense sal betoog dat die groot verskil tussen die OT en die NT daarin opgesluit lê dat mense voor die aanbreek van die NT nog nie werklik die betekenis van "geloof" geken het nie. Geloof is natuurlik een van die groot temas van die NT en al die vorme van hierdie woord kom meer as 500 keer in die NT voor. Wat van die OT? Geloof speel ‘n geweldige belangrike rol in die OT – die verskillende Hebreeuse woorde wat met iets soos "geloof" vertaal kan word, is selfs nog meer as die ooreenstemmende Griekse woorde in die NT en geloof word konsekwent voorgestel as iets wat moontlik gemaak word by mense as gevolg van die ontsettende geloofwaardigheid van Yahweh, die Almagtige. Die bekende hoofstuk in die NT wat oor geloof handel, Hebreërs (Ievriem) 11, neem as voorbeelde van geloof mense soos Avraham, Yietsgak en Yaákov oor wie se geloof daar bladsye vol in die OT geskryf word. Die idee wat mens kry is nie dat geloof in die OT iets was wat "onbekend" of "onderontwikkel" was nie.
Soms hoor ‘n mens die argument dat die OT vir die Jode ("Yehudiem") bedoel was en die NT vir nie-Jode wat tot geloof in die Messias kom – dat ons as nie-Jode vandag ook geen nodigheid het om ons aan die bepalinge van die OT te hou nie. Ook in hierdie opsig klop die statistieke nie met die algemene opvatting nie. Die woord "Yehudiem" kom slegs 67 keer voor in die OT en ‘n verstommende 162 keer in die NT! Toevallig? Allermins. Die NT is duidelik daaroor dat die Messias Hom in die eerste plek tot die Jode of Yehudiem gewend het en dat die deur eers gaandeweg meer en meer vir nie-Jode oopgemaak is om by Yahweh en sy volk aan te sluit. ‘n Woord soos "Shabbat" wat as ‘n tipies "Yehudiese" begrip beskou word kom 86 keer in die OT voor en 56 keer in die NT. As ‘n mens in ag neem dat die NT net sowat ‘n kwart van die hele Skrif beslaan is die groot aantal verwysings na die Shabbat in die NT nogal heel merkwaardig.
Daar is by baie "Nuwe Testamentiese gelowiges" ‘n groot weerstand teen enigiets wat in die vorm van ‘n opdrag na hulle toe kom en groot beswaar word gewoonlik aangeteken teen die oormatige gebruik van "moets" en "moenies". Vir sulkes sal dit veral ‘n groot verrassing wees om te verneem dat die woord "moenie" 58 keer in die OT voorkom en dubbel soveel (110) keer in die NT. Miskien verkies hulle om die moenies in die OT te ignoreer en die moenies in die NT slegs as suggesties of riglyne te sien en nie as opdragte nie, want ‘n opdrag pas nie in binne die raamwerk van die vryheid van die gelowige nie. Hoe dit ook al sy, vir ons is elke opdrag en elke "moenie" in die Skrif belangrik en dit is uiters verhelderend om ‘n studie van die moenies in die Messiaanse Skrifte (NT) te maak. Hier is net ‘n seleksie daarvan.
Mat 3:9
En moenie dink om by julleself te sê: ons het Avraham as vader nie; want ek sê vir julle dat Elohiem mag het om uit hierdie klippe kinders vir Avraham op te wek. MOENIE ROEM OP, OF OORMATIGE BETEKENIS HEG AAN JOU FISIESE HERKOMS VAN AVRAHAM NIE.Mat 5:17 Moenie dink dat Ek gekom het om die Torah of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. MOENIE DIE FOUT MAAK OM TE DINK DAT DIE MESSIAS DIE OU VERBOND ONTBIND OF BEËINDIG HET NIE.
Mat 6:2-5 Wanneer jy dan liefdadigheid bewys, moenie 'n trompet voor jou blaas … in die sinagoges en op die strate … dat hulle deur die mense geëer kan word nie … En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie. MOENIE MENSE (MET UITERLIKE VERTOON OF SELFS NET OP ‘N SUBTIELE MANIER) PROBEER BEÏNDRUK IN JOU VERERING VAN YAHWEH NIE.
Mat 6:19-20 Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie. MOENIE AL JOU ENERGIE VERSPIL OP DINGE WAT NIE VAN EWIGE BETEKENIS IS NIE.
Mat 7:6 Moenie wat afgesonder is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit nie miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie. MOENIE ONWYS EN ONSENSITIEF WEES IN JOU HANTERING VAN DIE KOSBARE WAARHEDE WAT JY LEER KEN HET NIE.
Mat 10:19 Maar wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal praat nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet praat. MOENIE PROBEER OM IN JOU GETUIENIS DIT TE BEREIK OF TE VERMAG WAT EINTLIK NIE IN JOU HANDE IS NIE.
Luk 10:19-20 Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand … maar julle moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is nie, maar … dat julle name in die hemel opgeskryf is. MOENIE SO IN VERVOERING RAAK OOR DIE VOORLOPIGE GESTALTE VAN YAHWEH SE REDDING, DAT JY DIE FINALE VERVULLING DAARVAN UIT DIE OOG VERLOOR NIE.
Joh 5:14 Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie. MOENIE WEER SONDIG (OF MEEN DAT SONDE NIE MEER ‘N ROL SPEEL) NADAT YAHWEH JOU AANGERAAK HET NIE.
Joh 7:24 Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel 'n regverdige oordeel. MOENIE IEMAND (OF ‘N SEKERE SITUASIE) BEOORDEEL BLOOT OP GROND VAN WAT JY GESIEN OF GEHOOR HET NIE.
Joh 20:27 Daarna sê Hy vir Taóma: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig. MOENIE DINK DAT DIT ONNODIG IS OM HERHAALDELIK DIE KEUSE TE MAAK OM TE GLO NIE.