NIE MEER SOOS DIT EERS WAS NIE (1)

Een van die grootste bronne van hoop, bemoediging en vreugde vir die gelowiges in die Messias is die feit dat daar deur die beskikking van die Almagtige ‘n ingrypende verandering in hulle lewens plaasgevind het. ‘n Verandering ten goede - ‘n verandering van hart en begeerte en denke. ‘n Verandering wat so wesenlik is dat die vrug en die implikasies daarvan nie net ons lewens hier en nou beïnvloed nie, maar ook ons bestemming wanneer die Messias weer kom en die aardse bestel soos ons dit nou ken, tot ‘n einde sal kom. Die Skrif het ‘n eenvoudige, maar verstaanbare manier om hierdie ingrypende verandering te beskryf. Een spesifieke formule wat gereeld in hierdie verband gebruik word, is die woorde "nie meer nie …" (Engels: "no longer…"). Vir hulle wat waarlik die Naam van Yahweh aanroep en die uitnemende gawe van sy Seun deur geloof hulle eie gemaak het, is dinge eenvoudig nie meer soos dit eers was nie. Nie meer is hulle slawe van die sonde nie. Nie meer het die dood die finale sê in hulle lewens nie. Nie meer is hulle harte weggekeer van die volmaakte wet van Yahweh nie. Nie meer word hulle lewens gedikteer deur die opvattinge en tradisies van mense nie. Nie meer is hulle sonder krag en sonder liefde en sonder vrede nie. En so kan ‘n mens aangaan. Kom ons laat die Skrif toe om ons verstaan in hierdie verband te verbreed en te verryk.

  1. NIE MEER DOODGEWOON NIE - Bereshiet 17:5 "Daarom sal hulle jou nie meer Avram noem nie, maar jou naam sal wees Avraham, want Ek maak jou ‘n vader van ‘n groot aantal nasies." Daar word baie moontlike verklarings gegee vir hierdie naamsverandering van "Avram" tot "Avraham" en nie een hiervan kan met sekerheid as die korrekte verklaring aanvaar word nie. Feite is egter dat daar met hierdie naamsverandering aangedui word dat die Almagtige self in ‘n doodgewone mens se lewe ingegryp het en iets baie besonders, ja, selfs buitengewoon tot stand sou bring. ‘n Mens word herinner aan die woorde van YeshaYahu 62:1-4 "Ter wille van Tsion sal Ek nie stilbly nie en ter wille van Yerushalayiem nie stil wees nie, totdat sy geregtigheid uitbreek soos ‘n glans en sy verlossing soos ‘n fakkel wat brand. En die nasies sal jou geregtigheid sien en al die konings jou voortreflikheid; en jy sal met ‘n nuwe naam genoem word wat die mond van Yahweh sal noem. En jy sal ‘n sierlike kroon wees in die hand van Yahweh en ‘n koninklike tulband in die hand van jou Elohiem. Jy sal nie meer genoem word Verlatene nie, en jou land sal nie meer genoem word Wildernis nie. Maar jy sal genoem word: my welbehae, en jou land: die getroude; want Yahweh het ‘n behae in jou, en jou land sal getroud wees."
  2. NIE MEER AGTERGEBLEWE NIE - Bershiet 32:28 "Toe sê Hy: Jy sal nie meer Ya’akov genoem word nie, maar Yisra’el; want jy het geworstel met Elohiem en met die mense en het oorwin." Die naam Ya’akov beteken "hakskeengryper" en hou verband met die begrip "om agter te wees" of "om terug te hou of teruggehou te word". Die naamsverandering na Yisra’el, wat beteken "oorwinnaar, saam met Elohiem" dui op die ingrypende verandering wat Yahweh teweegbring in die lewens van diegene wat hulle vertroue in Hom plaas.
  3. NIE MEER BESKAAMD NIE - YeshaYahu 29:22-24 "Daarom, so sê Yahweh tot die huis van Ya’akov, Hy wat Avraham verlos het: Ya’akov sal nou nie meer beskaamd staan nie, en nou sal sy aangesig nie meer bleek word nie; want as hy, as sy kinders die werk van my hande in sy midde sien, sal hulle my Naam afsonder; ja, hulle sal die Afgesonderde van Ya’akov afsonder en vir die Elohiem van Yisra’el met ontsag vervul wees; en hulle wat dwalende van gees is, sal insig verkry, en die murmureerders sal lering aanneem." Hulle wat die lering van die Woord van Yahweh aanneem en insig verkry, word met ‘n nuwe ontsag vervul vir die Elohiem van Yisrae’el en vir sy afgesonderde Naam. Hulle is nie meer skaam om voor mense van Hom te getuig nie en weet ook dat hulle nie beskaamd sal staan as hulle voor sy regterstoel moet verskyn nie (vgl. Luk 9:26).
  4. NIE MEER BENOUD EN BEDRUK NIE - YeshaYahu 30:19-21 "Want ‘n volk sal op Tsion, in Yerushalayiem, woon; jy sal nie meer ween nie; sekerlik sal Hy jou guns bewys op jou hulpgeroep; sodra Hy hoor, antwoord Hy jou. Yahweh gee julle wel brood van benoudheid en water van bedruktheid, maar jou leraars sal hulle nie langer verberg nie—maar jou oë sal jou leraars sien; en jou ore sal ‘n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan." Hierdie gedeelte toon aan dat die benoudheid en bedruktheid waaronder gelowiges dikwels gebuk moet gaan, weggedryf sal word na mate hulle hulle oë en ore oopstel vir die suiwer lering van die Woord en die Weg wat daaruit aangedui word, bewandel.
  5. NIE MEER VERBLIND NIE - YeshaYahu 32:3-4 "Dan sal nie meer verblind wees die oë van die wat sien nie; en die ore van hulle wat hoor, sal luister;en die hart van die onbedagsames sal leer om te verstaan, en die tong van die hakkelaars sal gou wees om duidelik te spreek." Een van die grootste veranderings wat plaasvind in die lewens van hulle wat deur Yahweh aangeraak word, is dat die skille van hulle oë afval en ‘n heel nuwe wêreld vir hulle oopgaan. Vir hulle word die woorde van 1 Kor 2:9-12 waar: "Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, wat Elohiem berei het vir die wat Hom liefhet. Maar Elohiem het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van Elohiem. Want wie van die mense weet wat in 'n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in Elohiem is nie, behalwe die Gees van Elohiem. Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit Elohiem is, sodat ons kan weet wat Elohiem ons uit guns geskenk het."
  6. NIE MEER VERHARD VAN HART NIE – YermeYahu 3:17 "In dié tyd sal hulle Yerushalayiem noem die troon van Yahweh; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van Yahweh in Yerushalayiem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie." Hierdie vers moet saamgelees word met vers 25: "Ons wil neerlê in ons skande, en ons oneer moet ons oordek; want ons het teen Yahweh onse Elohiem gesondig, ons en ons vaders van ons jeug af tot vandag toe, en ons het nie geluister na die stem van Yahweh onse Elohiem nie." Die enigste manier om nie meer te wandel in die verharding van jou bose hart nie, is om by die punt te kom waar jy waarlik jou sonde erken, berou daaroor het ("neerlê in ons skande") en dit teenoor die Vader bely. ‘n Ander "nie meer" kom hier ter sprake: "Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie" (Luk 15:21). Slegs langs hierdie roete raak ‘n mens ontslae van die sterk weerstand om Yahweh te behaag wat van nature in elkeen van ons harte opgesluit lê.
  7. NIE MEER ’N DIENSKNEG NIE - YermeYahu 30:8-9 "En op dié dag, spreek Yahweh van die leërskare, sal Ek sy juk verbreek van jou nek af en jou stroppe stukkend ruk; en vreemdes sal hom nie meer diensbaar maak nie. Maar hulle sal Yahweh hulle Elohiem dien en hulle koning Dawied wat Ek vir hulle sal verwek." Dis teen hierdie agtergrond dat die Messias vir sy dissipels gesê het: "Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy meester doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het" (Joh 15:15). Die diensbaarheid waarvan Yahweh sy volk nog altyd wou bevry en waarvoor Y'shua ook na hierdie wêreld gekom het, is die diensbaarheid wat van "vreemde jukke" af kom. ‘n "Vreemde juk" is ‘n las wat op die volk (of gelowiges) gelê word deur mense wat Hom nie ken en sy wil nie eerbiedig nie. Dit kan ‘n sondige gebruik wees of ‘n heidense tradisie of bloot ‘n menslike insetting wat nie deur die Vader self ingegee is nie. Dis waarom die Messias in Joh 15:15 beklemtoon dat Hy slegs dit wat Hy van sy Vader gehoor het, aan sy dissipels bekendgemaak het. Die Messias het nie gekom om ons te bevry van gehoorsaamheid aan dit wat Yahweh self beveel het nie – Hy het juis gekom om dit te bevestig. Wanneer Yahweh die jukke verbreek en die stroppe stukkend ruk, dan is die gevolg: "Hulle sal Yahweh hulle Elohiem dien en hulle Koning Dawied wat Ek vir hulle sal verwek." Dit is wat ook in Gal 4:7-9 bevestig word: "Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van Elohiem deur die Messias. Maar destyds, toe julle Elohiem nie geken het nie, het julle dié gedien wat van nature geen magtiges is nie; maar nou dat julle Elohiem ken, of liewer deur Elohiem geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien?"