NIE TE MOEILIK NIE
By ‘n vorige geleentheid het ons na die tema van geloof gekyk en onder meer sewe Hebreeuse woorde geïdentifiseer wat elkeen ‘n belangrike aspek van geloof na vore bring. Die feit dat die Skrif verskillende fasette van geloof na vore bring, moet ons nie laat dink dat geloof so ‘n moeilike konsep is dat ‘n mens jare se studie nodig het om geloof te kan verstaan nie. Of dat daar ‘n lang lys van reëls en regulasies is wat eers nagekom moet word voordat ‘n mens as "gelowige" kan kwalifiseer nie. Die Messias het duidelik aangetoon dat die suiwerste geloof daardie soort is wat jy by klein kindertjies aantref en wat sonder vertoon en allerlei tierlantyntjies is.
In Romeine 10 praat die apostel Shaul (Paulus) oor geloof. Hy verwys na die begrip "geregtigheid" en maak die stelling dat die probleem met Yiesrael (Israel) was dat hulle hulle eie geregtigheid probeer oprig het. Met die woord "oprig" bedoel hy "die noukeurige onderhouding van haarfyn uitgewerkte verduidelikings en uitbreidings van die Torah, met die hoop om daardeur genoeg "punte" te verdien, om as geregverdig gereken te kan word." Met hierdie proses van geregtigheid probeer "oprig" was Yiesrael só besig, dat hulle die eintlike geregtigheid van Elohiem nie verstaan het nie ("hulle het die geregtigheid van Elohiem nie geken nie" – vers 3) en ook nie gedoen het nie ("hulle het hulle aan die geregtigheid van Elohiem nie onderwerp nie" – vers 3). Die vraag ontstaan nou: Is die geregtigheid wat Yahweh van sy volk verlang (en die pad van geloof, wat in wese dieselfde is as die pad van geregtigheid), dan só moeilik om te verstaan, dat die meerderheid van die Yehudiem dit heeltemal kon mis – hulle wat tog nog altyd bekend was daarvoor dat hulle die grootste erns maak met die Torah en dit tot in die fynste detail bestudeer? Die antwoord, wat oor en oor in die Skrif na vore kom, is NEE (dit is nie so moeilik nie) en JA – hoe onverstaanbaar dit ook al mag wees, die Yehudiem, van alle mense, het dit nie raakgesien nie, en baie van hulle sien dit tot vandag toe nie raak nie.
Die volgende vers (vers 4) is ‘n vers wat dikwels verkeerd aangehaal en ook verkeerd verstaan word: "Want die Messias is die einde van die Torah tot geregtigheid vir elkeen wat glo." Die bedoeling is duidelik: Nie: Die Messias (se koms) is (of beteken) die einde van die Torah (punt) nie. Maar: Die Messias het gekom om ‘n einde te maak aan die bedeling waarin Yiesrael met hulle eie (foutiewe) interpretasie van die Torah probeer het om ‘n mensgemaakte geregtigheid op te rig (en jammerlik daarin gefaal het). Hoe het die Messias dit gedoen? Hoe het Hy ‘n einde gemaak aan daardie ou bedeling? Hy het die aspek van geloof kom herstel ("… tot geregtigheid vir elkeen wat glo" – vers 4). Hy het die sleutel van kennis (Luk 11:52) wat die wetgeleerdes weggeneem het, weer kom terugplaas op sy regmatige plek.
Is hierdie geloof – die sleutel waarmee die rykdom van Yahweh se Woord ontsluit kan word – ‘n ingewikkelde saak of ‘n eenvoudige saak? Shaul beskou hierdie as ‘n belangrike vraag, want die Yehudiem het die verkryging van geregtigheid tot ‘n uiters komplekse en ingewikkelde sisteem verander. Om dié vraag te beantwoord, haal hy ‘n gedeelte uit die Torah aan, naamlik Devariem (Deuteronomium) 30:11-14 "11: Want hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te moeilik nie en is nie ver nie. (Hierdie vers is nie deel van die aanhaling in Romeine 10 nie, maar is belangrik sodat ons Shaul se argument reg kan verstaan) 12: Dit is nie in die hemele nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemele opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? 13: Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? 14: Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen."
Dit is hoe hierdie aanhaling in Romeine 10 verstaan moet word. Dit gaan oor die eenvoud van die geloof in die Messias wat gestel word teenoor die ingewikkelde stelsel van verdienstelike werke wat die Yehudiem oor eeue heen ontwikkel het. Dit is nie so moeilik soos wat baie dit probeer voorstel nie. Dit is nie onbereikbaar, in die hemele of oorkant die see, of (soos Shaul hier in Romeine byvoeg) in die dieptes van die aarde nie. Nee, dit is baie nader (baie makliker bekombaar) as wat meeste mense meen. Dit is "in jou mond en in jou hart" – in jou mond, want geloof in Y'shua moet met die mond bely word, en in jou hart, want in jou hart moet jy glo dat Yahweh Hom uit die dode opgewek het.
Ironies genoeg, is dit juis hierdie twee eenvoudige aspekte wat vir die Yehudiem (van Y'shua se eerste koms af tot vandag toe) die moeilikste was, en nog steeds is. Meeste van hulle kan nie sover kom om met die mond te bely: "Y'shua is die Messias" nie. Daarom voeg Shaul sy eie woorde bý die woorde van Devariem 30:12: "Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om die Messias af te bring?" Meeste Yehudiem kan nie aanvaar dat die Messias in die hemel is nie, want hulle verwag ‘n aardse Messias wat sake hier op aarde sal regstel. Verder kan hulle ook nie met die hart bely dat Y'shua uit die dood uit opgestaan het nie, want in hulle oë is en was Hy nooit die Messias nie. Daarom voeg Shaul by: "Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om die Messias uit die dode op te bring?" Dit is juis die eenvoud van geloof in die Messias, wat uit die dood opgestaan het en na die hemel opgevaar het, wat vir hulle – die Yehudiem – die grootste struikelblok geword het.
Is dit net die Yehudiem wat swaarkry om die eenvoud van geloof in die Messias in te sien en te aanvaar? Nee, hoegenaamd nie. Ons sien vandag nog gereeld hoedat mense die eenvoud van geloof in die Messias probeer verdring (en selfs uitwis) deur in dieselfde soort slaggate te trap as wat die Yehudiem getrap het. Geloof bly eenvoudig en suiwer wanneer dit verstaan en uitgeleef word soos die Woord dit vir ons voorstel. Maar die oomblik wanneer mense daaraan begin karring en dinge probeer byvoeg of dinge probeer weglaat (met ingewikkelde argumente hoekom hulle wil byvoeg of wil weglaat), raak hulle ongehoorsaam aan die evangelie – iets wat nie net in Shaul se tyd gebeur het nie, maar reeds in YeshaYahu se tyd (vers 16) en ook vandag.
Ons het reeds verlede week gekyk na die manier hoe geloof vir ons in die Woord voorgestel word. Romeine 10 bring nog enkele aspekte na vore, met die klem daarop: dis nie so ingewikkeld en so verwarrend as wat sommige dit wil voorstel nie!
Hierdie voorstelling van geloof stel jou en my voor die uitdaging om ons eie harte en ons eie geloofsoortuigings te ondersoek en seker te maak dat ons nie op ‘n valse fondament bou nie en, nog belangriker, dat ons nie ander mense probeer intrek om saam met ons op dieselfde valse fondament te bou nie.