NIE VAN HIERDIE WÊRELD NIE
In Yahuganan (Johannes) 8:23 sê die Messias vir die Yehudiem wat met Hom in gesprek getree het: "Julle is van benede, Ek is van bo; julle is uit hierdie wêreld, Ek is nie uit hierdie wêreld nie" (Scriptures: "You are from below, I am from above. You are of this world, I am not of this world"). Na aanleiding hiervan kan ons die vraag vra: "Sê die Messias hier iets oor waar Hy was vóór sy geboorte of sê Hy iets oor sy houding teenoor die dinge van hierdie wêreld?" Ons kry ‘n duidelike, klinkklaar antwoord as ons na die konteks van Yahuganan 8 kyk en ook as ons na die res van die Skrif kyk.
Kom ons kyk eers na ‘n aantal gedeeltes in die res van die Skrif. Die beste plek om te begin is die boek van Yahuganan. Yahuganan se styl van skryf was in sekere opsigte uniek en as ons sekere gedeeltes in Yahuganan wil verstaan, is dit goed om dit met ander gedeeltes in Yahuganan te vergelyk. In Yahuganan 17, die bekende gebed van die Messias vir sy dissipels, lees ons (vers 11): "Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle (die dissipels) is in die wêreld; en Ek kom na U toe. Afgesonderde Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons." As ons na aanleiding van hierdie vers moes vra: Praat die Messias hier oor waar die dissipels fisies was en waar Hy (fisies) binnekort sou wees, dan is die antwoord baie duidelik: Ja, Hy praat daaroor. Al sê Hy: Ek is nie meer in die wêreld nie, bedoel Hy eintlik: Dis nie meer lank nie, dan sal Ek nie meer in die wêreld wees nie, want net daarna sê Hy: "Ek kom na U toe, Afgesonderde Vader." Y'shua het geweet van die dood wat op Hom gewag het. Sy Vader het dit aan Hom bekend gemaak. Maar Hy het ook geweet dat Hy sou opstaan en kort daarna sou opvaar om sy posisie aan die regterhand van sy Vader te gaan inneem. Dus praat Hy hier, sonder enige twyfel, oor waar die dissipels hulle letterlik bevind (in die wêreld) en, meer spesifiek, waar Hy Hom binnekort letterlik sou bevind (in die hemel).
Maar dan, in dieselfde hoofstuk, vers 16, sê die Messias: "Hulle (die dissipels) is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie." Watter soort taal is dit nou? Letterlike taal of figuurlike taal? Dis duidelik nou nie meer letterlike taal wat die Messias gebruik nie. Hier gaan dit nie meer oor waar die dissipels fisies is nie (want hulle is nog in die wêreld), hier gaan dit oor hulle houding oor die dinge van die wêreld, vanuit die besef dat hulle eintlike woonplek nie hier op aarde is nie. Hier gaan dit oor dieselfde houding wat Shaul (Paulus) in Kolossense 3:1-5 beskryf: "As julle dan saam met die Messias opgewek is, soek die dinge daarbo waar die Messias is en aan die regterhand van Elohiem sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met die Messias verborge in Elohiem. Wanneer die Messias, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in voortreflikheid geopenbaar word. Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is." Hier gaan dit oor vriendskap met die wêreld, al dan nie, dit waarvan Yaákov (Jakobus) 4:4 praat: "Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen Elohiem is nie? Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van Elohiem." Hier gaan dit oor die wysheid wat van bo is, dit waarvan Yaákov 3:14-17 praat: "Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie. Dit is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels; want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerlei gemene dade. Maar die wysheid van bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins."
Wanneer die Messias in Yahuganan 8 vir die Yehudiem sê: "Julle is van benede, Ek is van bo; julle is uit hierdie wêreld, Ek is nie uit hierdie wêreld nie", dan bedoel Hy dit figuurlik. Hy praat nie van die plek waar Hy vandaan kom en die plek waar hulle vandaan kom nie – die hele hoofstuk 8 bewys vir ons dat dit nie so is nie. Regdeur die hele hoofstuk kan ons sien dat die Messias eintlik vir die Yehudiem probeer sê: Hoe wens Ek nie dat julle ook van bo was, soos wat Ek van bo is. Hoe wens Ek nie dat dit van julle ook waar was dat julle nie van hierdie wêreld is nie, net soos Ek nie van hierdie wêreld is nie en net soos my ware volgelinge ook nie van hierdie wêreld is nie! Kom ons kyk wat sê Hy alles vir hulle in hierdie hoofstuk.
Toe die Messias met die Yehudiem gepraat het, was dit die versugting van sy hart: Hoe wens ek nie dat julle ook van bo was, soos Ek van bo is nie. Dat julle sou ophou op net op die vlees en die mens te fokus. Hoe wens Ek nie dat julle oë kan oopgaan en julle my kan sien vir wie ek regtig is nie: Die Messias wat belowe is, oor wie daar herhaaldelik in die Skrifte geprofeteer is, en wat nou fisies in julle midde staan en binnekort aan die regterhand van die Vader sal sit nie. Hoe wens Ek nie dat julle dit eendag sal kan regkry om julle oë en julle geloof nie net op die dinge van hierdie wêreld te fokus nie, maar op die dinge wat van bo is, die dinge wat van die Vader is, die dinge wat Hy vir julle voorberei het en die dinge wat Hy bitter graag uit sy oneindige liefde aan julle wil skenk nie. As dit sy versugting vir die Yehudiem was, wat toe nog geweier het om in Hom te glo, hoeveel te meer is dit nie sy versugting vir ons wat in Hom glo nie!