DIE
ONGEVRAAGDE VERANDERING VAN DIE NAAM VAN DIE SEUN
In die meeste
Vertalings word die Naam van ons Verlosser en Messias as "Jesus" weergegee. Tog is
bekende Skrifverklaarders en Argeoloë (soos Ernest Renan ["The life of Jesus"];
G. Kittel ["Theological Dictionary of the New Testament"]; Bux & Schöne ["Wörterbuch
der Antike"] en talle andere) dit met mekaar eens dat ons Verlosser hoegenaamd
nie as "Iesous" (die Griekse woord waarvan "Jesus" afgelei is) bekend gestaan
het nie en dat niemand Hom tydens sy aardse lewe ooit so genoem het nie. Daar is
vandag taamlike konsensus dat die Naam van die Messias "Yahshua" was, 'n
verkorte vorm van "Yahushua", die Hebreeuse naam van "Josua", die opvolger van
Moses. Die gebruik in Hebreeus om name soos "Yahushua" te verkort tot "Yahshua"
deur die "u" klank te laat wegval het sedert die periode van die Babiloniese
ballingskap (6 eeue voor die koms van die Messias) in werking getree.
Is dit
belangrik om die korrekte naam vir die Messias te gebruik? Daar is minstens drie
redes waarom dit van die uiterste belang is. (1) Hand 4:12 verklaar onomwonde
dat daar net een Naam "onder die hemel" is wat onder die mense gegee is,
waardeur ons gered moet word. As daar net een Naam is waardeur ons gered moet
word, dan is dit sekerlik belangrik dat ons die regte Naam sal aanroep om gered
te word! (2) In die konteks van die Skrif is name van die allergrootste belang.
Name het betekenis, dikwels profetiese betekenis (vgl. die name van die seuns
van Jakob in Gen 30 en die name van Hosea se twee seuns in Hos 2), en wanneer
Yahweh iemand se omstandighede verander het, het Hy dikwels ook so 'n persoon se
naam verander (soos in die geval van Abram, Sara, Jakob, Salomo en Petrus). 'n
Naam sou dus nie sommer verander word tensy daar baie goeie redes daarvoor was
nie. (3) Dit is duidelik dat die woord "Iesous" (Jesus) 'n gefabriseerde,
Latyns-Griekse naam is, sonder enige letterlike betekenis, maar daarby ook
'n woord met heelwat ooreenkomste met heidense gode (soos "Ieso", die Griekse
godin van genesing; "Iasus", een van die seuns van Zeus; "Iaso", een van die
dogters van Asclepius, die god van genesing; "Isis", die Egiptiese natuurgod en
"Iessus", die seun van Isis).
Bogenoemde is
nie die enigste motivering vir die pleidooi om die regte naam vir die Messias te
gebruik nie. Kom ons kyk na die meer omvattende getuienis van die Skrif in sy
geheel:
-
Die aankondiging van die engel in Matt 1:21.
Daar is twee belangrike redes waarom die naam wat die engel aan Josef bekend
gemaak het nie "Jesus" kon gewees het nie. (1) Josef was 'n Hebreër wat
Hebreeus gepraat het en "Jesus" is nie 'n Hebreeuse naam nie. (2) Die engel
het saam met die naam ook die betekenis van die naam verskaf: "dit is Hy wat
sy volk van hulle sondes sal verlos" - die naam "Jesus" het niks met hierdie
betekenis in gemeen nie.
-
Yahshua se woorde in Joh 5:43 aangaande die Naam van die Vader.
Die feit dat die Seun gekom het "in die Naam van (sy) Vader" is die Hebreeuse manier om te sê dat Hy as sy Vader se verteenwoordiger gekom het: daarom lê die Naam van sy Vader heel letterlik opgesluit in sy eie Naam (Yahshua beteken "Yahweh is Verlosser").
Hierin blyk onder meer die onlosmaaklike eenheid tussen Vader en Seun - weliswaar nie 'n eenheid in wese en persoon nie (die Skrif tref 'n duidelike onderskeid tussen Yahweh, die Almagtige en Yahshua, die Seun van Elohiem), maar 'n eenheid in denke, woorde en dade.
-
Yahshua se gebed in Joh 17:11,12 (Nuwe Afrikaanse Vertaling en New
International Version). Die woorde
"bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U my gegee het" bevestig die waarheid
dat die Seun die Naam (en daarmee saam die outoriteit) van die Vader ontvang
het.
-
Die stem wat met Paulus gepraat het in Hand 26:14,15.
Hier het ons 'n onomstootlike bewys dat
Yahshua Homself nie as "Jesus" aan mense voorgestel het nie en dat niemand Hom
waarskynlik by daardie (Griekse) naam geken het nie. Die stem (van Yahshua)
wat met Paulus gespreek het, het "in die Hebreeuse taal" met hom
gespreek en gesê: "Ek is Yahshua wat jy vervolg".
-
Die twee gevalle waar "Jesus" "Josua" moes gewees het (Hand 7:45 en Heb 4:8:
King James Version). Die feit dat
die King James Vertaling die naam "Josua" in hierdie twee verse verkeerdelik
met "Jesus" vertaal het (meer moderne vertalings het almal hierdie fout
reggestel), dien as 'n bewys dat "Jesus" die Griekse weergawe van die
Hebreeuse "Joshua" (meer korrek: Yahushua of Yahshua) is.
-
Die verandering van Josua se naam in Num 13:16.
Joshua (wat eers Hosea was) se naam word volgens hierdie vers letterlik
verander na "Yahushua" - nog een van vele aanduidings in die Skrif dat hierdie
Ou Testamentiese figuur 'n tipe of 'n voorloper van die Messias was.
-
Die assosiasie van Yahshua met die Naam van Yahweh in Matt 21:9 en Hand 2:21.
Wanneer die skare mense in Matt 21 klere en palmtakke vir die Messias oopgooi
en die woorde van Ps 118:26 aanhaal ("Geseënd is hy wat kom in die Naam van
Yahweh"), is dit 'n duidelike aanduiding dat hulle Hom (aan sy woorde, sy dade
en sy Naam) erken as die vervulling van hierdie profesie. Petrus voer hierdie
eenheid tussen Yahshua met Yahweh nog verder wanneer hy Joël 2:32 op
pinksterdag aanhaal ("elkeen wat die Naam van Yahweh aanroep, sal gered word")
as Skriftuurlike bewys dat diegene wat in die Naam van Yahshua gedoop word,
redding sal ontvang (Hand 2:21 en 38).
-
Die profetiese verwysing na Yahshua na die tog deur die Rooisee in Exod 15:2.
Hierdie vers is waarskynlik 'n heenwysing na die koms van die Messias, want in die oorspronklike teks staan daar letterlik: "Yah" (die verkorte vorm van die Naam van Yahweh) het vir my tot "shua" (redding) geword. Hierdie redding wat Yahweh bewys het, nie net met die deurtog deur die Rooisee nie, maar telkens in die daaropvolgende geskiedenis van die volk Israel, het 'n hoogtepunt bereik toe Hy later sy Seun Yahshua aan die wêreld openbaar het.
-
Die waarskuwing in Openb 3:8. In sy
brief aan die gemeente van Filadelfia, noem Yahshua drie dinge wat
prysenswaardig is van hierdie groep gelowiges: (1) Hulle het min krag (2)
Hulle het sy woord bewaar, en (3) Hulle het sy Naam nie verloën nie (as daar
iemand is wat geweet het hoedat geslagte van gelowiges wat sou kom sy Naam sou
verloën, dan is dit Hy!). Die merkwaardige van hierdie brief is die belofte
dat Hy op diegene wat oorwin die Naam van sy Elohim en sy eie nuwe Naam sou
skrywe!
-
Die profetiese verwysing na Yahshua in Sag 6:11,12.
Hier vind ons een van die mees aangrypende getuienisse van die hele Skrif oor
die identiteit en die Naam van die Messias. In 'n visioen ontvang Sagaria van
Yahweh die opdrag om 'n profetiese handeling uit te voer waarin hy 'n kroon
moet neem en dit op die hoof van Joshua (letterlik: Yahushua of Yahshua), wat
in daardie dae die hoëpriester was, moet plaas. Op sigself was dit 'n uiters
vreemde opdrag, want hoëpriesters word nie normaalweg as konings gekroon nie.
Die betekenis van hierdie profetiese aksie word absoluut duidelik met die
volgende aankondiging, direk hierna, uit die mond van Yahweh self: "Kyk na die
mens wie se naam Die Spruit ('The Branch') is". Daar is geen twyfel dat
hierdie profetiese aksie 'n heenwysing na die Messias was nie: Nie net het Hy
die dubbele rol van Hoëpriester en Koning vervul nie; nie net is Hy die
vervulling van talle profesieë oor die sg. "Spruit" van Dawid wat as Messias
sou kom nie; sy Naam stem ook ooreen met die hoëpriester wat hier as
profetiese prototipe aangewys word.
