DIE ONGEVRAAGDE VERANDERING VAN DIE NAAM VAN DIE SEUN

 

In die meeste Vertalings word die Naam van ons Verlosser en Messias as "Jesus" weergegee. Tog is bekende Skrifverklaarders en Argeoloë (soos Ernest Renan ["The life of Jesus"]; G. Kittel ["Theological Dictionary of the New Testament"]; Bux & Schöne ["Wörterbuch der Antike"] en talle andere) dit met mekaar eens dat ons Verlosser hoegenaamd nie as "Iesous" (die Griekse woord waarvan "Jesus" afgelei is) bekend gestaan het nie en dat niemand Hom tydens sy aardse lewe ooit so genoem het nie. Daar is vandag taamlike konsensus dat die Naam van die Messias "Y'shua" was, 'n verkorte vorm van "Yahushua", die Hebreeuse naam van "Josua", die opvolger van Moses. Die gebruik in Hebreeus om name soos "Yahushua" te verkort tot "Y'shua" deur die "u" klank te laat wegval het sedert die periode van die Babiloniese ballingskap (6 eeue voor die koms van die Messias) in werking getree.

Is dit belangrik om die korrekte naam vir die Messias te gebruik? Daar is minstens drie redes waarom dit van die uiterste belang is. (1) Hand 4:12 verklaar onomwonde dat daar net een Naam "onder die hemel" is wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word. As daar net een Naam is waardeur ons gered moet word, dan is dit sekerlik belangrik dat ons die regte Naam sal aanroep om gered te word! (2) In die konteks van die Skrif is name van die allergrootste belang. Name het betekenis, dikwels profetiese betekenis (vgl. die name van die seuns van Jakob in Gen 30 en die name van Hosea se twee seuns in Hos 2), en wanneer Yahweh iemand se omstandighede verander het, het Hy dikwels ook so 'n persoon se naam verander (soos in die geval van Abram, Sara, Jakob, Salomo en Petrus). 'n Naam sou dus nie sommer verander word tensy daar baie goeie redes daarvoor was nie. (3) Dit is duidelik dat die woord "Iesous" (Jesus) 'n gefabriseerde, Latyns-Griekse naam is, sonder enige letterlike betekenis, maar daarby ook 'n woord met heelwat ooreenkomste met heidense gode (soos "Ieso", die Griekse godin van genesing; "Iasus", een van die seuns van Zeus; "Iaso", een van die dogters van Asclepius, die god van genesing; "Isis", die Egiptiese natuurgod en "Iessus", die seun van Isis).

Bogenoemde is nie die enigste motivering vir die pleidooi om die regte naam vir die Messias te gebruik nie. Kom ons kyk na die meer omvattende getuienis van die Skrif in sy geheel: