Nederigheid
Die land Kanaan (letterlik: "Kena’an") is vir meeste van ons sinoniem met die "Beloofde Land" – die land wat Yahweh as erfdeel aan sy volk gegee het. Dit word deur ‘n hele aantal Skrifgedeeltes bevestig: "En Ek sal aan jou en jou nageslag na jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kena’an, as 'n ewige besitting; en Ek sal vir hulle 'n Elohiem wees" (Bereshiet / Genesis 17:8); "Ook het Ek my verbond met hulle opgerig om hulle die land Kena’an te gee, die land van hulle vreemdelingskap waarin hulle vertoef het" (Shemot / Exodus 6:4); "Ek is Yahweh julle Elohiem wat julle uit Mietsrayiem uitgelei het om julle die land Kena’an te gee, om julle Elohiem te wees" (Wayyiekra / Levitikus 25:38); "Gee bevel aan die kinders van Yiesraél en sê vir hulle: As julle in die land Kena’an kom, sal dit die land wees wat aan julle as erfdeel sal val; die land Kena’an ooreenkomstig sy grense" (Bemiedbar / Numerie 34:2); "Aanskou die land Kena’an wat Ek aan die kinders van Yiesraél as besitting sal gee" (Devariem / Deut 32:49); "Ek sal aan jou die land Kena’an gee, julle afgemete erfdeel" (1 Divre Hayamiem / 1 Kronieke 16:18) en "Ek sal aan jou die land Kena’an gee, julle aangewese erfdeel" (Tehielliem / Psalm 105:11).
Waarom sou Yahweh spesifiek aan Yiesrael die land Kena’an as erfdeel gee? Soos met meeste van die ander dinge wat Yiesrael moes doen en wat oor hulle pad gekom het, is daar ook hierin ‘n dieper betekenis wat hulle moes raaksien en ons ook moet raaksien. Die woord "Kena’an" is afgelei van die stamwoord "kanah" wat beteken: "to bend the knee; to bow down; to humble oneself". Net soos wat Mietsrayiem (Egipte) letterlik "plek van binding" of "plek van inperking" beteken, so beteken Kena’an letterlik "plek van nederigheid". In Kena’an moes die volk leer wat nederigheid beteken. Daar moes hulle leer dat Yahweh ag slaan op diegene wat arm is en verslae van gees (YeshaYahu 66:2). Daar het hulle oor en oor beleef dat Yahweh woon by die verbryseldes en die nederiges van gees (YeshaYahu 57:15). Daar het hulle gesien dat eer en verhoging deur nederigheid voorafgegaan word (Mieshleh / Spreuke 18:12). Daar het hulle ontdek dit is beter om nederig van gees te wees saam met die ootmoediges as om buit te verdeel met die trotsaards (Mieshleh 16:19).
In Devariem (Deut) 8 word hierdie aspek duidelik aan die volk uitgestippel: "En jy moet dink aan die hele pad waarlangs Yahweh jou Elohiem jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing" (8:2); "En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van Yahweh uitgaan" (8:3); "Neem jou in ag dat jy Yahweh jou Elohiem nie vergeet deur sy gebooie en sy verordeninge en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, nie te hou nie; sodat jy nie miskien eet en versadig word nie en mooi huise bou en bewoon … en jou hart hom dan verhef … en jy in jou hart dink: Mý krag en die sterkte van mý hand het vir my hierdie rykdom verwerwe" (8:11-14,17); "Yahweh … wat jou in die woestyn manna laat eet het, wat jou vaders nie geken het nie, om jou te verootmoedig en jou te beproef …" (18:16).
Daar is geen menslike eienskap wat in die Woord hoër aangeslaan word as die eienskap van nederigheid nie. Wat ons moet besef is dat die westerse wêreld soms ‘n baie eensydige en selfs verdraaide idee het van wat nederigheid beteken. Meeste van ons het grootgeword met die Calvinistiese konsep van nederigheid as die eienskap wat maak dat jy jou daarvan weerhou om jou eie beuel te blaas of jou eie goeie hoedanighede te beklemtoon. En, saam daarmee, dat jy gereeld erken dat jy ‘n sondige en feilbare mens en dus altyd ver van volmaak af sal wees. In die woordeboek van Webster word hierdie lewensingesteldheid só verwoord: "to have a modest estimate of one's own worth" and "a deep sense of one's own unworthiness in the sight of (the Almighty)". Alhoewel daar waarheid steek in hierdie siening van nederigheid, is dit nie die enigste en beslis nie die belangrikste aspek van nederigheid, soos dit in die Skrif na vore kom nie. Kom ons kyk of ons in die Skrif meer kan leer oor die ware aard en die volle inhoud van nederigheid en die uitwerking daarvan in hulle wat met nederigheid beklee is.