NIE NA DIE VLEES NIE

Daar word baiekeer in die Skrif, en by name die Nuwe Verbond, melding gemaak van die feit dat gelowiges IN die Messias is. Vir baie mense is die konsep "in die Messias" ‘n vae, mistiese en abstrakte konsep wat nie maklik in praktiese terme verduidelik kan word nie. Tog is daar duisende mense wat vandag, sonder ‘n sweempie van twyfel, sal bely dat hulle "in die Messias" is. Romeine 8:1 gee vir ons ‘n heel praktiese verduideliking van wat dit beteken om "in die Messias" te wees: "Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in die Messias Y'shua is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees." Hier kry ons ‘n baie goeie idee van wat dit beteken om "in die Messias" te wees. Dit beteken om nie na die vlees te wandel nie, maar na die Gees. Om buite die Messias te wees beteken om na die vlees te wandel en nie na die Gees nie. Dis eers as ‘n mens IN die Messias is, dat jy dit regkry om nie meer na die vlees te wandel nie, maar na die Gees. Die omgekeerde is ook waar: Dis eers as jy dit regkry om nie meer na die vlees te wandel nie, maar na die Gees, dat jy kan aanspraak maak daarop dat jy IN DIE MESSIAS is.

Wat beteken dit om na die vlees te wandel? Bloot algemeen gesproke, beteken dit om jou te laat lei deur jou eie, menslike, vleeslike en wêreldsgesinde idees, begeertes, drange, voorkeure en tradisies van wat reg en wat verkeerd is. Jou meester en jou dryfveer is die vlees - dit wat jou sinne bevredig, dit wat jou "lekker" laat voel, dit wat die vlees na hunker en dit wat (jy dink) die vlees nodig het om te kan oorleef. Shaul sê onomwonde dat dit uiters gevaarlik is om die vlees jou meester te maak, want in ons vlees woon daar niks goeds nie (Rom 7:18). Die vlees bestaan in wese uit sondige hartstogte wat soos kanker elke greintjie ware lewe uit ons lewens wegvreet. Diegene wat hulle deur die vlees laat lei, dra ook vrugte, maar dis vrugte van die dood (Rom 7:5). Selfs die gedagtes wat deur die vlees voortgebring word, is gedagtes wat tot die dood lei en nie tot die lewe nie (Rom 8:6). Die vlees is in werklikheid daardie mag wat sluimerend in elkeen van ons teenwoordig is en die potensiaal inhou om van jou en my vyande van Elohiem te maak (Rom 8:7). Die belangrikste ding wat ons van die vlees moet weet, is dat die vlees hom nie aan die wet van Yahweh onderwerp nie – doodeenvoudig omdat die vlees, op sigself, nie daardie kapasiteit het nie – die vlees kan homself doodeenvoudig nie aan Yahweh en sy gebooie onderwerp nie (Rom 8:7). Dit wat uit die vlees is, kan Yahweh nie behaag nie (Rom 8:8) en loop uit op die dood (Rom 8:13).

Uit bogenoemde is dit duidelik dat niemand van ons kan bekostig om na die vlees te wandel nie. Dit is ook duidelik dat om IN die Messias te wees, dieselfde beteken as om na die Gees te wandel. Ons gedrag, ons keuses, ja, ons hele lewe, behoort deur die Gees van Yahweh beheers te word. Die Afgesonderde Gees – die Gees wat totaal anders is as die gees wat heers in hierdie wêreld – moet in ons lewens die botoon voer en goeie vrug na vore bring. Handelinge 5:32 herinner ons daaraan dat Yahweh sy Afgesonderde Gees aan diegene gee wat aan Hom gehoorsaam is.

Ons het die afgelope tyd dikwels oor die verskillende gestaltes van gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid gepraat. Almal van ons het tot die besef gekom dat daar nog baie spore van ongehoorsaamheid in ons eie lewens teenwoordig is. Dit is ongehoorsaamheid wat maak dat Yahweh sy Gees van ons onttrek. Dawied het dit alreeds geweet – daarom was sy gebed, ná sy sonde met Batsheva: "Neem u Afgesonderde Gees nie van my weg nie" (Tehielliem 51:11). Ons lewens kan nie deur die vlees EN deur Yahweh se Gees beheers word nie. Gal 5 sê die een begeer teen die ander en die twee staan lynreg teenoor mekaar. Daarom moet ons seker maak dat ons die werke van die vlees in ons lewens tot niet maak.

Dit is ironies dat die Hebreeuse woord vir "vlees" en "goeie nuus" (evangelie) dieselfde wortel het – naamlik "basar" wat oorspronklik die betekenis gehad het van "to be fresh; to be full". Daar is iets wat die vlees en die evangelie in gemeen het: albei straal ‘n varsheid en ‘n volheid uit wat ‘n mens se verbeelding kan aangryp. Die "goeie nuus" van Y'shua is dat die Woord "vlees" geword het en onder ons kom woon het (Joh 1:14) – dat mense in die Messias se lewe iets van die "volheid" van Elohiem kon raaksien (Kol 2:9). Dis egter dieselfde Messias wat sy dissipels daaraan herinner het dat die mens se gees gewillig is, maar die vlees swak (Matt 26:41). Dit wat die vlees op ingestel is, is eenvoudig net so begeerlik en aanloklik ("fresh" and "full") dat dit die effek van die "goeie nuus" wat die Messias gebring het, geheel en al kan neutraliseer.

Die feit dat Y'shua sy dissipels teen die swakheid van die vlees gewaarsku het, is ‘n goeie aanduiding dat ons nie in die eerste plek aan ander mense moet dink as daar oor die gevare van die vlees gepraat word nie, maar dat ons die hand diep in eie boesem moet steek.

As ons die begeerlike en belangrike en selfs noodsaaklike dinge van hierdie wêreld bokant die eise van die evangelie stel, wandel ons nog na die vlees – 1 Yahuganan 2:16

As ons die weg van geregtigheid leer ken het, maar ons draai ons rug op (sommige van) Yahweh se gebooie, wandel ons nog na die vlees – 2 Kefa 2:18,21

As ons ons eie begeertes volg en die heerskappy wat Yahweh oor ons gestel het, verag, wandel ons nog na die vlees – 2 Kefa 2:10

As ons die gebooie en leringe van mense navolg – selfs in nederigheid, vroomheid en selfdissipline – wandel ons nog na die vlees – Kol 2:20-23

As ons ons lewenskoers deur wysbegeerte of deur menslike oorlewering laat bepaal, en nie deur die Messias nie, wandel ons nog na die vlees – Kol 2:8-11

As ons ons vertroue op enige prestasie of poging van onsself plaas, en nie op die Messias nie, wandel ons nog na die vlees – Fil 3:3

As ons dinge vertroetel wat ruimte laat vir onreinheid, ongebondenheid, afgodery, vyandskap, jaloersheid, en dronkenskap, wandel ons nog na die vlees – Gal 5:19-21

Om in die Messias te wees, beteken om ons vlees te laat sterf, net soos wat Hy in die vlees na hierdie wêreld gekom het en na die vlees gesterf het. In elkeen van ons is dit ‘n proses wat die hoogste prioriteit behoort te geniet. Dit sal nie ‘n maklike proses wees en in sommige gevalle sal dit nie oornag gebeur nie. Maar ons moet Yahweh se Gees toelaat om daardie dinge in ons lewens uit te wys wat nie van Hom af is nie en wat ook nie tot sy eer is nie. Dinge wat ons doen wat ons weet téén sy Woord en teen sy wil is, maar wat ons voel ons móét doen – omdat dit vir ons ‘n salaris waarborg, of ‘n bietjie plesier of gemak of kalmte waarborg, of die goedkeuring van mense waarborg, of vrede in die huis waarborg. As ons voel dat die opoffering wat dit van ons gaan vra, te groot is, kom ons weeg dit op teen die moontlikheid dat ons die Gees van Yahweh kan bedroef en stadig maar seker uit ons lewens kan verdryf en uiteindelik ‘m posisie inneem waar ons glad nie meer in die Messias is nie.