OM DOELGERIG TE LEWE

Een van die bekendste persone wat die Holocaust oorleef het, is die Oostenrykse dokter, Victor Frankl, wat wêreldwye bekendheid verwerf het met sy boek, Man’s search for Meaning. Dr Frankl is in 1997 op 92-jarige ouderdom oorlede en het voor sy dood talle lesings aangebied, onderhoude gevoer en ‘n verskeidenheid van gehore toegespreek oor onderwerpe wat almal te make het met die sin, betekenis en doelgerigtheid in die lewe, te midde van die swaarkry en lyding waaraan almal van ons in ‘n mindere of meerdere mate onderworpe is. Dr Frankl het by geleentheid gesê dat wanhoop (Eng: "despair") deur middel van ‘n (wiskundige) formule voorgestel kan word: D = S – M oftewel "Despair equals Suffering minus Meaning". Situasies van lyding ("suffering") hoef nie noodwendig op wanhoop ("despair") uit te loop nie, maar as ‘n mens nie meer sin en betekenis ("meaning") in die lewe kan vind nie, is wanhoop al wat oorbly. Daarom moet ons alles in die stryd werp om weer die sin en betekenis (wat daar potensieel vir elke mens in die wêreld bestaan) te ontdek. Vir sommiges klink dit na ‘n vergesogte filosofiese of sielkundige teorie, ander misbruik dit om hulle eie New Age verwante oortuigings te ondersteun, maar vir hulle wat erns maak met die Skrif, lê daar ‘n groot waarheid opgesluit in dit wat Victor Frankl geleer het uit sy eie (en duisende ander se) ondervinding met swaarkry.

Die Skrif leer ons om met nuwe oë te kyk na die hele kwessie van sin en betekenis. Om van ‘n ander hoek daarna te kyk as wat ons van nature geneig is om te doen. Om nie altyd te vra "waarom?" nie, maar te begin om te vra "waarheen?" en "waarnatoe?" Om nie net te vra "waarom gebeur slegte dinge met my?" maar ook: "Waarom gebeur goeie dinge met my?". Om nie altyd te vra "Waarom het hierdie spesifieke ding gebeur?" nie, maar meer en meer vir onsself af te vra: "Waarom het ek die gawe van lewe ontvang". Iemand het eenkeer gesê: "If a man has a why for his life he can bear with almost any how." Victor Frankl vertel in een van sy onderhoude dat sommiges in die strafkampe na hom toe gekom het en gesê het dat hulle wil selfmoord pleeg. As hy gevra het waarom hulle so-iets sou doen, was die antwoord dikwels: "I have nothing to expect from life anymore". Dan was sy antwoord aan hulle: "What if life still expects something from you?" Van hierdie mense het dan tot hulle groot verbasing uitgevind dat daar belangrike dinge was wat hulle nog in die lewe moes doen: vrede maak met ‘n familielid, of klaarmaak met ‘n projek wat vir ander tot voordeel sou wees, of betrokke raak in iemand anders se lewe of net beskikbaar wees vir iets waarvoor andere nie geskik is nie.

Dis baie belangrik om vir onsself uit te maak waarom goeie dinge met ons gebeur, want so verstaan ons meer van die doel – nie net die doel van elke klein dingetjie wat met ons gebeur nie, maar ook die doel van ons bestaan. En wanneer ons beter verstaan wat die doel van ons bestaan is, hanteer ons dit baie beter wanneer slegte dinge met ons gebeur. Dit gee vir ons ‘n breër perspektief – dit help ons om soos Shaul (Paulus) te sê: "Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die voortreflikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie" (Rom 8:18); die help ons ook om soos Mosheh (Moses) die smaad van die Messias as groter rykdom te ag as die skatte van Egipte (Heb 11:26). Yahweh het ‘n duidelike doel voor oë met alles wat Hy oor ons pad bring. Soms is hierdie doel nie aan ons bekend nie en het dit ook nie altyd veel sin om daaroor te tob en te wonder nie. Maar soms word die doel vir ons duidelik uitgestippel in die Woord. In sulke gevalle help dit ons om kennis te neem van hierdie doel. Dit bring begrip en vastigheid in ons binneste om die groter doel van ons hier-wees te verstaan en beter te vaar wanneer die golwe van lyding en twyfel en swaarkry op ons afspoel. Kom ons ondersoek wat ons hieroor uit die boek van Tehielliem (Psalms) kan aflei.

 

 

  1. Ons word geseën sodat ons die roemryke dade van Yahweh kan vertel
  2. "Bewys aan my guns Yahweh … sodat ek al u roemryke dade kan vertel" (Tehilliem 9:13-14).

  3. Ons word gespaar sodat ons Yahweh en sy werke nie vergeet nie
  4. "Moet hulle nie ombring nie, sodat my volk dit nie vergeet nie" (Tehilliem 59:11).

  5. Ons word saamgesnoer sodat ons gered kan word
  6. "U het aan die wat u vrees, 'n banier gegee … sodat u geliefdes gered mag word" (Tehielliem 60:4-5).

  7. Ons kom in sy teenwoordigheid sodat andere sy weë kan leer ken
  8. "Mag Elohiem ons goedgunstig wees en ons seën; mag Hy sy aangesig by ons laat skyn … sodat die mense op aarde u weg kan ken" (Tehielliem 67:1-2).

  9. Ons ontvang sy getuienisse sodat die opkomende geslagte dit kan hoor
  10. "Hy tog het 'n getuienis opgerig in Yaákov en 'n Torah gegee in Yiesraél … sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders en hulle vertroue op Elohiem kan stel en die dade van El nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar" (Tehielliem 78:5-7).

  11. Ons word opgerig en bemoedig sodat ons in Yahweh bly kan wees
  12. "Sal U ons nie weer lewend maak, sodat u volk in U bly kan wees nie?" (Tehielliem 85:6).

  13. Ons word gehelp en getroos sodat Yahweh se haters beskaamd kan staan
  14. "Doen aan my 'n teken ten goede, sodat my haters dit sien en beskaamd kan staan, omdat U, o Yahweh, my gehelp en getroos het" (Tehielliem 86:17).

  15. Ons word versadig met guns sodat ons tot die einde van ons lewe kan jubel
  16. "Versadig ons in die môre met u goedertierenheid, sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae" (Tehielliem 90:14).

  17. Ons ontvang vergifnis en genesing sodat jongmense geïnspireer kan word
  18. "Yahweh .. wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees … sodat jou jeug weer nuut word soos die van 'n arend" (Tehielliem 103:3-5).

  19. Ons word deur Yahweh gehelp sodat ons kan leer dat hulp uit sy hand is

"Help my, Yahweh my Elohiem! Verlos my na u goedertierenheid … sodat hulle kan weet dat dit u hand is: U, o Yahweh, het dit gedoen" (Tehielliem 109:26-27).