OM WAARLIK TE LEWE

Een van die uitstaande kenmerke van die lewe soos ons dit ken, is dat meeste mense daarbuite op soek is na dinge en projekte en ideale wat vir hulle die lewe sinvol sal maak. Almal van ons het ‘n natuurlike behoefte om dinge te doen wat die lewe aangenaam en genotvol maak. Sommige mense – veral in ons dag – voer hierdie ideaal so ver dat hulle bereid is om risiko’s te neem en hulle eie lewens te waag, in die hoop om uiteindelik te kan sê: "I have lived life to the fullest!" of "Ek het die beste uit die lewe gehaal!". Almal van ons het al op TV gesien tot watter uiterstes die "adrenalien-junkies" sal gaan net om ‘n "kick" uit die lewe te kry. As jy met jou "surfboard" op ‘n 10 meter hoë brander kan oorleef of met jou "bike" ‘n agteroor "somersault" kan maak of met jou "skateboard" ‘n twee verdieping "drop" kan "land" of sonder ‘n balanseerpaal 100 meter bokant die grondoppervlakte oor ‘n kabel kan loop – dán het jy eers werklik gelewe!!

Op die voorblad van hierdie week se "Echo" is daar ‘n advertensie oor ‘n kursus in "Practical Philosophy" wat meld dat hierdie kursus onder meer uitsluitsel sal gee oor vrae soos "Who am I?", "What is the universe?" en "Where do I fit in?". Volgens die advertensie is een van die voordele wat die kusrsus vir jou sal meebring "that you will discover your Wellspring of Happiness". Ek is seker dat baie mense sal belangstel in so ‘n kursus, want wie wil nie sy "Wellspring of Happiness" ontdek nie? Niemand stel belang om net asem te haal, sonder om werklik te lewe nie.

Wat beteken dit volgens die Skrif om waarlik te lewe? Die Skrif sê die pad wat na die lewe lei is nou en smal en daar is min wat dit vind. Om jou hele lewe lank besig te wees om dinge na te jaag wat jy meen sin en betekenis aan jou lewe sal gee, mag miskien tydelike bevrediging gee, maar is dalk glad nie deel van die pad wat na die lewe lei nie. In Matt 10:39 sê die Messias: "Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind." Ons moet hóór wat hierdie vers vir ons probeer sê. Diegene wat hulle lewe probeer vul en hulle lewe probeer sinvol maak met dinge of met ‘n lewenstyl wat die Messias uitsluit, is op pad om hulle eie lewens te verloor.

Hoe verloor ‘n mens jou eie lewe? Jy verloor jou eie lewe as jy slegs fokus op die genietinge van die oomblik en op die hier en nou en nie rekening hou met die ewige bestemming wat die Vader vir ons voorberei het nie. "Want wat baat dit 'n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?" (Matt 16:26). Hoe tragies is dit nie dat soveel mense vandag kan roem en kan praat oor hulle rykdom en bates en oor hulle aardse sekuriteite en oor hulle indrukwekkende prestasies en oor hulle eie talente en vermoëns, maar nie die vrug in hulle lewens vertoon wat tot die ware lewe lei nie. In die gelykenis van die saaier word hierdie mense vergelyk met die saad wat in die dorings geval het. Van hulle word gesê dat hulle die Woord van Yahweh gehoor het en weggegaan het en verstik geraak het deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en geen ryp vrug gedra het nie. Om uit te vind wat dit beteken om waarlik te lewe – nie volgens die standaard van hierdie wêreld nie, maar met ‘n kwaliteit wat uitstyg bo vleeslike genietinge en wêreldse ambisies – is dit nodig dat ons die Skrif sal raadpleeg – ons Skepper, Yahweh, se eie bloudruk vir ware lewe.

  1. OM WAARLIK TE LEWE MOET JY IN DIE LEWENDE EN LEWENDMAKENDE Y'shua GLO
  2. Joh 6:51 "Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid."

  3. OM WAARLIK TE LEWE MOET DIE GEES VAN YAHWEH DIE BEGINSELS VAN LEWE EN VREDE IN JOU HART INPLANT
  4. Rom 8:5-7,11 "Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen Elohiem is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van Elohiem nie, want dit kan ook nie … En as die Gees van Hom wat Y'shua uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat die Messias uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon."

  5. OM WAARLIK TE LEWE MOET JY MET JOU HELE LEWE LIEFHÊ SOOS DIE TORAH DIT UITSTIPPEL
  6. Luk 10:25-28 "En daar het 'n sekere wetgeleerde opgestaan wat Hom versoek het deur te sê: Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? En Hy antwoord hom: Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy? En hy antwoord en sê: Jy moet Yahweh jou Elohiem liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself. Toe sê Hy vir hom: Jy het reg geantwoord; doen dit, en jy sal lewe."

  7. OM WAARLIK TE LEWE MOET JY VERSTAAN WAT DIT BETEKEN OM NIE VIR JOUSELF TE LEWE NIE
  8. Rom 14:7-9 "Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie. Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Meester; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Meester; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Meester. Want hiervoor het die Messias ook gesterwe en opgestaan en weer lewend geword, om oor dode sowel as lewende te heers."

  9. OM WAARLIK TE LEWE MOET JY VIR MEER AS NET HIERDIE LEWE OP DIE MESSIAS HOOP
  10. 1 Kor 15:17-19 "As die Messias nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in die Messias ontslaap het, verlore. As ons net vir hierdie lewe op die Messias hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense."

  11. OM WAARLIK TE LEWE MOET JY FOKUS OP DIE LEWE EN DOELBEWUS JOU RUG DRAAI OP DIE WERKE VAN DIE DOOD
  12. Kol 3:1-8 "As julle dan saam met die Messias opgewek is, soek die dinge daarbo waar die Messias is en aan die regterhand van Elohiem sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met die Messias verborge in Elohiem. Wanneer die Messias, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in voortreflikheid geopenbaar word. Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, waardeur die toorn van Elohiem oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom, waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het. Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond…"

  13. OM WAARLIK TE LEWE MOET JY JOU TONG BEWAAR EN WOORDE VAN LEWE SPREEK
  14. 1 Kefa 3 :8-11 "En eindelik, wees almal eensgesind, medelydend, vol broederliefde en ontferming, vriendelik. Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan beërwe. Want wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, moet sy tong bewaar vir wat verkeerd is, en sy lippe dat hulle geen bedrog spreek nie. Hy moet afwyk van wat verkeerd is, en doen wat goed is; hy moet vrede soek en dit najaag."