WEES BLY, WANT DIS ONMOONTLIK!

Wanneer ons sê iets is onmoontlik, sien ons dit normaalweg as ‘n terugslag en ‘n tragedie dat dit so is. Die implikasie is dat dit gaan oor iets wat ons graag sou wou doen of regkry of bereik, maar sekere beperkinge het dit vir ons onmoontlik gemaak om dit te doen. Woordeboeke gee die volgende definisie van "onmoontlik" of "impossible": "That which cannot be or cannot be done; that which is contrary to the law of nature; that which in itself is possible, but due to certain difficulties or circumstances, it has the appearance of not being feasible or possible." Dit is onmoontlik om twee by twee te tel en vyf te kry. Dit is onmoontlik dat ‘n vierkant en ‘n sirkel dieselfde kan wees. Dit is onmoontlik vir ‘n gewone mens om sonder enige hulp ‘n gewig van een ton op te tel en op ‘n ander plek te gaan neesrsit. Dit is onmoontlik dat iets terselfdertyd reg en verkeerd kan wees. Of dat ‘n sekere belydenis gelyktydig waarheid en leuen kan wees.

In die geskiedenis van die afgelope 2000 jaar het daar dikwels dinge na vore gekom wat as "onmoontlik" bestempel is. In ‘n artikel oor "Christianity" in ‘n bekende ensiklopedie staan daar: "It is impossible, except in a highly tentative way, to distinguish the original teachings of (Y'shua) from the developing teachings about (Y'shua) in early Christian communities." Die punt wat die skrywer probeer maak is dat die oudste manuskripte wat beskikbaar is en wat gebruik word as bronne vir die vertalings van die boeke van die Nuwe Verbond, eers ongeveer 300 jaar (en selfs langer) na Y'shua se lewe hier op aarde op skrif gestel is. Die skrywer sien dit as bykans onmoontlik dat daar nie in hierdie periode van 300 jaar menslike foute kon ingesluip het nie en leerstellinge in hierdie manuskripte opgeneem is wat in werklikheid leerstellinge van die kerk was en nie soseer leerstellinge van die Messias self nie.

Nog ‘n onmoontlikheid, wat aansluit by bogenoemde, word in dieselfde ensiklopedie uitgelig: "In Christianity, Roman Catholicism has assigned a high value to tradition as the living voice of the Church. Protestants have stressed the principle of relying on the authority of the Bible alone, but because the Bible is read and taught in the context of the church—especially in the liturgy—it is virtually impossible to hear it without overtones of traditional interpretation." In hierdie paragraaf gaan dit daaroor dat die Christendom op twee bene staan, naamlik ‘n (Rooms) Katolieke been en ‘n Protestantse been. Die Rooms Katolieke been maak geen geheim daarvan dat sy leerstellinge op die Skrif sowel as die kerklike tradisie gebou is nie. Die Protestantse been, daarenteen, roem daarop dat hy sy leerstellinge slegs op die Skrif baseer en op niks anders nie. Kyk ‘n mens egter na wat in die praktyk van Protestantse kerke gebeur en wat daarin verkondig word, is dit onmoontlik om vol te hou dat die Protestantse been van die Christendom hom nie ook baie sterk op kerklike tradisie verlaat nie. Geen deel van die Christelike kerk – Rooms Katoliek of Protestant – het dit in die geskiedenis reggekry om hom los te wikkel uit die ystergreep van tradisie nie.

In die Skrif self word daar ook heelwat dinge uitgelig wat as "onmoontlik" bestempel is. In die vertaling van die New American Bible van Markus 3:20 staan daar: "He came home. Again (the) crowd gathered, making it impossible for them even to eat." Die situasie wat hier beskryf word is dat daar ‘n skare belangstellendes rondom Y'shua was wat so vasgevang was deur sy leer en sy wonderwerke, dat dit vir hulle onmoontlik was om selfs te eet. In Markus 6:30-31 is daar ‘n soortgelyke situasie. "En die apostels het by Y'shua saamgekom en Hom alles vertel wat hulle gedoen sowel as wat hulle geleer het. En Hy sê vir hulle: Kom julle self in die eensaamheid na 'n verlate plek en rus 'n bietjie. Want daar was baie wat kom en gaan, en hulle het selfs geen geskikte tyd gehad om te eet nie." Dit is baie interessant en veelseggend om te let op die reaksie van die Messias in hierdie situasie waar mense hulle eie fisiese behoeftes totaal op die agtergrond skuif en probeer om te oorleef op ‘n dieet van die een geestelike hoogtepunt na die ander – lering op lering en wonderwerk op wonderwerk. Die Messias het klaarblyklik die gevaar van so ‘n ingesteldheid ingesien – daarom dat Hy sy dissipels aanspoor om in eensaamheid na ‘n verlate plek te gaan en ‘n bietjie te rus. Dit is waar dat die mens nie van brood alleen sal lewe nie, maar van elke woord wat uit die mond van Yahweh uitgaan (Matt 4:4). Dit is egter ook net so onmoontlik om ‘n getroue en volhardende volgeling van die Messias te wees, as ons nie omsien na die mees basiese behoeftes van ons eie liggaam en die mense rondom ons nie.

Een van die bekendste gedeeltes in die Skrif wat van ‘n "onmoontlikheid" praat is waar Y'shua in gesprek gegaan het met die ryk jongman. Ons lees onder meer van hierdie gesprek in Matt 19:16-22 . Nadat die jongman bedroef van Y'shua af weggegaan het, het Y'shua vir die mense gesê: "Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van Elohiem in te gaan". Die dissipels se reaksie was: "Wie kan dan gered word?", waarop Y'shua geantwoord het: "By mense is dit onmoontlik, maar by Elohiem is alle dinge moontlik." Hier het ons ‘n goeie voorbeeld van die onmoontlike moontlikheid dat ‘n mens wat sterflik en aardsgebonde is, nogtans in die koninkryk van Yahweh kan ingaan. Of dit nou ‘n rykman is wat sekuriteit soek in sy besittings of ‘n onverskillige wat plesier soek in wêreldse genietinge of ‘n supergodsdienstige wat sy heil soek in wette en mensgemaakte insettinge, dit bly ONMOONTLIK om met die hulp van enige van hierdie hulpmiddels in die koninkryk van Yahweh in te gaan. Eers as ‘n mens by die punt kom waar jy jou vertroue op hulpmiddels en mensgemaakte strukture opsê en erken dat dit slegs deur die bonatuurlike ingryping van die Almagtige is dat jy gered kan word, slegs deur sy guns en sy voorsiening deur Y'shua die Messias, eers dan word dit wat skynbaar onmoontlik was, ‘n moontlikheid. Byna soos die keer toe Yahweh vir die profeet in Yegezkel 37 gevra het of hy meen die doodsbeendere in die laagte kan weer lewendig word. Al wat die profeet kon uitkry, was: "Meester Yahweh, U alleen weet of dit moontlik is". Uiteindelik is dit Yahweh wat vir die profeet uitstippel: "Ek sal my Gees in julle gee, dat julle lewendig kan word; en Ek sal julle vestig in jul land; en julle sal weet dat Ek, Yahweh, dit gespreek en gedoen het" (vers 14).

Ons het aan die begin gesê dat meeste mense dit as ‘n terugslag en ‘n teleurstelling beskou as iets onmoontlik blyk te wees. Die Skrif noem vir ons ‘n paar voorbeelde waar dit nie ‘n terugslag of ‘n tragedie is dat iets onmoontlik is nie, maar ‘n triomf. Juis die feit dat sekere goed onmoontlik is, is vir ons rede om ons te verbly en te verheug! Een voorbeeld is Hand 2:24 "Hom het Elohiem opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word." Luister ‘n bietjie hierna: Dit was vir die dood onmoontlik om Y'shua vas te hou! Moet ons dit as ‘n terugslag beskou? Verseker nie! Dis die grootste triomf van alle tye. Omdat dit onmoontlik was vir die dood om die Messias vas te hou, het dit ook vir die dood onmoontlik geword om vir jou en my vas te hou – ons wat ons geloof in die Messias gestel het. Omdat Hy uit die dood opgestaan het, is ons opstanding uit die dood gewaarborg. Hier het ons ‘n onmoontlikheid waarvoor ons die Vader nooit genoeg kan loof en prys nie. HalleluYah!!

Nog ‘n voorbeeld is Hand 4:19-20: "Of dit reg is voor Elohiem om julle meer gehoorsaam te wees as Elohiem, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie." Is dit nie dieselfde onmoontlikheid wat ek en jy dikwels binne-in ons ervaar nie? Soms is dit net onmoontlik vir ons om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie. Oor wat die Vader in ons lewens en in andere se lewens gedoen het nie. Moet ons jammer wees daaroor dat dit vir ons onmoontlik is om stil te bly? Allermins! Immers, ons moet praat, ons kan nie anders nie, soos die Messias by geleentheid gesê het: "Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep."

Een laaste voorbeeld kom uit Ivriem (Hebreërs) 11:6: "En sonder geloof is dit onmoontlik om Elohiem te behaag; want hy wat tot Elohiem gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek." Moet ons dit as ‘n jammerte beskou dat dit sonder geloof onmoontlik is om Yahweh te behaag? Nooit nie! Met ons eie werke en met ons eie goeie hoedanighede sou ons Hom nooit kon behaag nie. Selfs met die beste menslike pogings ter wêreld en met die uiterste inspanning van ons eie vlees sal ons Hom nie kan behaag nie. Net met geloof kan ons Hom behaag. Geloof dat Hy is (sy Naam "Yahweh" beteken onder meer "Ek is") en geloof dat Hy ‘n beloner is van die wat Hom soek. Mag ons geloof daartoe lei dat ons die Vader ons lewe lank met ons hele hart sal soek. En mag ons geloof ons help om nooit die beloning uit die oog te verloor wat die Vader belowe het aan die wat Hom liefhet nie (vgl. ZegarYah 8:1-8).