ONS KAN BY HULLE LEER

Met ‘n toer na Israel wat voorlê, waaraan 25 van ons gaan deelneem, is dit ‘n goeie geleentheid om weer ‘n slaggie te kyk na die wel en die wee (en ook die wyshede) van die groep mense wat hoofsaaklik met Israel geassosieer word, nl. die Jode. Daar is baie aspekte van Judaïsme waarmee ons glad nie kan saanstem nie. Ons maatstaf en model vir geloof en lewe, is die Woord van Yahweh en die getuienis van Y'shua die Messias, nie die Yehudiem en hulle Yehudiese doktrines nie. Daar is te veel hiervan wat nie met die Woord ooreenstem nie. Maar dit geld van elke ander godsdienstige stelsel, en veral ook van die Christelike geloof. In sommige opsigte het die Christelike geloof verder van die Woord afgewyk as Judaïsme. Net soos daar egter in die Christelike geloof aspekte na vore kom wat die Woord en die diepste bedoeling van die Woord verhelder en verduidelik, net so is dit ook in die geval van die Joodse verstaan en uitleg van die Woord, oor baie honderde jare. Kom ons kyk of ons nie iets kan leer deur te luister na die Jode en hulle bekende leermeesters nie – deur veral te kyk na die lig wat deur sekere uitsprake gewerp word op die ewige waarhede van die Woord.

  1. Rabbi Jonatan (2 de eeu n.M.) het eenkeer gesê: "If you are planting trees, and someone tells you the Messiah has come, put the sapling in first, then go and welcome the Messiah." ‘n Mens dink hier onwillekeurig aan die woorde van die Messias in MattietYahu 24:23-24 "As iemand dan vir julle sê: Kyk, hier is die Messias! of: Daar! --moet dit nie glo nie. Want daar sal valse messiasse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei." Dit beklemtoon ook die waarheid dat ons ‘n gegewe taak hier op aarde het en dat ons nie hierdie opdrag moet afskeep omdat ons oog slegs op die wederkoms gerig is nie.
  2. Daar is ‘n rabbynse spreuk wat sê: "Do the prohibitions of the Torah not suffice for thee that thou addest others for thyself?" Alhoewel ‘n mens aanvoel dat Judaïsme self oor die geskiedenis beter na hierdie raad moes geluister het, kan ons almal gerus hierdie stuk wysheid ter harte neem. Reg deur die geskiedenis het verskeie groepe (ook binne die Christendom) probeer om dinge te verbied wat nie in die Skrif verbied word nie – en so die diepste bedoeling van die Skrif op ‘n totaal verkeerde manier weergegee. ‘n Mens dink in hierdie opsig aan vegetarisme (die verbod teen die eet van vleis); selibaat (die verbod teen die huwelik); asketisme (die verbod teen genot en ontspanning); geheelonthouding (die verbod teen die gebruik van wyn) en selfs pasifisme (die absolute verbod teen geweld).
  3. In ‘n Joodse kommentaar op die Torah word gesê: "Open robbery is less wicked than secret theft, since he who perpetrates the latter shows he has more respect for the earthly power of man than the vengeance of the Almighty." Weereens kom die woorde van die Messias na vore: "Maar jy, as jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergeld" (MattietYahu 6:3-4).
  4. Hillel die Oudste, wat ‘n bejaarde man was toe die Messias gebore is, het gesê: "What is hateful to you, do not do to your neighbour." Hierdie siening word ewe-eens in die lering van die Messias weerspieel: "Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete" (MattietYahu 7:12). Dieselfde rabbi het nog iets gesê waarna baie gelowiges, wat voel dat dit beter is om hulle totaal van enige vorm van gemeenskap van gelowiges te onttrek, gerus maar kan luister: "Separate not thyself from the community and trust not in thyself until the day of thy death."
  5. Een van die bekende uitsprake in die Mishnah is die volgende: "All Israel share in the world to come except the one who says resurrection has no origin in the Torah." Hierdie uitspraak beklemtoon die belangrikheid van die opstanding van die Messias as die "eersteling uit die dode" (al is dít nie wat die Mshnah in die eerste plek in gedagte gehad het nie) en die waarheid dat ons groot verwagting aan die anderkant van die dood nie die sg. "onmiddellike verplasing" na die hemel is nie, maar die allesoortreffende vooruitsig van die opstanding uit die dode.
  6. Maimonides (12 de eeu n.M.) het êrens teenoor iemand gesê: "Even when men insult me, I do not mind, but answer politely with friendly words, or remain silent (vgl. Y'shua se stilswye toe Hy beledig is) … I do not maintain that I never make mistakes. On the contrary, when I discover one, or if I am convicted of error by others, I am ready to change anything in my writings (slegs Yahweh se Woord is onveranderlik), in my ways and even in my nature (Rom 12:2 "word verander deur die vernuwing van julle gemoed").
  7. Daar is ‘n bekende spreuk onder die Joodse wyses (of "sages"): "Whosoever ponders on four things, it were better for him if he had never been born: what is above, what is below, what is before time, and what will be hereafter." Hierdie waarskuwing is nie gemik teen die bestudering van die Skrif en wat die Skrif self oor hierdie vier temas sê nie. Dit is gemik teen die bestudering van misteries, hipoteses, en sg. "kennis" en "wetenskap" wat oor hierdie vier temas handel, maar wat veel meer probeer sê as wat die Skrif ons toelaat om te sê.
  8. Rabbi Hiyya (4 de eeu n.M.) het gesê: "If a man learns the Torah without intending to fulfil the Torah, it were better for him had he never been born." Hier kan gesien word wat dit werklik beteken om die Torah te "vervul" ( en sodoende beter te kan verstaan wat die Messias ook daarmee bedoel het – sien Matt 5:17-19) en ook hoe belangrik dit is om ‘n dader van die woord te wees en nie net ‘n hoorder wat homself bedrieg nie (Yaakov 1:22).
  9. Heinrich Graetz (1817-1891), ‘n bekende Joodse geskiedkundige, het beweer: "The Jews are not a people like any other … they are a unique politico-religious entity … whose soul is the Torah and whose body is the Holy Land." In ‘n besonderse sin kan baie van ons hiermee identifiseer – ons is meer aangetrokke tot Israel, sy Torah, sy land en (moet ons byvoeg) sy Elohiem, as wat ons tot enige ander groepering in hierdie wêreld aangetrokke is (net soos Rut, die Moabiet, aangetrokke was tot Naomi, haar volk en haar Elohiem).
  10. ‘n Gepaste afsluiting is die Italiaanse Jood Moses Luzzatto (1707-1746) se samevatting van die hoogste doel van ons bestaan: "The essence of the existence of a human being in this world is that he should fulfil the commandments, perform worship and resist temptation. It is unfitting that worldly happiness should mean anything more to him than a mere aid or support in the sense that satisfaction and peace of mind allow him to devote his heart to this service that is resting upon him; and it is fitting that the whole of his attention should be devoted only to the Creator and that he should have no other purpose in any of his actions, whether small or great, except to draw near to Him and to break down all the partitions separating him from his Owner."