ONS TYE IS IN SY HAND

Vir ons as mense is tyd dikwels 'n probleem. Soms sukkel ons met periodes van tyd (wag periodes of periodes van swaarkry) wat vir ons gevoel te lank is. Soms is ons tyd (om 'n sekere taak af te handel) te min en wens ons ons het meer tyd gehad. Dan is daar ook die onbekendheid en die onsekerheid van tyd wat nog in die toekoms lê. En die skuldgevoelens wat ons dikwels beleef omdat ons die tyd wat verby is nie beter benut het of op 'n ander manier deurgebring het. Om nie te praat van hoe benoud dit 'n mens maak as jy van tyd tot tyd ontdek hoe ontstellend vinnig tyd verbygaan en hoe waar dit is wat daar in Psalm 90 staan: "Ons bring ons jare deur soos 'n gedagte".

Vir Yahweh is tyd natuurlik nie so 'n probleem soos vir ons nie. Vir Hom is een dag soos 'n duisend jaar en duisend jaar soos een dag (Tehielliem / Psalm 90:4; 2 Kefa / Petrus 3:8). Hy het tyd gemaak en staan in beheer van daardie faktore wat tyd bepaal en beïnvloed. Hyself bestaan van ewigheid tot ewigheid en staan in 'n sekere sin buitekant, en verhewe bokant, die tyd wat ons lewens beheers. Hy kan selfs die son laat stilstaan of laat terugbeweeg op sy vooraf bepaalde baan, as dit moet. Anders as ons wat dikwels nie weet wanneer om wat te doen nie, het elke ding in Yahweh se beplanning sy bepaalde tyd en sy bepaalde uur (Kohelet / Prediker 3). En dan, seker die belangrikste ding wat ek en jy as gelowiges moet weet en wat onomwonde in die Skrif geleer word: Ons tye is in sy hand – Tehielliem / Psalm 31:15 "My tye is in u hand; red my uit die hand van my vyande en van my vervolgers."

Wat opvallend is in hierdie vers is dat ons tye in Yahweh se hand is, maar dat ons self dikwels in die vyand se hand is, en uit die vyand se hand gered moet word. Seker dié dat ons soveel moeite het om Yahweh se begrip van tyd aan te leer en ons eie lewe volgens daardie verstaan van tyd in te ruim. As die Psalmskrywer sê ons tye is in Yahweh se hand (Heb. "yad"), is die bedoeling ons tye is in sy MAG. Daar is dus nie 'n probleem met ons tye nie, want die ALMAGTIGE het beheer en volle seggenskap daaroor! Ons enigste probleem is dat ons self – ons eie denke en emosies – dikwels in die hand of in die mag van 'n vyand is. Ons laat toe dat ander mense en ander instansies en ander magte aan ons voorskryf hoe ons ons tyd hier op aarde moet uitleef! Die vyand waarvan Ps 31 praat is mense en gesindhede en besluite wat nie die heerskappy en die wysheid en die volmaakte tydsberekening van Yahweh vertrou nie en gedurig besig is om die tyd met geweld uit die hand van Yahweh te probeer ruk. So gebeur dit dat ons teen die wil van Yahweh indruis en 'n koers inslaan wat ons van sy seën en sy shalom vervreem.

In Hand 1:6-8 lees ons hierdie woorde: "Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Meester, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Yiesraél weer oprig? En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye ("chronos") of geleenthede ("kairos") te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie. maar julle sal krag ontvang wanneer die Afgesonderde Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Yerushalayiem sowel as in die hele Yehudah en Shomeron en tot aan die uiterste van die aarde." Aangesien ons nou in die ooreenstemmende tyd is as waarin die Messias hierdie woorde uitgespreek het (enkele dae voor Shavuot), sal dit goed wees om weer by hierdie woorde stil te staan en sommer ook in die res van Handelinge te gaan kyk na wat daar oor TYD geleer word.

Die Messias se antwoord hier is uiters betekenisvol. Terwyl ons mense dikwels die tyd en die tye wil uitpluis en uitlê en veral presies wil weet wanneer die groot gebeure van die eindtyd gaan plaasvind, wys die Messias vir ons waar ons eintlike prioriteite moet lê: Om deur die krag van die Afgesonderde Gees oral (van Yerushalayiem tot aan die uiterstes – Gr. "eschatos" – van die aarde) en altyd (tydig en ontydig – volgens Shaúl in 2 Tim 4:2) getuies van die Messias te wees. Snaaks genoeg, dit is dikwels omdat ons 'n probleem ontwikkel met TYD, dat ons nie uitkom by wat ons eintlike roeping hier op aarde moet wees nie. Kom ons kyk na enkele temas van tyd wat in die boek Handelinge aangeraak word.

  1. TYE VAN DIE VADER. Hy is in beheer van sake en geloof beteken veral dat ons Hom ten volle sal vertrou in sake wat met tyd te make het. Hand 1:7 En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie;
  2. TYD VAN DIE MESSIAS. As die Messias nie in die volheid van die tyd (Gal 4:4) hier op aarde gebore is en as mens aan tyd onderworpe was nie, sou Hy ons nie werklik kon help nie. Hand 1:21 Die manne wat saam met ons rondgegaan het al die tyd waarin die Meester Y'shua by ons in- en uitgegaan het ...
  3. TYE VAN VERKWIKKING. Ons kan hier op aarde waarlik tye van verkwikking beleef omdat ons na Yahweh gedraai het en Hy ons sondes vergewe het. Hand 3:19 Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van Yahweh mag kom.
  4. TYD VAN DIE KONINKRYK. Daar is so 'n tyd wat voorlê. Alhoewel hierdie tyd met Israel te make het, is ons ook besig om ons vir hierdie tyd voor te berei. Hand 1:6 Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Meester, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Yiesraél weer oprig?
  5. TYE VAN ONKUNDE. Deur so 'n tyd het ons ook gegaan. Deur die guns van Yahweh het dit nou verander en deur ons getuienis wil Yahweh ook vir ander uitlei uit hulle tyd van onkunde. Hand 17:30 Elohiem het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer.
  6. TYD VAN DIE BELOFTE. Ons is ook nou in so 'n tyd. Dit is Yahweh se beloftes wat ons elke dag motiveer en in staat stel om teleurstelling te oorkom. Hand 7:17 En namate die tyd van die belofte wat Elohiem aan Avraham met 'n eed beloof het, nader kom, het die volk toegeneem en vermeerder in Mietsrayiem.
  7. TYE VAN DIE HERSTEL. Ons kan elke dag lewe met die vaste wete dat daar "tye van die herstel van alle dinge" is wat voorlê en dat daar niks is wat Yahweh nie met hierdie "tye" kan herstel nie. Hand 3:21 Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die herstel van alle dinge, waarvan Elohiem van ouds af gepraat het deur die mond van al sy afgesonderde profete.