ONS VERDRAAIDE, VERWARDE WÊRELD
In ‘n brief wat ek die afgelope week ontvang het vra iemand ‘n paar vrae oor die Messias (soos: Moet ons Hom sien as mens of as Elohiem en is dit waar dat Hy uit ‘n maagd gebore is?). Die brief word afgesluit met die woorde: "I do NOT accept or believe in the dogmatic, pagan values of modern Christianity at all." Ek wil nie verder uitbrei oor die inhoud van die brief nie. Ek wil bloot aansluit by hierdie stelling oor "modern Christianity". Toe ek dit lees, het ek net opnuut weer besef: WAT ‘N VERDRAAIDE EN MISLEIDE WÊRELD IS DIT NIE WAARIN ONS WOON NIE? Die stelling wat hierdie briefskrywer gemaak het, is skokkend, maar nie ongegrond nie. Die moderne gestalte van die Christendom maak aanspraak daarop dat hy met sy "christelike waardes" die antwoord het vir al die probleme van hierdie wêreld, maar as ‘n mens hierdie waardes van naderby beskou, kom jy tot die skrikwekkende ontdekking: Baie van hierdie waardes kom nie uit die Skrif nie, maar is gebaseer op dogmatiese leerstellinge van mense. Baie van hierdie waardes het ‘n heidense konnotasie – daar is selfs sogenaamde "Christelike waardes" wat direk teen sekere uitsprake en opdragte en beginsels van die Skrif indruis. En tog word die Skrif gebruik en aangehaal as bron van hierdie waardes. Geen wonder daar is soveel verwarring in die gemoedere van mense wat probeer om die Skrif te verstaan en uit te leef nie.
Heelwat van die briewe wat ons oor die afgelope klompie jare van mense regoor die land ontvang het, bevestig dat ons ons in ‘n grootliks verdraaide wêreld bevind. Iemand skryf onlangs dat hulle op ons webwerf afgekom het en geweldig beïndruk is en baie seën daaruit geput het. Ek wou eers opgewonde raak, maar toe wou die persoon weet of ons ook aan ‘n blanke Israel as die uitverkore volk glo. Ek was nie seker of die briefskrywer self hierdie oortuiging gedeel het nie. Ek het ‘n kort briefie teruggestuur en nooit weer van die persoon gehoor nie. Hier is die belangrikste deel van die brief wat ek teruggestuur het.
Wat jou vraag oor die uitverkore volk betref - die Skrif is duidelik daaroor dat Yahweh vir Hom een fisiese volk (Israel) uitgekies het en dat sy bemoeienis met hierdie volk sal voortgaan tot heel aan die einde. Reg van die begin af was dit egter sy bedoeling dat deur Avraham en sy nageslag "al die geslagte van die aarde" geseën sou word. Dit beteken dat Moabiete soos Rut, Italianers soos Cornelius (Handelinge 10), wit Suid Afrikaners soos ekself en bruin of swart Suid Afrikaners (soos tientalle wat ek al ontmoet ek en oor wie se redding daar by my geen twyfel is nie) die waarheid van Jesaja 56 en Rom 11 kan ervaar - Om by Yahweh aan te sluit (op dieselfde voorwaardes as wat Hy teenoor Israel uitgestippel het) en te weet: Ek is nie 'n droë boom nie, maar soos 'n wilde olyfboomtak wat op die oorspronklike olyfboom (Israel) ingeënt word. Daarom het ek 'n naam ontvang wat beter is as seuns en dogters - 'n ewige naam wat nie uitgeroei sal word nie. Daar is geen sprake van iets soos 'n "blanke Israel" in die Skrif nie. Tot sover, wat hierdie brief betref.
Hierdie en ander briewe het my laat besef dat die verwarring wat daar in die gemoedere van baie mense, oor baie onderwerpe, bestaan, het sy oorsprong by ‘n basiese, tweeledige verwarring. Eerstens, ‘n verwarring oor wie die Almagtige en sy Seun wat Hy na hierdie wêreld gestuur het, werklik is. En tweedens, ‘n verwarring oor wie die mense is wat die Almagtige, deur sy Seun, aan Homself verbind het. Hierdie twee aspekte kan beskou word as die hoofkomponente van ware geloof. Wie is die mense wat (reg) glo en wie is die Wese in wie daar geglo moet word? As daar onduidelikheid en verwarrende boodskappe is oor die Een in wie ons waarlik moet glo, kan ‘n mens verwag dat daar grootskaalse dwaling sal wees. Maar ons kan verwag dat daar net soveel dwaling sal wees as daar onsekerheid en misleiding bestaan oor watter soort mense kwalifiseer om in ‘n verhouding met die Almagtige te staan.
Iemand het vir my ‘n versameling epos-briewe oor die politieke situasie in Suid Afrika gestuur waarin daar heelwat verwysings na die voorspellings van Siener van Rensburg gemaak word. Die inhoud van hierdie stuk is net nog ‘n bevestiging van hoe verdraaid mense in hulle sieninge kan raak. Die briewe wat aangehaal word, verteenwoordig die siening dat slegs blanke Suid Afrikaners seker kan wees van die guns en die seën van die Almagtige. Blanke Suid-Afrikaners word voorgestel as die uitverkore volk en die beloftes in die Skrif wat teenoor Yisrael gemaak is, word van Yisrael losgeskeur en eksklusief op "blanke boere" van toepassing gemaak. Dit is "replacement theology" in sy mees klassieke gestalte. My eerste reaksie toe ek dit alles gelees het, was een van skok en selfs droefheid oor hoe mislei mense kan wees.
Die "shalom" waarvan die Woord praat, wat hier op aarde herstel sal word, sal beslis nie 'n "kleur-geöriënteerde" shalom wees nie - nee, dit sal "geloofs-geöriënteerd" wees en die sentrum daarvan sal Yerushalayiem wees, nie Pretoria nie. Die Skrif herinner ons daaraan dat ons "vreemdelinge" in hierdie wêreld is en roep ons op om ons geloof tot die einde te bewaar en te beskerm - nie ons kultuur, of ons geskiedenis of ons politieke erfenis, of selfs ons christelike waardes, wat besoedel is deur die "wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu" (Efes 6:12) nie. Daar moenie by ons enige verwarring wees oor wie die mense is wat Yahweh ingetrek het by sy verbond wat Hy uitsluitlik met Yisrael, sy volk aangegaan het nie.
Dit bring ons by die vraag: Wat van Geloftedag? Die herdenking van ‘n unieke oorwinning, meer as 160 jaar gelede, op 16 Desember 1838, toe ‘n groepie gelowige voortrekkers hulleself by Bloedrivier in ‘n lewensgevaarlike situasie bevind het en ‘n gelofte teenoor die Almagtige gemaak het dat as Hy hulle in die stryd teen die vyand sou beskerm, hulle daardie dag elke jaar soos ‘n Sabbat sou deurbring. Ek wonder of ons almal nog bewus is van hierdie voorval uit ons land se geskiedenis. Die ironie is dat ‘n mens selfs in hierdie geskiedenis ook die duidelike tekens van ons verdraaide en verwarde wêreld kan sien …
In die Gelofte het ons voorvaders spesifiek na die Sabbat en na die Naam van die Allerhoogste verwys. In die eerste deel van die Gelofte staan daar: "As Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, sal ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag, soos ‘n Sabbat, deurbring …" In die laaste deel van die Gelofte staan daar: "Want die eer van sy Naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van die oorwinning aan Hom te gee." In hierdie plegtige belofte word daar beide na die Shabbat en die Naam van die Allerhoogste verwys, sonder dat enige een van die teenwoordiges die ware betekenis van die Shabbat of die Naam van die Allerhoogste geken het!
Is jy en ek aan hierdie gelofte gebind? Dit bly ‘n gelofte en die Skrif se oproep is duidelik: "Betaal jou geloftes aan die Allerhoogste" (Tehilliem 50:14; vgl. Bemiedbar 30:2; Devariem 23:21; Kohelet 5:4). Maar wat as iemand anders die gelofte namens my gemaak het? Dan geld dit nog steeds as ‘n gelofte – ek kan myself nie sommer net ewe gerieflik daaraan onttrek nie (vgl. 1 Shemuel 1:11). Wat as ek myself nie as deel beskou van die groep mense wat hierdie gelofte gemaak het nie? Die gelofte is nie gemaak in ‘n konteks van "wit" teenoor "swart" nie. Die konteks was gelowiges (bestaande uit Afrikaansprekendes, Engelsprekendes, witmense, buinmense, sowel as swartmense) wat in ‘n lewensbedreigende situasie verkeer het. In hulle nood het hulle die Vader aangeroep en Hy het hulle verhoor – selfs al het hulle nie sy ware Naam geken en daardie Naam bo alle ander name aangeroep nie. En net soos die Vader nie hulle gelofte geminag het nie, ondanks die feit dat hulle nie sy Naam geken het en nie sy Shabbat op die regte manier gevier het nie, net so behoort ons ook nie die gelofte (om dié redes) te minag nie.
Voordat ons egter daaraan kan dink om die gelofte gestand te doen, moet ons eers seker maak dat ons afstand doen van elke greintjie verwarring wat daar in ons eie gemoed mag bestaan. Veral die verwarring oor wie die Almagtige is, oor wat sy Naam is, oor Wie sy Seun is en wat die dag is wat Hy vir Homself as rusdag afgesonder het. En dan ook die verwarring oor wie sy eiendomsvolk is. Oor wie Yisrael nou eintlik is en hoe die 12 stamme van Yisrael deur Yahweh se ongelooflike voorsiening behoue gebly het en watter geweldige voorreg en guns dit is om as iemand wat oënskynlik ‘n totale buitestaander is, by Yahweh en sy volk aan te sluit en te mag deel in die voorregte van die verbond. Eers as ‘n mens hieroor duidelikheid het, is daar geen rede om jou te distansieer van ‘n gelofte waarin dit ten diepste daaroor gaan om die eer van Yahweh se Naam te beklemtoon deur die roem en die eer van die oorwinning aan Hom te gee nie.