ONUITPUTLIKE BRON VAN WYSHEID

Die Wysheid en Waarheid wat ‘n mens in die Woord van Yahweh aantref, word dikwels op maniere aan ons oorgedra wat so verrassend eenvoudig is, dat ons met ons teoretiese en akademiese ingesteldheid, maklik daaroor kan lees sonder om dit raak te sien. Die Afrikaanse woord "onuitputlik" (Engels: "inexhaustible") is in hierdie opsig baie beskrywend en veelseggend. Die Woord van Yahweh is onuitputlik in die sin dat ‘n mens dieselfde gedeelte weer en weer kan lees en elke keer ‘n nuwe waarheid daarin ontdek, wat jy voorheen nog nie só raakgesien het nie. Dit is soos ‘n waterbron, kom ons noem dit ‘n "put", wat net nooit leeg of "uitgeput" raak nie – dit hou aan om vars, lewegewende water voort te bring wat vir hulle wat daarna soek, telkens soos ‘n oase in die woestyn is.

Die interessante is dat die begrip "put" male sonder tal in die Skrif voorkom en dat dit dikwels binne ‘n konteks gebruik word waarin ‘n baie belangrike waarheid aan ons oorgedra word. Die mees algemene woorde vir "put" in die Skrif, is die Hebreeuse woorde "be’er" en "boor" wat albei van die werkwoord "ba’ar" afgelei is. "Ba’ar" beteken "om te grawe; om in te grawe; om in te graveer; om duidelik te maak; om te verklaar". Hierdie woord word onder meer in Devariem 1:5 gebruik: "Oos van die Yarden in die land Moav het Mosheh onderneem om hierdie wet te verklaar ("ba’ar") deur te sê …" Ek glo dat Yahweh deur die eenvoudige en bekende beeld van ‘n put sekere belangrike waarhede aan jou en my wil "verklaar" – in ons harte wil "ingraveer". Kom ons kyk eers kortliks na ‘n aantal bekende putte in die Skrif …

  1. Die put van Hagar (Lagai-Roï, in Egipte) – Bereshiet 16:14; 21:19.
  2. Die put van Avraham (Be’er-sheva) – Bereshiet 21:22-31.
  3. Die put van Rivka (in Haran, hedendaagse Turkye) – Bereshiet 24:11-15.
  4. Die putte van Yitsgak (o.a. Rehoboth = "breë plekke") – Ber 26:18-22.
  5. Die put van Ragel (ook in Haran) – Bereshiet 29:2.
  6. Die put van Mosheh (in Midian = Saoedi-Arabië) – Shemot 2:15-16.
  7. Die put van Yosef (Dotan in Samaria) – Bereshiet 37.
  8. Die put van YermeYahu (Yerushalayiem) – YermeYahu 38.
  9. Die put van Daniel (Babilonië = Irak) – Daniel 6.
  10. Die put van Yaakov / Samaritaanse vrou (Shigem = Nablus) – Yahug. 4.

Putte het in die Skrif soms ‘n sterk, negatiewe konnotasie – selfs die doderyk word voorgestel as ‘n put waarin afgestorwenes neerdaal. Op ander plekke word putte weer gebruik in ‘n konteks waarin gelowiges bemoedig en in hulle geloof versterk word. Kom ons laat die Vader toe om ‘n paar van hierdie lesse op ons harte in te graveer.

  1. Putte van onbeskaamde leuens – soos Yosef se broers wat hom in ‘n put gooi en dan te kenne gee dat ‘n wilde dier hom opgeëet het – Bereshiet 37:20.
  2. Putte van onbesnede ore – soos die mense in YermeYahu se tyd wat hulle boosheid fris hou soos ‘n put sy water fris hou – YermeYahu 6:7-10.
  3. Putte van onderdrukking van die waarheid – soos die vorste wat YermeYahu in ‘n put laat afsak het omdat hulle nie van sy profetiese woord gehou het nie – YermeYahu 38:6.
  4. Putte van tragiese selfvernietiging – soos die een wat self val in die put wat hy vir ander gegrawe het – Tehilliem 7:15.
  5. Putte van hopelose uitsigloosheid – soos die inwoners van Tsion wat met putte sonder water vergelyk word – ZegarYah 9:11-17.
  6. Putte van onverdiende guns – soos Yisrael wat uit Yahweh se hand ontvang het: "groot en mooi stede wat jy nie gebou het nie, huise vol van allerhande goed wat jy nie gevul het nie, uitgekapte putte wat jy nie uitgekap, en wingerde en olyfbome wat jy nie geplant het nie" – Devariem 6:10-11.
  7. Putte van dankbare getuienis – soos Dawid wat nie anders kan as om te getuig van die Een wat hom uit die put van vernietiging en die modderige slyk opgetrek het nie – Tehilliem 40:1-10.
  8. Putte van onverwagse bemoediging – soos die regverdiges wat opgeroep word om na te dink oor die holte van die put waaruit hulle gegrawe is – YeshaYahu 51:1-8.
  9. Putte van onwankelbare lojaliteit – soos die wyse Shelomo wat sy seun aanmoedig om water uit sy eie reënbak en strome uit sy eie put te drink – Mishleh 5:15.
  10. Putte van verstandige besluite – soos die vermaning dat die mens in die dae van sy jonkheid aan sy Skepper moet dink … voordat "die kruik by die fontein gebreek word en die wiel stukkend in die put val" – Kohelet 12:1-7.