OP GEREEDHEIDSGRONDSLAG

Om gereed te wees, of om iets of jouself gereed te maak met die oog op die toekoms, speel ‘n baie belangrike rol regdeur die Skrif. Die volk moes gereed maak om die woorde te hoor wat Yahweh by Sinai aan hulle wou bekendmaak. Die priesters en die Leviete moes sake gereed kry in die plek wat vir Yahweh afgesonder is. Die leiers en die bevelvoerders moes die volk dikwels gereed kry vir ‘n belangrike veldslag. Die bouers van die tempel moes alles gereed kry om so ‘n groot bouprojek te begin. In die tempel moes daar ‘n plek gereed gemaak word vir die ark van Yahweh. Voor elke Shabbat en voor elke feesdag moes elkeen gereedmaak om die dag of die fees voorbereid binne te gaan. Die profete het Yahweh se woord aan die volk gebring sodat hulle gereed en voorbereid kon wees vir moeilike tye wat voorlê en in sy wysheid het Yahweh talle dinge gereed gemaak – reeds vóór die grondlegging van die wêreld – vir diegene wat Hy uitverkies het.

Die woord wat normaalweg vir gereedmaak of voorberei gebruik word, is "kun" (die "u" word uitgespreek soos die "oe" in "maroen"). Die woord het baie fasette en kan onder meer beteken: "om reg of regop te wees of te staan; om vas te stel of te bevestig of te grondves; om sekerheid en vastigheid te hê; om voorbereid en gereed te wees." Sonder hierdie eienskap sal gelowiges eenvoudig nie kan oorleef nie. Daar is net te veel dinge wat onverwags met ons kan gebeur – baie hiervan is traumaties, ontwrigtend en selfs vernietigend. Die Woord stel dit onomwonde dat ons voorbereid moet wees vir wat ook al oor ons pad mag kom. Presies hóé ons voorbereid moet wees (en deur Yahweh voorberei word), kom na vore in die volgende gedeeltes:

Exo 15:17 U bring hulle in en plant hulle op die bergland van u erfenis, die plek, o Yahweh, wat U as vaste woonplek vir U berei ("kun") het, die afgesonderde plek wat u hande gestig het.

Deu 32:6 Durf julle dit Yahweh vergeld, o dwase en onwyse volk? Is Hy nie jou Vader wat jou geskape het nie; het Hy jou nie gemaak en jou voorberei ("kun") nie?

1Sam 7:3 Maar Shemuél het met die hele huis van Yiesraél gepraat en gesê: As julle met jul hele hart julle tot Yahweh bekeer, verwyder dan die vreemde magtiges en die Ashterot onder julle uit, en rig ("kun") julle hart op Yahweh (PREPARE YOUR HEARTS UNTO YAHWEH) en dien Hom alleen; dan sal Hy julle red uit die hand van die Pelieshtyne.

1 Kro 14:2 So het Dawied dan gewaargeword dat Yahweh hom as koning oor Yiesraél bevestig het ("kun") en dat sy koningskap hoog verhewe was ter wille van sy volk Yiesraél.

1 Kro 29:16 Yahweh onse Elohiem, hierdie hele rykdom wat ons berei het ("kun") om vir U, vir u afgesonderde Naam, 'n huis te bou - dit kom uit u hand en dit behoort alles aan U.

Ezr 7:10 Want Ezrah het sy hart daarop gerig ("kun") om die Torah van Yahweh te ondersoek en te betrag, en om Yiesraél die insettinge en verordeninge te leer.

Psa 10:17 Yahweh, U het die begeerte van die ootmoediges gehoor; U sal hulle hart versterk ("kun"), u oor sal luister

Psa 37:23 Deur Yahweh word die gange van 'n man bevestig ("kun"), en Hy het 'n welbehae in sy weg.

Psa 40:2 en Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op 'n rots gestel; Hy het my gange vasgemaak ("kun").

Psa 51:10 Skep vir my 'n rein hart, o Elohiem, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste ("kun") gees.

Psa 57:7 (8) My hart is gerus ("kun"), o Elohiem, my hart is gerus ("kun"); ek wil sing en psalmsing.

Psa 78:8 en nie word soos hulle vaders nie, 'n koppige en rebelse geslag, 'n geslag met 'n onvaste ("lo hakun") hart en wie se gees nie trou was teenoor El nie.

Psa 90:17 En laat die lieflikheid van Yahweh onse Elohiem oor ons wees, en bevestig ("kun") die werk van ons hande oor ons, ja, die werk van ons hande, bevestig dit!

Psa 101:7 Hy wat bedrog pleeg, mag binne-in my huis nie bly nie; wie leuens praat, kan voor my oë nie bestaan ("kun") nie.

Psa 112:6-7 Want hy sal nooit wankel nie; Lamed. die regverdige sal in ewige herinnering wees. Hy vrees nie vir slegte tyding nie; Noen. sy hart is gerus ("kun"), vol vertroue op Yahweh.

Psa 119:133 Maak my voetstappe vas ("kun") in u woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie.

Psa 141:2 Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig vasstaan ("kun"), die opheffing van my hande soos die aandoffer.

Spr 4:25-27 Laat jou oë reguit kyk en jou ooglede hulle reg voor jou uit hou. Maak die pad van jou voet gelyk, en laat al jou weë vas ("kun") wees, wyk nie regs of links af nie, hou jou voet ver van boosheid.

Spr 16:3 Laat jou werke aan Yahweh oor, dan sal jou planne uitgevoer ("kun") word (d.w.s. jou planne sal vas en seker wees).

Spr 16:9 Die hart van die mens dink sy weg uit, maar Yahweh rig ("kun") sy voetstappe.

Spr 21:31 Die perd word reggemaak ("kun") vir die dag van die geveg, maar die oorwinning is deur Yahweh.

Spr 22:17-18 Luister na die woorde van die wyse manne, en let op my kennis. Want dit is lieflik as jy dit in jou binneste bewaar; mag hulle tesame gereed lê ("kun") op jou lippe.

Spr 24:3 Deur wysheid word 'n huis gebou, en deur verstand word dit bevestig ("kun").

Spr 30:25 die miere is nie 'n sterk volk nie, en tog berei hulle ("kun") hul voedsel in die somer.

Jes 54:13-14 En al jou kinders sal deur Yahweh geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees. Deur geregtigheid sal jy bevestig ("kun") word; wees ver van verdrukking, want jy hoef nie bevrees te wees nie; en ver van verskrikking, want dit sal nie by jou kom nie.

Jes 62:6-7 o Yerushalayiem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat voortdurend die hele dag en die hele nag nie sal stilbly nie. O Julle wat Yahweh herinner aan sy beloftes - moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Yerushalayiem bevestig ("kun") en maak tot 'n lof op aarde!

Jer 10:23-24 Ek weet, o Yahweh, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan 'n man om te loop en sy voetstappe te rig ("kun") nie. Tugtig my, Yahweh, maar met mate; nie in u toorn, dat U my nie te klein maak nie.

Hos 6:3 En laat ons ken - laat ons dit najaag om Yahweh te ken; sy opgang is so seker ("kun") soos die dagbreek, en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei.

Amo 4:12 Daarom sal Ek so met jou handel, o Yiesraél; omdat Ek so met jou sal handel - maak jou klaar ("kun") om jou Elohiem te ontmoet, o Yiesraél!