ONBEVREES IN DIE VREES VAN YAHWEH

 

Om Yahweh te vrees is ‘n oproep wat reg deur die Skrif (Voor- sowel as Na-Messiaanse Geskrifte) aan die adres van gelowiges gerig word.   Dit word deurgaans voorgehou as ‘n noodsaaklike karaktereienskap van hulle wat begeer om Yahweh te behaag en die Messias aan te hang.  ‘n Mens kry egter die indruk dat hierdie begrip nie altyd reg verstaan word nie.  Soms word die vrees van Yahweh verwar met ‘n ekstreme vorm van wettisisme waarin “moets” en “moenies” voorgehou word wat nie deur die Skrif beveel of verbied word nie.  Aan die ander kant word die vrees van Yahweh soms verwar met vrees vir mense of vrees vir verwerping deur die kerklike gemeenskap of selfs vrees vir etikettering as ‘n sekte.  Dit is glad nie onmoontlik nie dat iemand onder die indruk mag verkeer dat hy/sy in die vrees van Yahweh wandel, maar in werklikheid ‘n weg bewandel wat direk indruis teen wat die Skrif bedoel met die “vrees van Yahweh”.  Dit is daarom van die grootste belang dat ons uit die Skrif seker moet maak wat presies bedoel word met die vrees van Yahweh.

 

1.                      Die vrees van Yahweh kom voor by mense wat ontdek het hoe afgesonder en groot en barmhartig Yahweh is.

1 Shemuel (Sam) 12:24 “Vrees net Yahweh en dien Hom getrou met julle hele hart; want kyk watter groot dinge Hy by julle gedoen het.”

Openb 15:4  “Wie sal U nie vrees nie, Yahweh, en u Naam nie lof toebring nie? Want U alleen is afgesonder”

 

2.                      Die vrees van Yahweh is ‘n eienskap wat Yahweh self verlang en aanmoedig in die lewens van hulle wat aan Hom verbind is.

Tehilliem (Ps) 147:11 “Yahweh het ‘n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop.”

Hand 10:34-35  “Ek sien waarlik dat Elohiem geen aannemer van die persoon is nie,  maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.”

 

3.                      Die vrees van Yahweh kan nie losgemaak word van gehoorsaamheid aan Yahweh en die hou van sy gebooie nie.

Bereshiet (Gen) 22:12  “En Hy sê: Moenie jou hand na die seun uitsteek nie ... want nou weet Ek dat jy Elohiem vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.“

Devariem (Deut) 4:10  “Vergader die volk ... Ek sal hulle my woorde laat hoor, dat hulle kan leer om My te vrees al die dae wat hulle op die aarde lewe, en dit aan hulle kinders kan leer.”

Devariem (Deut) 5:29  “Ag, as hulle maar so ‘n hart gehad het om My te vrees en al my gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan.”

Tehilliem (Ps) 112:1  “Geseënd is die man wat Yahweh vrees, wat ‘n groot welbehae in sy gebooie het.”

Kohelet (Pred) 12:13  “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees Elohiem en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense.”

YermeYahu (Jer) 32:40  “En Ek sal ‘n ewige verbond met hulle sluit ... en Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie.” (vgl. YermeYahu 33:33)

Ivriem (Heb) 12:28  “Daarom, omdat ons 'n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so Elohiem welbehaaglik dien met eerbied en vrees” (lees die hele hoofstuk).

 

4.                      Die vrees van Yahweh vind neerslag in ‘n innerlike gesindheid van liefde vir die Almagtige, sowel as uiterlike dade wat Hom eer.

Shemot (Eks) 1:17  “Maar die vroedvroue het Elohiem gevrees en nie gedoen soos die koning van Mitsrayiem (Egipte) aan hulle gesê het nie, maar die seuntjies laat lewe.”

1 Melagiem (Kon) 18:3, 4  “En OvadYah het Yahweh baie gevrees. Want toe Izével die profete van Yahweh uitgeroei het, het OvadYah honderd profete geneem en hulle vyftig by vyftig man in ‘n spelonk weggesteek en hulle met brood en water onderhou.”

1 Kor 11:3-5  “Maar ek wil hê dat julle moet weet dat die Messias die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en Elohiem die hoof van die Messias.  Elke man wat bid of profeteer met iets op sy hoof, doen sy hoof oneer aan;  maar elke vrou wat bid of profeteer met onbedekte hoof, doen haar hoof oneer aan; want dit is een en dieselfde asof haar hoof geskeer is.” (vgl. Mal’agi 1:6)

 

5.                      Die vrees van Yahweh is ‘n fontein van lewe en het niks te make met dooie werke nie.

Mishleh (Spr) 14:27  “Die vrees van Yahweh is ‘n fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk.”

Efes 2:1  “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes.”

Ivriem (Heb) 9:14  “Hoeveel te meer sal die bloed van die Messias, wat Homself deur die ewige Gees aan Elohiem sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende Elohiem te dien” (Die Skrif praat van 2 verskillende soorte “dooie werke”).

 

6.                      Die vrees van Yahweh kan by uitnemendheid gesien word by hulle wat sy Naam eerbiedig en op die regte manier gebruik.

Devariem (Deut) 6:13  “Jy moet Yahweh jou Elohiem vrees en Hom dien; en by sy Naam moet jy sweer.”

Devariem (Deut) 28:58  “As jy nie sorgvuldig al die woorde van hierdie wet hou wat in hierdie boek geskryf is, om die roemryke en gedugte Naam, Yahweh jou Elohiem, te vrees nie ...”

1 Melagiem (Kon) 8:43  “sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken, om U te vrees soos u volk Yisra’el...”

Tehilliem (Ps) 86:11  “Leer my, Yahweh, u weg: ek sal in u waarheid wandel; verenig my hart tot die vrees van u Naam.”

YeshaYahu (Jes) 50:10  “Wie is daar onder julle wat Yahweh vrees, wat na die stem van sy Kneg luister, wat in duisternisse wandel en geen ligstraal sien nie? --laat hy vertrou op die Naam van Yahweh en steun op sy Elohiem.”

Mal’agi (Mal) 3:16  “Toe het die wat Yahweh vrees, met mekaar gespreek; en Yahweh het dit opgemerk en gehoor, en daar is ‘n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat Yahweh vrees en sy Naam eer.”

Openb 15:4  “Wie sal U nie vrees nie, Yahweh, en u Naam nie lof toebring nie? ... want al die nasies sal kom en voor U aanbid, omdat u regverdige dade openbaar geword het.”

 

7.                      Die vrees van Yahweh is die een eienskap wat ons in staat stel om die toekoms sonder vrees, ja met blydskap en verwagting tegemoet te gaan.

Tehilliem (Ps) 103:17-18  “Maar die goedertierenheid van Yahweh is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders,  vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen.”

Tehilliem 115:13  “Hy sal diegene seën wat Yahweh vrees, die kleintjies saam met die grotes.”

MattitYahu (Matt) 10:28  “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in Ghehenna.”

Lukas 12:32  “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het 'n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.”

1 Yahuganan (Joh) 4:18  “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.”