OOR WESELS, WOORDE EN WAARHEID
'n Wesel (Engels: "weasel") is 'n klein roofdiertjie, soortgelyk aan 'n muishond of 'n meerkat, wat in meeste kontinente voorkom (maar nie in die Suide van Afrika nie) en wat om die een of ander rede nog altyd die verbeelding van mense aangegryp het - soveel so dat daar letterlik honderde kinderstories is wat op die lewe van 'n wesel gebaseer is, volwasse verhale wat die simboliese betekenis van 'n wesel probeer uitbeeld, gedigte en liedere wat oor wesels geskryf is, en tradisies wat rondom wesels ontstaan het wat in sommige lande reeds baie honderde jare oud is.
So is daar 'n gewilde liedjie (met gepaardgaande animasie video) wat verlede jaar in Amerika sy verskyning gemaak het, waarin gesing word dat 31 Junie, 'n dag wat in werklikheid nie bestaan nie, nasionale "Weasel stomping Day" is (Junie het net 30 dae). In die video word daar op 'n humoristiese manier te kenne gegee dat 31 Junie die dag is waarop almal hulle groot stewels moet aantrek, hulle Viking valhelms moet aantrek, Mayonnaise op hulle grasperke moet smeer om die wesels mee te lok en dan al wat 'n wesel is onder hulle voete moet vertrap. 'n Mens kan jou voorstel dat die "People against cruelty to Animals" groepe heftig teen so 'n video beswaar sou aanteken en miskien ook met goeie reg, maar daar is 'n tong-in-die-kies element in die video wat 'n mens nie kan miskyk nie en een van die grootste "weasel stompers" op die video dra selfs 'n T-hemp met die afkorting PETA daarop (PETA is die afkorting vir: "People for the Ethical Treatment of Animals").
Niemand wat eerbied het vir die Skepper en sy skepping kan dit goedkeur as diere sommer net links en regs doodgemaak word nie. Maar miskien is dit juis waarom die liedjie se dat dit net op die 31 ste Junie kan gebeur - 'n dag wat glad nie bestaan nie. En dalk, ten spyte van die humoristiese inslag van die liedjie, is daar 'n ander dimensie met 'n dieper boodskap opgesluit in hierdie lied. Regdeur die geskiedenis is 'n wesel nog altyd met 'n valse, oneerlike en onbetroubare karakter geïdentifiseer. In stories soos "Who framed Roger Rabbit?", "Pokemon", "Harry Potter" en selfs "Winnie the Pooh" word wesels voorgestel as twyfelagtige en sluwe karakters. Miskien is die onderliggende boodskap van die "Weasel stomping Day" lied: Kom ons maak 'n einde aan die valsheid. Kom ons hou op om oneerlik en onderduims te wees. Kom ons streef na 'n samelewing waarin waarheid en integriteit weer in ere herstel word.
Die Engelse term "weasel words" beteken woorde wat gebruik word om die waarheid te verdoesel of te versag of net effens te verdraai. Die bedoeling met "weasel words" is altyd om die hoorder op een of ander manier te mislei. 'n Mens kry "weasel words" in die advertensie bedryf, jy kry dit in die professionele realm, jy kry dit in politieke toesprake, maar jy kry dit ook in die alledaagse gesprekke tussen mense. Kom ons kyk na 'n paar voorbeelde: "Daar moet gekyk word na sinvolle maniere om die radio-aktiewe afvalstowwe te geo-immobiliseer" (in plaas van: te begrawe). "Jammer, ek het vanoggend my tydsbegroting oorskry" (in plaas van: Jammer, ek was laat). "Ons verskuif voortdurend die paradigma na nuwe horisonne om ons verkoopspotensiaal te ontsluit " (in plaas van: Ons probeer ons bes om meer geld te maak). Op dieselfde manier kies ek en jy soms ons woorde so dat dit 'n misleidende en 'n verwarrende boodskap uitstraal. Dit het tyd geword dat ons op optrede, en veral ons woorde ondersoek, om seker te maak dat ons hierin volledig in die lig wandel, soos die Woord se ons moet wandel.
Die Skrif verklaar onomwonde dat dit 'n eienskap van die afvalliges is, en nie van die, regverdiges nie, dat hulle tong glad is, maar in hulle mond is niks betroubaars nie (Tehielliem 5:9); dat hulle monde vol van bedrog en verdrukking is (Tehielliem 10:7); dat hulle woorde onreg en bedrog is (Tehielliem 36:3); dat hulle tonge onheil beraam soos 'n geslypte skeermes (Tehielliem 52:2); dat hulle woorde sagter as olie klink, maar in wese soos ontblote swaarde is (Tehielliem 55:21); dat hulle tonge skerp is soos 'n slang s'n en dat daar gif onder hulle lippe is (Tehielliem 140:3); dat hulle andere met hulle woorde vlei (Mieshleh 2:16); dat hulle woorde soos lekkernye is wat afgly na die kamers van die binneste (Mieshleh 18:8); dat hulle baie woorde gebruik, maar dat hierdie woorde van die begin af dwaasheid is (Mieshleh 10:13-14); dat hulle monde sotheid laat uitborrel (Mieshleh 15:2).
Oor die deug en die seën wat opgesluit le in woorde wat in waarheid en in opregtheid uitgespreek word, is daar talle verwysings in die Skrif, veral in die boeke van Tehielliem en Mieshleh:
Ps 15:1-3 In Psalm van Dawied. Yahweh, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u afgesonderde berg? Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, en wat met sy hart die waarheid praat; wat nie rondgaan met laster op sy tong nie, sy vriend geen kwaad doen en geen rede van oneer uitspreek teen sy naaste nie.
Ps 19:14 Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, O Yahweh, my rots en my verlosser!
Ps 34: 13 Bewaar jou tong vir wat verkeerd is, en jou lippe dat hulle nie bedrog praat nie.
Ps 39:1-2 Vir die musiekleier; vir Yedutun. In Psalm van Dawied. Ek het gesê: Ek wil my wee bewaar, sodat ek nie sondig met my tong nie; ek wil my mond in toom hou solank as die afvallige nog voor my is.
Ps 141:3 Yahweh, stel ‘n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.
Spr 10:11 Die mond van die regverdige is 'n fontein van lewe, maar die mond van die afvallige verberg geweld.
Spr 12:14 Uit die vrug van iemand se mond word hy versadig met die goeie, en die daad van In mens se hande kom op hom terug.
Spr 15:23 'n Man het blydskap in die regte antwoord van sy mond, en hoe goed is 'n woord op sy tyd!
Spr 16:24 Vriendelike woorde is soos 'n heuningkoek: soet vir die siel en 'n genesing vir die beendere.
Spr 18:4 Die woorde van ‘n man se mond is diep waters, ‘n stroom wat bruis, 'n fontein van wysheid.
In die lied "Weasel Stomping Day" word die vraag gevra "Why we do it - who can say?" en dan kom die antwoord: "It's tradition - that makes it OK!" Vandag weet ons: Die feit dat iets tradisie is, maak dit nie "OK" nie. Die feit dat dit tradisie is om te se "Dit gaan goed" as iemand vra "Hoe gaan dit?" beteken nie ons moet ook hierdie tradisie hou nie. Die feit dat dit tradisie is om die skerp kante van die waarheid af te sny voordat jy dit vir mense aanbied, beteken nie ons moet dit ook doen nie. Die feit dat dit tradisie is om mense se skandes of leed agter hulle rug te bespreek, beteken nie ons moet dit doen nie. Die feit dat dit tradisie is om iemand te konfronteer as hy nie volgens die algemene verwagting opgetree het nie, beteken nie ons moet dit doen nie. Kom ons vertrap vandag die wesels van valse woorde en misleidende boodskappe en kwetsende uitsprake onder ons voete ons hoef nie tradisies voort te sit wat nie aan die eis van waarheid voldoen nie.