PESAG OF PAASFEES?
Die vraag waarop ons ‘n antwoord uit die Skrif moet verkry is of gelowige volgelinge van die Messias Paasfees (Engels: "Easter") behoort te vier, met sy oorsprong wat teruggaan tot in die antieke godsdienste toe daar ‘n fees met die aanbreek van Lente (in die Noordelike halfrond, d.w.s. rondom die maande Maart en April) gevier is waarin die godin van vrugbaarheid vereer is met allerlei simbole van vrugbaarheid soos hase en eiers. Hierdie godin van vrugbaarheid staan allerweë bekend as "Astarte" of "Astoreth" – vandaar die afgeleide naam van hierdie fees vandag: "Easter". Toe die Christendom rondom die vierde eeu n.M. (ná Messias) ‘n standpunt geformuleer het rondom die hou van feeste, is daar besluit om hierdie vrugbaarheidsfees, wat reeds wye erkenning en bekendheid geniet het, in die Christelike geloof te inkorporeer en daaraan ‘n "Christelike" baadjie te gee.
Alhoewel mense graag daarop wys dat Paasfees en Pasga dieselfde fees is, is dit uit die geskiedenis, en ook uit die moderne Paasfees praktyk, duidelik dat dit nie die geval is nie. Nie net het Paasfees (vanweë sy oorsprong) ‘n duidelike konnotasie met die vrugbaarheidskultus en heidense afgodediens nie, die vroeë kerkleiers het ook geen geheim daarvan gemaak nie dat hulle met die instelling van Paasfees doelbewus wegbeweeg van Pesag of Pasga, soos dit in die Skrif voorgeskryf en tradisioneel deur die Jode gehou is. In die jaar 325 n.M. is daar met ‘n "sinodesitting" eenparig besluit dat Paasfees jaarliks gehou moet word op die eerste Sondag na die volmaan wat volg op die dag wanneer die son regoor die ewenaar is (d.w.s. 21 Maart). Deel van hierdie besluit was dat as hierdie Sondag op dieselfde naweek val as Pesag, moet Paasfees een week later gehou word. Hier kan ons reeds duidelik sien dat Paasfees, soos dit sy beslag in die vierde eeu gekry het, in belangrike opsigte verskil het van die fees van Pesag. Soos een bron dit stel: "Coincidence of the feasts of Easter and Passover was avoided."
Pesag is een van die belangrikste feeste wat in die Skrif beskryf word en is deur die Messias, die apostels en gelowiges tot lank na die aardse bediening van die Messias gevier. Paasfees op sigself word nie een keer in die Skrif vermeld nie. Daar is sommige Bybelvertalings wat in gedeeltes soos Shemot (Eksodus) 34:25; Luk 2:24 en Hand 12:4 die woorde "Paasfees" of "Easter" gebruik, maar die oorspronklike teks toon duidelik dat dit "Pesag" moet wees. Ook ‘n teks soos 1 Kor 5:7 wat volgens sommige vertalings lui dat die Messias, ons Paaslam, vir ons geslag is, moet na regte lees: "… ons Pesaglam is vir ons geslag …". Die sentrale fokuspunt van Pesag is die slag van die Pesaglammers, wat met die dood van die Messias, ons Pesaglam, sy diepste betekenis gekry het. Die sentrale fokuspunt van Paasfees, is nie die dood van die Messias nie, maar sy opstanding. Daarom is Paassondag tradisioneel as die "groot" dag van Paasfees beskou – so word die opstanding van die Messias, en die nuwe lewe wat dit impliseer, met die vroeëre heidense fees van vrugbaarheid en nuwe lewe in verband gebring. Hoe belangrik die opstanding van die Messias ook al vir ons is, is dit volgens die Skrif sy dood wat deur die Pesagfees na vore gebring word en nie in die eerste plek sy opstanding nie. Die opstanding van die Messias word na vore gebring deur ‘n bykomende fees, die fees van die Eerstelinggerf, wat volgens die Skrif op die dag na die weeklikse Shabbat, wat in die Week van Ongesuurde Brode val, gehou moet word (vgl. Wayyikra / Levitikus 23:10-14).
Nog ‘n opsig waarin Pesag van Paasfees verskil, is die feit dat die tydsbepaling van Paasfees noodwendig daartoe lei dat die dood van die Messias altyd op dieselfde dag van die week gevier word (Goeie Vrydag). Volgens die Skrif is die dood van die Messias egter onlosmaaklik verbind aan die slag van die Pesaglam wat altyd op die 14 de dag van die maand Aviev (of Nisan) plaasgevind het. Hierdie datum het uit die aard van die saak jaar na jaar op ‘n ander dag van die week geval en so behoort ons vandag nog die dood van die Messias te vier op dieselfde manier as wat die vroeë gelowiges Pesag jaarliks op die 14 de dag van die maand Aviev gevier het. Vandag word die dood van die Messias deur talle Christene gevier op Goeie Vrydag wat bykans nooit op die 14 de dag van die maand Aviev val nie en sommige jare glad nie eens in die maand Aviev plaasvind nie. Ons het geen Skriftuurlike regverdiging daarvoor om die gedenkdag van die Messias se dood, een van die belangrikste gedenkdae in die ganse geskiedenis, op so ‘n gefabriseerde en onakkurate manier te bepaal nie.
Dit word deur die meerderheid Christene aanvaar dat die Messias op ‘n Vrydag tereggestel is en op ‘n Sondag uit die dood opgestaan het. Dit word onder meer afgelei uit Skrifgedeeltes soos Luk 23:53-54 waar daar staan dat die Messias tereggestel en sy liggaam van die folterpaal afgehaal is op die dag van die voorbereiding, voordat die Shabbat sou aanbreek. Die vraag is watter "Shabbat" hier ter sprake is: die weeklikse "Shabbat" (wat ooreenstem met ons Saterdag) of die eerste dag van die Fees van Ongesuurde Brode, wat ook as ‘n "Shabbat" bestempel is. Daar is vandag toenemende konsensus onder Skrifverklaarders dat ons hier ‘n verwysing het na die eerste dag van die Fees van Ongesuurde Brode, en nie die weeklikse Shabbat nie. Pesag, die dag vóór die eerste dag van die Fees van Ongesuurde Brode, was in baie opsigte ‘n dag van voorbereiding: die pesaglam moes gaan haal word en op die bestemde plek geslag word; die res van die feesmaaltyd (wat saam met die geslagte lam geëet sou word) moes voorberei word; die suurdeeg moes uit die huise verwyder word, want vir sewe dae lank – tydens die fees van Ongesuurde Brode – mag geen suurdeeg in die huise aangetref word nie; alles moes in gereedheid gebring word vir die groot sewedaagse Fees wat voorlê. Die sesde dag van die week (Vrydag), daarenteen, as die dag net voor die weeklikse Shabbat, word in die Skrif nooit as die dag van voorbereiding beskryf nie.
In die Skrif het ons selfs nog ‘n sterker bewys dat die Messias nie op ‘n Vrydag tereggestel is nie. Ons lees in Matteus 12 dat die Skrifgeleerdes en die Fariseërs na die Messias gekom en vir Hom gesê het dat hulle graag ‘n teken van Hom wil sien (vers 38). ‘n Teken waarvan? ‘n Teken dat Hy die beloofde Messias was – dit is immers die groot vraag wat op almal se lippe was en dit is wat in dieselfde konteks deur sommiges uit die skare te kenne gegee is toe hulle gesê het: Is Hy nie miskien die Seun van Dawid nie? (vers 23). Die Messias se antwoord was eenvoudig en duidelik: "'n Slegte en owerspelige geslag soek na 'n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Yonah. Want soos Yonah drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees" (vers 39-40). Wat is die enigste teken wat die Messias vir die mense van sy dag gegee het as aanduiding dat Hy waarlik die beloofde Messias was? Die teken van Yonah. Wat behels hierdie teken? Dat hierdie Een (van wie Yonah ‘n duidelike tipe was) drie dae en drie nagte in die hart van die aarde sou wees. Wat het die grootste deel van die Christendom met hierdie teken gemaak? Ja, kom ons sê dit maar: Hulle het dit verwerp! Hulle het die boodskap van die Messias se dood en opstanding só verdraai en verander dat hierdie teken in werklikheid tot niet verklaar is. Want hoe ‘n mens ook al daarna kyk, daar is eenvoudig nie drie dae en drie nagte tussen Vrydag laatmiddag en Sondag vroegoggend nie!
Uit die bogenoemde verduideliking kan daar net een afleiding gemaak word: In die jaar toe die Messias sy werk hier op aarde afgesluit het, het Pesag, oftewel die 14 de dag van die maand Aviev, op ‘n Woensdag geval. Dis die dag waarop die Messias na alle waarskynlikheid gesterf het. Die volgende dag (Donderdag in ons terme) was die eerste dag van Ongesuurde Brode en dus ‘n spesiale Shabbat. Dit is waarom Joh 19:31 sê: "Die dag van daardie Shabbat was groot". Drie nagte en drie dae na die voorbereidingsdag (of Pesag), in die nag voor die aanbreek van die eerste dag van die week (wat volgens die tydsberekening van daardie tyd beskou is as deel van die eerste dag van die week), het Hy opgestaan uit die dood. Daarmee het Hy op ondubbelsinnige wyse getoon dat Hy waarlik die beloofde Messias, die Seun van Dawid was. Hy was drie volle dae en drie volle nagte in die hart van die aarde. Moet ons nou elke jaar die dood van die Messias op ‘n Woensdag gedenk? Nee, ons gedenk dit op die 14 de dag van die maand Aviev, op watter dag van die week dit ook al val.
Hoe word die 14 de dag van die maand Aviev vandag bepaal, terwyl die hele wêreld glad nie meer sy dae en maande bepaal soos dit in die Skrif bepaal is nie? Tussen die Gregoriaanse kalender wat vandag gebruik word en die tydsbepaling van die Skrif is daar ‘n hemelsbreë verskil. Ons sien vandag die letterlike vervulling van dit wat in Daniel 7:25 geprofeteer word: "En hy (d.w.s. die vors van die laaste aardse koninkryk) sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die afgesonderdes van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ‘n tyd en tye en die helfte van ‘n tyd." Die woord wat hier vir "tye" gebruik word, is die Aramese woord "zeman" wat letterlik "vasgestelde tye" beteken en gebruik word om onder meer na die feestye te verwys. Wie ons ook al as die vors van die laaste aardse koninkryk beskou, dit is die onmiskenbare gees wat in ons dag geopenbaar word: dat daar aan die vasgestelde tye en wette van Yahweh gepeuter word. Die uitdaging vir ons as gelowiges wat hierdie gees weerstaan en Yahweh se tye en wette wil eerbiedig, is om met ons hele hart na Hom toe terug te keer en onder meer die feeste te hou op die tye wat daarvoor bepaal is.
‘n Nuwe maand het volgens die Skrif begin wanneer die eerste skrefie van die nuwemaan elke 29 of 30 dae gesien kan word. Daar is twaalf maande (of letterlik: 12 nuwemane) in ‘n jaar, behalwe wanneer daar duidelike aanduidings is dat die dertiende nuwemaan (die nuwemaan wat veronderstel is om die eerste maand van die nuwe jaar aan te dui) nog nie in die "regte" seisoen van die jaar val nie. Dit neem die aarde 365.25 dae om sy siklus rondom die son te voltooi. Die gemiddelde aantal dae in ‘n Skriftuurlike maand is 29.5 dae, d.w.s. die jaarlikse "maansiklus" (in ‘n jaar met 12 maande) is 354 dae. Dit is sowat 11.25 dae minder as die jaarlikse "sonsiklus". ‘n Aanpassing moet dus gemaak word om te verseker dat die maansiklus nie agter raak by die sonsiklus nie, want die feeste hang ten nouste saam met die landbouseisoene wat deur die son bepaal word. Daarom moet daar ongeveer elke derde jaar ‘n dertiende maand by die voorafgaande jaar gevoeg word, voordat die maand-telling vir die nuwe jaar begin.
Dit alles klink baie ingewikkeld en omdat die Vader dit vir sy mense so eenvoudig en duidelik as moontlik wou maak om die feeste op hulle regmatige tye te vier, het Hy deur sy dienskneg Mosheh (Moses) ‘n klinkklaar teken gegee waardeur gelowiges van alle tye met sekerheid kan weet wanneer dit die eerste maand (oftewel die eerste nuwemaan) van elke nuwe jaar is. Dit word vir ons aangedui in Devariem (Deuteronomium) 16:1 "Onderhou die maand Aviev en hou Pesag vir Yahweh jou Elohiem; want in die maand Aviev het Yahweh jou Elohiem jou in die nag uit Mitsrayiem (Egipte) uitgelei." Daar staan méér in hierdie vers as wat mens met die eerste oogopslag raaksien. Letterlik lui hierdie vers so: "Let noukeurig op die nuwemaan van die groen garsgerwe en hou die Pesag (in hierdie maand) …". Die naam van die maand waarin Pesag gehou moet word en wat volgens Shemot (Eksodus) 12:2 ook die eerste maand van die jaar is, is Aviev (soms ook genoem Abib, of Nisan). Aviev beteken letterlik: "groen garsgerwe". Nou staan daar in Devariem 16 dat daar noukeurig dopgehou moet word wanneer dit die nuwemaan is waarin groen garsgerwe in die veld of op die landerye voorkom. Hierdie nuwemaan is die nuwemaan wat die maand van Aviev en dus die begin van die nuwe jaar aandui. Ja, dis reg, en selfs die Jode vandag is in hierdie opsig in stryd met die Skrif wanneer hulle "Rosh Hashanah" (Letterlik: die begin van die jaar) in September of Oktobermaand vier!
Wáár moet daar "noukeurig dopgehou" word om vas te stel of daar groen garsgerwe is en of die tyd al "ryp" is vir die nuwe jaar om te begin? Sal dit nie van land tot land verskil nie? Sal dit nie op ‘n totaal ander tyd val afhangende of ‘n mens jouself in die Noordelike halfrond of in die Suidelike halfrond bevind nie? Natuurlik sal dit. Daar moet tog eenvormigheid wees by gelowiges reg oor die wêreld. Daarom staan daar in YeshaYahu 2:2-3 en word dieselfde uitspraak in Miga 4:1-2 herhaal: "En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van Yahweh vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van Yahweh, na die huis van die Elohiem van Ya’akov, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Tsion sal die wet uitgaan en die woord van Yahweh uit Yerushalayiem. " Ons maatstaf om te bepaal wanneer dit die begin van elke nuwe jaar is en wanneer elke fees gehou moet word, is die situasie in die land wat Yahweh vir Homself as sy "vaste woonplek" gekies het (vgl. Shemot / Eksodus 15:17 en Tehilliem / Psalm 132:13). Daarom behoort ons vandag nog vas te stel wanneer dit die nuwemaan van groen garsgerwe in die land van Yisrael is en die maand wat daarop volg as die eerste maand van die jaar te erken. Die gars in daardie land is ontsettend seisoengebonde en ons kan seker wees dat hierdie teken van jaar tot jaar sal verseker dat die nuwe jaar nie ‘n maand te vroeg of ‘n maand te laat begin nie.
Kan ‘n mens jou beplanning vir die feeste vooruit doen, met ander woorde is dit moontlik om ‘n aantal maande en selfs ‘n jaar vooruit alreeds te weet wanneer ‘n bepaalde fees gaan plaasvind? Tot ‘n sekere mate is dit moontlik. As die twaalfde maand van ‘n sekere jaar eindig ná die draaipunt van die son op 21 Maart (die dag wanneer die son regoor die ewenaar is en die seisoen in die Noordelike halfrond verander van winter na lente en in die Suidelike halfrond van somer na herfs), kan ‘n mens redelik seker wees dat die volgende maand die eerste maand van die nuwe jaar sal wees. Dit bly egter steeds ‘n voorwaarde: Daar moet by die aanbreek van die nuwemaan groen garsgerwe in die land van Yisrael wees. Waarom? Omdat dit so in die Skrif bepaal word (onder meer in Devariem 16:1 waarna ons reeds gekyk het) en omdat die Fees van die Eerstelinggerf, wat heenwys na die opstanding van die Messias, in die maand van Aviev moet plaasvind. Hierdie Eerstelinggerf, wat gewuif moet word op die dag na die weeklikse Shabbat wat val in die week van Ongesuurde Brode, is garsgerwe. As daar nog nie garsgerwe in die land van Yisrael is nie, kan hierdie fees uit die aard van die saak nie plaasvind nie.
As die twaalfde maand van ‘n sekere jaar eindig vóór die draaipunt van die son op 21 Maart, is dit baie moeilik om vooraf te weet of die volgende maand as dertiende maand gereken behoort te word en of dit die eerste maand van die nuwe jaar behoort te wees. As algemene reël sou ons kon sê: As die twaalfde maand van ‘n sekere jaar voor 6 Maart eindig (met ander woorde: meer as ‘n halwe maand voor die draaipunt van die son), is die kanse goed dat daar ‘n dertiende maand by die voorafgaande jaar gevoeg sal moet word. As die twaalfde maand egter tussen 6 Maart en 21 Maart eindig, is die kanse goed dat die volgende maand die eerste maand van die nuwe jaar sal wees. In albei gevalle moet daar egter gewag word tot die verwagte tyd van die nuwemaan en vasgestel word wat die stand van die garsgerwe in die land van Yisrael op daardie spesifieke stadium is. In so ‘n geval het ons volgens die Skrif eenvoudig nie die luuksheid om soos baie groepe vandag (insluitend die Christene en die Jode) jare voor die tyd alreeds te bepaal op watter dag ‘n bepaalde fees gaan plaasvind nie. Dit is juis hierdie moderne beheptheid met vooraf beplanning wat maak dat sommige groepe die feesdae nie net op die verkeerde dag van die maand vier nie, maar dikwels ook in die verkeerde maand van die jaar.
Sommige jare is daar weliswaar nie onsekerheid oor watter maand die eerste maand van die jaar is nie, maar is daar onsekerheid oor watter dag die eerste dag van die maand behoort te wees. Dit is duidelik uit die Skrif af te lei dat die eerste dag van die maand volg op die aand wanneer die eerste skrefie van die nuwemaan met die blote oog gesien kan word. Ook hierdie verskynsel is iets wat ons nie altyd vooraf met akkuraatheid kan voorspel nie. Die eerste skrefie van die nuwemaan kan gewoonlik gesien word gemiddeld 24 uur na die sg. konjunksie (Engels: conjunction) van die maan. Daar is astronomiese gegewens beskikbaar wat presies, tot op die sekonde, aandui wanneer dit elke maand die maan se konjunksie (of "dooie maan") is. Dit is egter nie so maklik om vas te stel presies hoeveel uur na die konjunksie die eerste skrefie van die nuwemaan gesien sal kan word nie. Op die aand van die nuwemaan kan die jong sekelmaan slegs vir ‘n kort rukkie, net na die sonsondergang in die Weste, gesien word. As ‘n sekere dag se sonsondergang tussen 30 en 42 uur na die konjunksie plaasvind, kan ons taamlik seker wees dat die nuwemaan daardie aand sy verskyning sal maak, al is daar faktore soos bewolktheid wat dit vir die blote oog verberg. As ‘n dag se sonsondergang egter tussen 18 en 30 uur na konjunksie plaasvind, is dit moeiliker om te bepaal en kan ‘n mens eintlik nie vooraf 100% seker hieroor wees nie. Wanneer dit kom by ‘n dag waarvan die sonsondergang minder as 18 ure na konjunksie plaasvind, is dit byna seker dat daardie dag nie die dag van die nuwemaan sal wees nie, maar wel die volgende dag. Die "dag" waarvan ons hier praat, begin by sonsondergang, en strek tot by die volgende sonsondergang. Die sonsondergang wat hier ter sprake is, is die sonsondergang in Yerushalayiem. Die dag wat in Yerushalayiem as eerste dag van ‘n bepaalde maand geïdentifiseer is, behoort op elke ander plek in die wêreld ook as eerste dag van die maand geneem te word, selfs al begin daardie bepaalde dag heelwat vroeër of heelwat later as wat die geval is in Yerushalayiem.
Daar is nog een aspek wat in hierdie verband ons aandag verdien en dit is die vraag op watter tydstip Pesag gevier behoort te word. Meer spesifiek: Moet ons die Pesagmaaltyd, met die gepaardgaande simbole van ongesuurde brood, druiwesap en voetewas, hou op die aand waarmee die 14 de dag van die maand Aviev begin (d.w.s. tussen die 13 de en die 14 de dag van die maand) of op die aand waarmee die 15 de dag van die maand begin (d.w.s. op die aand wat streng gesproke die begin van die Fees van Ongesuurde Brode is)? Hierdie vraag plaas ons in die midde van ‘n baie ou stryd waaroor daar tot vandag toe nie volkome uitsluitsel bereik kon word nie. Selfs die twee bekende groepe in die tyd van die Messias het oor hierdie vraag verskil. Die Fariseërs het geglo dat die maaltyd op die aand tussen die 14 de en die 15 de dag van die maand moes plaasvind. Die Sadduseërs het geglo dat dit op die aand tussen die 13 de en die 14 de dag van die maand moes plaasvind. Wie van die twee groepe was gewoonlik reg? Dis baie moeilik om te sê. Die Messias het die Fariseërs verkwalik dat hulle die tradisies van mense bokant die Woord van Yahweh gestel het. Op presies dieselfde trant het Hy die Sadduseërs verkwalik dat hulle nie in die opstanding uit die dode geglo het nie. Beide groepe sou boonop verkwalik kon word dat hulle Y'shua nie as die beloofde Messias aanvaar het nie. Dit help nie juis ons kyk na die "track-record" van hierdie twee groepe om te bepaal wie reg is oor die dag van Pesag nie.
Sommiges sal daarop wys dat die Messias hierdie maaltyd op die aand na die 13 de dag van die maand saam met sy dissipels geniet het en ook die tekens van die nuwe verbond by hierdie geleentheid ingestel het. Hierdie feit is egter nie noodwendig ‘n aanduiding dat ons die fees ook op daardie aand moet vier nie – veral nie as daar andersins nie sterk Skriftuurlike steun vir hierdie dag is nie. Dit was immers vir die Messias nie moontlik om die volgende aand so ‘n maaltyd by te woon nie, want Hy sou self teen drie uur die volgende middag (d.w.s. die middag van die 14 de dag van Aviev) as Pesaglam vir die sondes van die wêreld aan ‘n folterpaal opgehang word. Die dissipels het sy versoek dat hulle die maaltyd op die aand tussen die 13 de en 14 de dag van die maand moes hou, nie bevraagteken nie, want enersyds het Y'shua hulle reeds daarop voorberei dat sy koms na hierdie wêreld die volgende dag op die spits gedryf sou word en andersyds sou hulle ten volle bewus gewees het van die feit daar twee verskillende gebruike bestaan het en daarom ook twee verskillende tye waarop hierdie maaltyd tradisioneel gevier is. Dit wil voorkom dat ons dieper in die Skrif moet delf om vas te stel op watter dag die Pesagmaaltyd gehou behoort te word. Wat seker is, is dat die Messias nie ‘n nuwe dag of ‘n nuwe fees bekendgestel het nie – selfs nie met sy verwysing na die feit dat sy liggaam en sy bloed die nuwe verbond sou inlui nie. Die patroon wat reg deur die Skrif gehandhaaf word, is dat Yahweh tot aan die einde sy groot verlossingswerke in hierdie wêreld sal uitvoer op die vasgestelde tye (wat bloot ‘n wisselterm vir "feestye" is) wat van die begin af vir hierdie doel bestem is.
Wanneer daar na die instelling van die Pesag gekyk word (soos dit onder meer in Shemot / Eksodus 12 uiteengesit word) blyk dit uit vers 42 dat daar in die hele gedeelte van ‘n sekere belangrike "nag" gepraat word wat genoem word ‘n "nag van Yahweh om plegtig onthou te word". Volgens alle aanduidings is dit hierdie nag (of aand) waartydens die eintlike Pesagviering behoort plaas te vind. Wat het alles tydens hierdie nag of in die dag direk na hierdie nag gebeur? Yahweh het deur die hele land van Mitsrayiem getrek en die eersgeborenes van die families van Mitsrayiem (insluitend die eersgeborenes van diere) met die dood getref (vers 12). Yahweh het by die eersgeborenes van die families van Yisrael verbygegaan (letterlik: ge-"pasag" – van hier kom die benaming "Pesag") omdat hulle deurposte met die bloed van ‘n lam besmeer was (vers 13). Die vleis van die Pesaglammers wat op die 14 de dag van die maand geslag is, moes geëet word. Hoe moes dit geëet word? Vers 11: "Julle heupe moet omgord wees, julle skoene aan jul voete en julle staf in jul hand; baie haastig moet julle dit eet." Waarom? Dit is tog duidelik – direk hierna moes daar in alle erns op die vertrek uit die land gefokus word. Want op "daardie selfde dag" d.w.s. die dag wat gevolg het direk na die "nag van Yahweh om plegtig onderhou te word", het Yahweh die leërs van Yisrael uit die land van Mitsrayiem uitgelei (vers 17). Ander gedeeltes in die Skrif bevestig dat dit op die 15 de dag van die maand Aviev is dat Yisrael uit die land van Mitsrayiem getrek het (vgl. Bemidbar / Numeri 33:3).
Wat weet ons nog van die Pesagmaaltyd en van die "nag" waarop hierdie maaltyd gehou moes word? Daar is ‘n hele aantal gedeeltes wat spesifiek aandui dat dit Pesag is op die 14 de dag van maand Aviev teen (in) die aand (vgl. Yahushua / Josua 5:10) of op die 14 de dag van die maand tussen die aande (vgl. Wayyikra / Levitikus 23:5). Sonder om hier in detail in te gaan op die vraag wat die moontlike betekenis kan wees van die uitdrukking "tussen die aande", kan ons net in die algemeen gaan kyk na wat normaalweg (in die res van die Skrif) die betekenis daarvan is as daar van ‘n sekere fees gesê word dat dit gehou moet word of dat dit begin op ‘n sekere dag "teen (of: in) die aand" of "tussen die aande". In Wayyikra 23:27-32 word daar van Yom Kippur (die Groot Versoendag) gepraat en word onder meer gesê dat hierdie verootmoedigingsdag op die 10 de dag van die sewende maand gehou moet word (vers 27). Om seker te maak dat daar geen onsekerheid is oor presies van wanneer tot wanneer hierdie dag gehou moet word nie, word daar bygevoeg: "Op die negende van die maand teen (in) die aand, van aand tot aand, moet julle jul Shabbat hou …" (vers 32). Hier kry ons weer die uitdrukking: "op ‘n sekere dag van die maand, teen (in) die aand …" In hierdie geval is dit: "op die negende dag van die maand, teen (in) die aand." Is die aand wat hier ter sprake is die aand waarmee die negende dag van die sewende maand begin of is dit die aand tussen die negende en die tiende dag van die maand? In die konteks is daar geen twyfel dat dit laasgenoemde is nie. Dit gaan immers oor die vraag: Presies wanneer moet ‘n mens begin om Yom Kippur (wat ook ‘n Shabbat genoem word en wat eintlik op die tiende van die sewende maand val) te hou? Die antwoord is duidelik: ‘n Mens begin op die aand aan die einde van die negende dag van die maand en sluit af op die aand aan die einde van die tiende dag van die maand.
In Shemot 12 is daar nog ‘n voorbeeld wat hierdie manier om na ‘n sekere aand te verwys, illustreer en wat uiteindelik vir ons heelwat nader behoort te bring aan die regte verstaan van wanneer Pesag gehou behoort te word. In vers 18 en 19 lees ons die volgende woorde: "In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, teen (of: in) die aand, moet julle ongesuurde brode eet, tot op die een en twintigste dag van die maand, teen (of: in) die aand. Sewe dae lank mag daar geen suurdeeg in julle huise gevind word nie …" Dit is uit ander gedeeltes meer as duidelik dat hierdie fees van Ongesuurde Brode op die 15 de dag van die maand Aviev begin en sewe dae later, op die 21 ste dag van Aviev ten einde loop. Presies wanneer moet daar met die viering van hierdie dag begin word? Op die 14 de dag van die maand, teen (of: in) die aand. Kan hierdie aand die aand tussen die 13 de en die 14 de dag van die maand wees? Nee, hoegenaamd nie, want dan is dit nie meer ‘n aand wat aan die fees van Ongesuurde Brode gekoppel kan word nie. Wanneer moet die viering van die fees van Ongesuurde Brode afgesluit word? Op die 21 ste dag van die maand, teen (in) die aand. Kan hierdie aand die aand tussen die 20 ste en die 21 ste dag van die maand wees? Nee, hoegenaamd nie, want dan is dit nie meer ‘n fees van sewe dae nie. As die Skrif praat van ‘n sekere dag, teen (in) die aand, dan is dit duidelik dat daar verwys word na die aand na afloop van daardie betrokke dag.
Dit bring ons by ‘n laaste oorweging betreffende die tyd waarop Pesag gehou behoort te word. Die brood wat tydens Pesag geëet moet word, is ongesuurde brood. So word dit duidelik in Shemot 12:8 bepaal. Die volle tydperk waarin daar in die maand van Aviev ongesuurde brood geëet moet word (as deel van die Fees van Ongesuurde Brode – ‘n fees waarvan Pesag as die voorbereidingsdag beskou is – vgl. Luk 23:53-54) is volgens talle Skrifgedeeltes sewe dae – niks minder nie en niks meer nie. Dit word bevestig in Shemot (Eksodus) 12:15; 12:19; 13:6; 13:7; 23:15; 34:18; Wayyikra (Levitikus) 23:6; Bemidbar (Numeri) 28:17; Devariem (Deuteronomium) 16:3; 16:4; 2 Kronieke 30:21; 35:17; Ezra 6:22 en Yegezkel 45:21. As Pesag op die aand tussen die 13 de en die 14 de dag van die maand van Aviev gehou word, beteken dit dat daar vir agt dae lank ongesuurde brood geëet word en dat die Skriftuurlike voorskrif dus nie gevolg word nie. Mag hierdie gedagtes rondom die Fees van Pesag en Ongesuurde Brode elke opregte gelowige in die Messias opnuut bemoedig en inspireer om die rykdom wat in die feeste opgesluit lê, deel van sy of haar lewe te maak.