POPULÊRE STELLINGS DEUR DIE SKRIF WEERLÊ

Die godsdienstige en kerklike toneel in die wêreld word gekenmerk deur gewigtige en dikwels populêre uitsprake en aansprake wat Skriftuurlik nie korrek is nie, maar deur derduisende aanhangers geglo word. Een van die grootste uitdagings vir diegene wat die Skrif waarlik liefhet, is om die suiwer Woord van Yahweh te bewaar en elke ander woord wat daarmee in stryd is, heelhartig te verwerp. YeshaYahu 45 is ‘n merkwaardige hoofstuk in die Skrif. Die manier waarop dit saamgestel is, skep die indruk dat dit bedoel was om die tipiese denkpatrone van die mense van daardie tyd te weerlê, deur hulle te herinner aan die onwankelbare en onveranderlike waarheid van die Woord wat aan hulle oorgelewer is. Daar is ‘n duidelike parallel tussen hierdie denkpatrone van Yisrael in die tyd van YeshaYahu, en die godsdienstige klimaat van ons dag. Soms is dit die denkpatrone van arrogante en eiesinnige mense. Soms kan dit egter ook die denkpatrone wees van opregte en soekende mense – mense wat in hulle angstigheid ‘n sekere waarheid van die Woord uit die oog verloor het. Kom ons kyk na sewe van hierdie tipiese denkpatrone en uitsprake (in ‘n moderne gestalte) en hoedat hierdie uitsprake deur YeshaYahu 45 weerlê word.

  1. "Die Allerhoogste se bemoeienis met Yisrael het tot ‘n einde gekom." Die siening dat Yahweh se bemoeienis met Yisrael net vir ‘n sekere periode was, word dikwels teëgekom. Hiervolgens het die Messias ‘n nuwe bedeling gebring waaruit tradisionele elemente van die Torah, soos die Shabbat en die feeste, verwyder is. Die Skrif leer egter dat die Vader sy volmaakte wil aan Yisrael bekend gemaak het en dat Hy nooit aangedui het dat sekere van hierdie beginsels gaan verdwyn of dat Hy sy rug op Yisrael gaan draai nie. YeshaYahu 45:17: "Yiesraél word verlos deur Yahweh met ‘n ewige verlossing; julle sal nie beskaamd staan of in die skande kom tot in alle ewigheid nie." Wat ‘n voorreg om te kan sê: Die Elohiem van Yisrael is ook mý Elohiem!
  2. "Die koninkryk wat kom, is ‘n hemelse koninkryk." Daar is ‘n populêre denkrigting wat wyd en syd verkondig word wat daarop neerkom dat die tweede koms van die Messias die einde van die aardse bestel sal inlui en die begin sal wees van ‘n sprokiesagtige lewe in die hemel, waar die Almagtige woon. Die Skrif ondersteun nie so ‘n standpunt nie. Talle beloftes en profesieë in die Skrif dui op ‘n toekomstige restourasie van die aarde soos ons dit ken en die realiteit van ‘n aardse koninkryk waarin die beginsels van reg en geregtigheid en vrede hoogty sal vier. YeshaYahu 45:18 bevestig hierdie waarheid: "Hy het dit (die aarde) bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word." Ons verwagting is nie dat die Messias die aarde gaan vernietig nie – maar wel dat hy die mag van die duisternis, wat tans heerskappy voer hier op aarde, gaan tot niet maak.
  3. "Die Allerhoogste het ‘n sekere waarheid aan my bekend gemaak." ‘n Mens kry hierdie soort aansprake nie net by die stigtersprofete van groot godsdienstige bewegings, soos Islam, Hindoeïsme en Boeddhisme nie; jy kry dit ook by vertakkinge van die Christendom en die Jodedom. Net so kry ‘n mens dit ook by diep gelowige mense wat tot een of ander sterk oortuiging gekom het en wat glo dat die Allerhoogste dit aan hulle bekend gemaak het. Kyk ‘n mens egter na die Skrif, sien jy dikwels dat hierdie aanspraak of oortuiging nie in die Skrif gevind kan word nie. YeshaYahu 45:19 bevat ‘n duidelike riglyn in hierdie verband: "Ek het nie in die geheim gepraat—in ‘n donker plek van die land nie." Ons Elohiem het sy wil en sy woord en sy waarheid duidelik in die Skrif aan ons geopenbaar.
  4. "My eie soeke na die Allerhoogste was tevergeefs." Hoe dikwels hoor ‘n mens nie die teleurstelling, selfs ontnugtering, by mense wat ontdek het dat iets waarin hulle met hulle hele hart geglo het, nie geloofwaardig of betroubaar of blywend was nie. Die Skrif leer ons om ‘n onderskeid te tref tussen die feilbaarheid van enigiets wat uit ‘n mens is en die betroubaarheid en getrouheid van die Almagtige. YeshaYahu 45:19 se versekering in hierdie verband kan ‘n groot verskil bring in ons hele verstaan van Yahweh se bemoeienis met ons en ons begeerte om Hom te ken: "Ek het aan die geslag van Yaákov nie gesê: Soek My tevergeefs nie." Al my ywer vir Yahweh was nie verniet nie!
  5. "Sekere elemente van die reddingsboodskap het mettertyd verander." In sommige kringe is daar ‘n tendens om gereeld daarop te sinspeel dat die reddingsboodskap wat ons in die Skrif aantref, met verloop van tyd sekere veranderinge deurgaan het. Soos byvoorbeeld: Die Messias het aspekte bygevoeg waarvan die profete van die Ou Verbond nie geweet het nie, of: Shaul het aspekte bekendgestel wat nie deur die Messias verkondig is nie. Met sulke uitsprake word die onveranderlike karakter van die Skrif en sy eintlike Outeur, ten diepste aangetas. YeshaYahu 45:21 stel dinge in die regte perspektief: "Wie het dit van ouds af laat hoor, lank tevore dit verkondig? Is dit nie Ek, Yahweh, nie?" Ons sal goed doen om te onthou dat Hy gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is.
  6. "Alle paaie lei na Rome en elkeen word op sy eie manier gered." Die standpunt dat elkeen maar kan glo soos hy wil en dat dit net die gesindheid van die hart is wat saak maak, is baie oud, baie gewild en baie verkeerd. Sommige mense sal saamstem dat dit Skriftuurlik nie korrek is nie, maar heimlik is dit wat hulle ook glo. Die Skrif weerlê hierdie standpunt op baie plekke en op baie maniere. In elke deel en tydgleuf waaruit die Skrif bestaan, word daar klem op gelê dat Yahweh die enigste ware Elohiem is, dat Hy ware geregtigheid aan die mens openbaar en dat redding net uit sy hand kom. Dit is wat in YeshaYahu 45:21 ook uitgestippel word: "Is dit nie Ek, Yahweh, nie? En buiten My is daar geen ander nie: ‘n regverdige en reddende El is daar nie buiten My nie." Ons kan met vrymoedigheid na Hom toe gaan en ons vertroue in Hom plaas. Hy sal ons nie in die steek laat nie!
  7. "Nie alles in die Skrif moet letterlik opgeneem word nie." Alhoewel dit waar is dat daar soms ook figuurlike taalgebruik in die Skrif voorkom, gebruik mense soms hierdie stelling as ‘n verskoning om aan die Skrif te verander soos dit hulle pas. Die implikasie is dat die Almagtige nie ernstig was toe Hy sekere dinge in sy Woord laat opteken het nie. Of dat dinge wat op ‘n sekere stadium in sy oë belangrik was, later nie meer so belangrik was of dieselfde gewig gedra het nie. YeshaYahu 45:23 steek ‘n stokkie voor hierdie standpunt. "Ek sweer by Myself; geregtigheid gaan uit my mond, ‘n woord wat nie herroep word nie." Kom ons eer Hom deur sy geopenbaarde Woord, en die gestalte van geregtigheid wat daarin verkondig word, volkome te aanvaar.