Oor Pesag, Plante en Poorte

Een van die mees onvergeetlike belewenisse van ‘n besoek aan Israel kort voor Pesag is ‘n uitstappie na Mea Shearim, die bekende woonbuurt in Jerusalem waarin die grootste konsentrasie van Ortodokse Jode voorkom. Die koorsagtige voorbereidings vir die feestyd wat voorlê, is iets wat ‘n mens moet sien om te waardeer – die was en uithang van klere, beddegoed en sommer alles wat sedert die vorige Pesag nog nie weer skoongemaak is nie; die geskarrel in die strate en op die stoepe van klein winkeltjies om nog vir oulaas ‘n paar inkopies vir die fees te doen; die rondstoot van enigiets met twee of vier wiele om die groot vragte inkopies moeiteloos by die huise uit te kry; die groot vlekvrye staalpotte op die straathoeke met kokende water waarin elke huishouding wat wil, kookgerei kan dompel om dit behoorlik vir Pesag te reinig en te ontsmet en nog talle ander toneeltjies wat onuitwisbaar in ‘n mens se geheue ingeprent raak. Trouens, dis hier waar mens besef dat jy eintlik nog nooit voorheen die ware betekenis van "spring cleaning" verstaan het nie en dat jou eie belewenis van Pesag in die toekoms nooit weer saai en oninteressant sal wees nie.

Eintlik is daar niks "saai en oninteressant" omtrent Pesag en die manier waarop Pesag in die Skrif voorgestel word nie. Dis ‘n fees ryk aan simboliek en vol betekenis vir diegene wat erns maak met die feeste van die Skrif. Dis die eerste fees van die jaar en dit val in die eerste maand van die jaar, die maand Aviev. Selfs die naam van hierdie maand is nie sonder betekenis nie en sluit ten nouste aan by die feesweek wat met Pesag begin. "Aviev" verwys na die groen, jong garsgerwe wat in die eerste maand van die jaar hulle opwagting maak op die landerye van Israel. As mens Skrifgedeeltes soos Devariem (Deuteronomium)16:1 en Shemot (Exodus)12:2 ernstig moet opneem, kan die nuwe jaar, volgens Yahweh se berekening, nie begin voordat daar nie groen, jong garsgerwe, dit wil sê Aviev, in Israel voorkom nie. Dit kan nie Aviev maand wees voordat daar nie Aviev gerwe in Israel is nie. As die twaalfde maand van die voorafgaande jaar ten einde loop en daar is nog nie groen, jong garsgerwe in Israel nie, moet daar ‘n dertiende maand bygevoeg word, sodat die nuwe jaar in die regte seisoen, dit wil sê die seisoen van groen, jong garsgerwe, kan begin.

Daar is ‘n bykomende rede waarom daar garsgerwe tydens Aviev, oftewel die maand van Pesag, móét wees. Skrifgedeeltes soos Wayyiekra (Levitikus) 23 bepaal dat daar tydens die Week van Ongesuurde Brode ‘n eerstelinggerf van die garsoes "voor die aangesig van Yahweh" gewuif moet word – die simboliese heenwysing na Y'shua as die Eersteling wat uit die dood opgestaan het. Uiteraard maak so ‘n bepaling geen sin as Pesag en die Week van Ongesuurde Brode op ‘n tydstip gehou word wanneer daar nog nie garsgerwe geoes kan word nie. Hoekom juis gars, en nie koring of ander graansoorte nie? Hoekom word Pesag spesifiek met die garsoes verbind? Daar is moontlik meer as een rede hiervoor. Gars, in vergelyking met koring, word altyd eerste ryp. Daarom word dit ook eerste geoes – gewoonlik ‘n hele paar weke vóór die koring.

Pesag gaan oor die eerste deel of die eerste fase van Yahweh se program van redding vir sy volk. Só was dit in die tyd van die uittog uit Egipte en só was dit in die tyd van die Messias. Só sal dit ook wees in die tyd wat ingelui sal word met die tweede koms van die Messias. Die uittog uit Egipte het basies begin toe die eersgeborenes van die Egiptenare met die dood getref is, terwyl Israel se eersgeborenes, danksy die teken van bloed aan die deurkosyne, gespaar of gered is. Dit is ons eerste kennismaking met Pesag (wat later aan die garsoes verbind sou word) en ook die eerste fase van redding in die konteks van die uittog of Eksodus uit Egipte. Die volgende fase het sy klimaks bereik omtrent vyftig dae later toe Mosheh die Tien Woorde van Yahweh op die berg Sinai ontvang het. Dit is ons eerste kennismaking met Shavuot (of Pinkster, wat later aan die koringoes verbind sou word). Deurdat Yahweh sy Torah vir sy volk gegee het, het hulle begin verstaan dat redding nie net uit "bevryding" bestaan nie, maar ook uit "begeleiding" en "bewaring" en "bekering" (telkens wanneer terugkeer nodig is) – dinge wat sonder die Torah net nie moontlik is nie. Sy redding kan nooit as ‘n enkele gebeurtenis of ‘n eenmalige ervaring verstaan word nie. Dis soos ‘n (gars-) plantjie wat geplant word en daarna, oor ‘n lang tydperk, met groot toewyding en geduld vertroetel en versorg moet word. "U bring hulle in en plant hulle op die bergland van u erfenis, die plek, o Yahweh, wat U as vaste woonplek vir U berei het, die afgesonderde plek wat u hande gestig het, o Yahweh!" (Shemot / Exodus15:17). Wanneer ons Pesag ingaan, dink ons onwillekeurig daaraan dat ons redding ‘n lewenslange proses is en dat ons telkens dáár moet begin waar ons bereid is om Yahweh toe te laat om ons van elke soort binding, vreemde juk of valsheid te bevry.

Dieselfde patroon (d.w.s. redding as ‘n proses wat uit verskillende fases bestaan) kan ook gesien word met die eerste koms van die Messias na hierdie wêreld. Daardie laaste Pesag voor Y'shua se hemelvaart, en die Week van Ongesuurde brode (wat onlosmaaklik aan Pesag verbind is), het mense voor die keuse gestel of hulle in Hom gaan glo as die ware Messias en die Pesaglam wat geslag word, of nie. Diegene wat wél so ’n keuse gemaak het, het spoedig uitgevind dat dit nog lank nie die einde van die pad was nie. Dit was maar net die eerste babatreetjie op Yahweh se nuwe hoofweg vir hulle lewens en hulle het besef dat hulle sonder volharding nooit die eindpunt kon bereik nie. Dis waarom Shavuot (Pinkster), vyftig dae later, soveel vir hulle beteken het. Dit was soos ‘n nuwe inspuiting, ‘n nuwe bekragtiging wat hulle toegerus het om die moeilike tye wat sou volg, te kan trotseer.

Die Skrif lei ons om te verstaan dat Yahweh se redding, reg aan die einde, ook ‘n proses gaan wees wat uit meer as een fase bestaan en nie bloot ‘n eenmalige gebeurtenis nie. Selfs in die voleinding, bestaan redding nie net uit een komponent of net een gebeurtenis nie. Daar is meer as een aspek van redding waarna ons kan uitsien - nie net as deel van die Millennium en die nuwe koninkryk nie, maar ook as deel van die nuwe hemel en die nuwe aarde daarna (vgl. Openbaring 21:1 en verder). Verder blyk dit dat almal ook nie op een tydstip gered gaan word nie. Daar is duidelik sprake van "eerstelinge" en ander wat op ‘n later stadium gered sal word (vgl. Openbaring 14:4; 20:4-6). Al is ons nie bekend met elke stukkie detail in hierdie verband nie, is dit goed om na die simbool van die garsgerf te kyk en te weet dat ons Abba in sy wysheid ‘n proses van redding bestem het vir almal wat hulle hoop en hulle geloof op Hom vestig en op die Een deur wie Hy sy redding aan ons openbaar het.

Daar is minstens nog een rede waarom ons tydens Pesag noukeurig op die simboliek van gars moet let. Die Hebreeuse woord vir "gars" ("se’orah") hou heel waarskynlik verband met die woord "sha’ar" wat vertaal kan word as "poort" of "deur". Vir diegene wat begeer om Yahweh se vasgestelde tye te eerbiedig, is gars, en meer spesifiek, nuwe jong garsgerwe in die land Israel, die poort of die deur na elke nuwe jaar. Die nuwe jaar volgens die Skepper se bedoeling word eers aangekondig as daar nuwe jong garsgerwe in Israel voorkom. Dit is die verskynsel in die natuur wat vir ons die ingangspoort na ‘n nuwe jaar vorm. En hierdie selfde nuwe, jong garsgerwe dui onmiskenbaar op Y'shua die Messias, die eersteling van die garsoes, wat eers soos ‘n koringkorrel in die grond geval en gesterf het (vgl. Yahuganan 12:24), maar drie dae later as eersteling uit die dood opgewek is – die Eerste van nog baie wat sal volg! "Maar nou, die Messias is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het" (1 Korintiërs 15:20). Hy (alleen) is vir ons die poort of die deur na die ewige lewe – niemand kom na die Vader behalwe deur Hom nie. Daarom is dit so gepas dat Pesag (die fees wat ons herinner aan Y'shua as die Lam wat geslag is maar tegelykertyd ook die Deur vir verdwaalde skape) die eerste fees van die nuwe jaar is. As mens nie híér begin nie, verloor die ander feeste hulle sin en betekenis. Die Skrif se oproep aan almal wat Y'shua as die Lam en as die Deur bely, is eenvoudig: Onderhou die Pesag, eet en drink die tekens dat Hy as Lam van Elohiem in ons plek gesterf het en daarom vir ons die Poort na die ewige lewe geword het en moenie die ander feeste en die res van die Torah verwerp soos daar deesdae in so baie kringe aangedring word nie. Leef dit uit, skryf dit op jou hart en op die deurposte van jou huis en op die poort wat Yahweh vir jou oopgemaak het deur sy Seun in jou plek te laat sterf.