‘N PSALM VIR DIE ONBEKENDE TOEKOMS

 

Tehielliem / Psalms 25:1 ‘n Psalm van Dawied. Tot U, o Yahweh, hef ek my siel op. (Ek neem die waarskuwing van Tehielliem 24:4 ter harte en hef nie my siel op tot nietigheid, valsheid en die verering van vreemde magtiges nie; ek hef my siel - my hele wese – op, want as ek net my hande en my oë ophef, maar nie ook my siel nie, beteken dit net mooi niks)

  1. My Elohiem, op U vertrou ek; laat my nie beskaamd staan nie; laat my vyande oor my nie juig nie. (Ek vertrou nie op U om bloot net gerus te wees of omdat ander dit doen nie. Ek vertrou op U omdat ek weet dat ek andersins spierwit van skaamte sal wees en my vyande van vreugde sal ronddans, omdat hulle besef dat hulle skeptisisme oor my, al die tyd reg was)
  2. Ja, almal wat U verwag, sal nie beskaamd staan nie. Hulle sal beskaamd staan wat troueloos handel sonder oorsaak. (Dit is die vernaamste inhoud van my vertroue: Niemand wat sy verwagting in U stel, sal beskaamd staan nie)
  3. Yahweh, maak my u weë bekend; leer my u paaie. (Dit is my oortuiging dat enige ander weg, enige ander plek waar ek my voet mag neersit, enige ander koers wat ek mag kies, my nie by die regte bestemming sal uitbring nie)
  4. Lei my in u waarheid en leer my, want U is die Elohiem van my verlossing. U verwag ek die hele dag. (U waarheid is ewig en standhoudend – niks kan enigsins daaraan verander nie. U waarheid is ook ‘n waarheid tot verlossing – dis ‘n waarheid wat saak maak – daarom is dit werd om voortdurend verwag en nagespeur te word)
  5. Dink, Yahweh, aan u barmhartigheid en u goedertierenhede, want dit is van ewigheid af. 7 Dink nie aan die sondes van my jonkheid en aan my oortredinge nie; dink aan my na u goedertierenheid, om u goedheid ontwil, o Yahweh! (Die enigste manier waarop ek u verlossing kan ontvang, is deur u geweldige groot guns. As dit van myself afhang, is my lewe gedoem tot mislukking.)

  1. Yahweh is goed en reg; daarom sal Hy sondaars leer aangaande die weg. 9 Hy sal die ootmoediges lei in die reg en die ootmoediges sy weg leer. (Hy maak van ons sy "talmidiem" – sy leerlinge. Die voorwaarde is egter dat ons ootmoedig sal wees. Dit behels twee aspekte, nl. [1] Om af te kyk en jouself te onderwerp en te verneder, en [2] om op te kyk, noukeurig op Hom te let en onbevange van sy grootheid te getuig)

10 Al die paaie van Yahweh is goedertierenheid en trou vir die wat sy verbond en sy getuienisse bewaar. (Die enigste manier om voluit te kan deel in die Vader se goedheid en trou, is om erns te maak met sy verbond en sy getuienisse. Sy getuienisse is daardie dinge wat Hy plegtig laat opteken en bewaar het as uitdrukking van sy volmaakte wil vir sy volk)

 

  1. Om u Naam ontwil, Yahweh, vergeef my ongeregtigheid, want dit is groot. 12 Wie tog is die man wat Yahweh vrees? Hy sal hom leer aangaande die weg wat hy moet kies. (Die een wat Yahweh waarlik vrees – en daarom ook sonde in sy/haar lewe in ‘n ernstige lig beskou – hoef nie daaraan te twyfel nie dat die weë van Yahweh aan hom/haar geopenbaar sal word nie)

  1. Hy self sal vernag in die goeie, en sy nageslag sal die land besit. 14 Die verborgenheid van Yahweh is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak. (Yahweh openbaar nie net sy weë en sy verbond aan die wat Hom vrees nie, maar ook sy verborgenheid – dit wat Hy as die soewereine Een van die grondlegging van die wêreld af neergelê en verorden het)

  1. My oë is voortdurend op Yahweh, want Hy sal my voete uit die net uitlei. (Die net wat hier ter sprake is, is gespan deur diegene wat daarop uit is om my ondergang te bewerk – ek sal dit alleen vryspring as my oë voortdurend op Yahweh gefokus bly)
  2. Wend U tot my en bewys aan my guns, want ek is eensaam en ellendig. (Die enigste manier waarop ek van my eensaamheid en ellende bevry kan word, is as U na my toe draai en my bewus maak van u teenwoordigheid en intieme belangstelling in my doen en late)
  3. Die benoudhede van my hart is wyd uitgestrek; lei my uit my angste. (Hierdie benoudheid is soos die beklemmende gevoel van iemand wat aan engtevrees ly – net U kan vir my ruimte maak en my weer tot rus bring)
  4. Aanskou my ellende en my moeite, en vergeef al my sondes. (U ken die ellende en moeite wat my dikwels oorweldig – die uitputting, spanning en selfs verveling vanweë allerlei daaglikse verpligtinge – help my om hierdie las te kan bemeester en nie in ooreising of depressie te verval nie)
  5. Aanskou my vyande, want hulle is talryk, en hulle haat my met ‘n gewelddadige haat. 20 Bewaar my siel en red my; laat my nie beskaamd staan nie, want by U skuil ek. (U ken elke gevaar waarin ek my bevind en my vanjaar nog sal bevind – bewaar my van dit wat blywende skade kan berokken en ruk my uit elke strik wat die vyand vir my mag stel)

  1. Laat integriteit en opregtheid my bewaar, want U verwag ek. (Integriteit en opregtheid is nie net bedoel om ‘n goeie indruk te maak nie, dit is veral bedoel om te bewaar – ‘n waarborg dat ek nie deur die onbekende van stryk af gebring sal word nie)
  2. o Elohiem, verlos Yiesraél uit al sy benoudhede! (Daar is nog baie ander benoudhede wat ek sal kan opnoem, maar omdat ek nie weet wat die toekoms inhou nie, sal ek noodwendig sommiges uitlaat. Daarom is my gebed: Verlos en bevry almal wat deel is van Yiesraél uit elke vorm van benoudheid waarin hulle hulle hierdie jaar, 2006, mag bevind!)