REGRUK AKSIE SONDER GELYKE

Een van die aanhalings uit Barack Obama se inhuldigingstoespraak wat binne ‘n paar dae in al wat ‘n nuusberig reg oor die wêreld verskyn het, is die veelseggende woorde: "Starting today, we must pick ourselves up, dust ourselves off, and begin again the work of remaking America." ‘n Mens moet dit seker verwelkom dat selfs die Amerikaners deesdae besef dat hulle ‘n regruk aksie nodig het. Die ekonomie moet reggeruk word. Misdaad bekamping moet reggeruk word. Die vasvat van terrorisme moet reggeruk word. Maatreëls om armoede hok te slaan moet reggeruk word. Die opheffing van noodlydendes en behoeftiges moet reggeruk word. In ons eie land, Suid Afrika, kan ‘n hele paar items by hierdie lysie bygevoeg word: Korrupsie in die regering moet reggeruk word. Die onderwys moet reggeruk word. Mediese dienste moet reggeruk word. Veiligheid en sekuriteit moet reggeruk word. Wedersydse vertroue en nasietrots moet reggeruk word. Die verval in morele waardes moet reggeruk word. En so kan ‘n mens aangaan. Regoor die wêreld het mense en gemeenskappe ‘n dringende behoefte aan ‘n grootskaalse regruk aksie sodat dinge weer genormaliseer kan word en lewenskwaliteit weer herstel kan word.

Die vraag is: Kan Amerika homself optel uit die as, homself afstof (mét of sonder ‘n tipies Amerikaanse "bang") en weer van voor af begin? As 43 presidente vóór Obama dit nie so maklik kon regkry nie, wat laat almal dink Obama gaan dit regkry? Kom ons vergeet vir ‘n oomblik van Amerika en kyk na ons eie situasie. As die ANC oor langer as ‘n dekade nie kon regkry wat baie mense gehoop het nie, wat laat hulle dink COPE gaan dit regkry? Of die DA of die ACDP of wie ook al? Kan ‘n nasie of ‘n gemeenskap of ‘n geslag van mense sommer so reggeruk word? Natuurlik kan een of meer areas of departemente wat deel uitmaak van so ‘n gemeenskap, verbeter word – as daar goeie leiers in plek is en mense gemotiveer kan word om hulle volle gewig in te gooi. Maar diep binnekant wéét ‘n mens dat die waardes en die toestande binne ‘n gemeenskappe, algemeen gesproke, nie normaalweg noemenswaardig verbeter nie. As ons die Skrif as vertrekpunt neem, kan ons ook met veiligheid sê: Die wêreld gaan nie verbeter nie. Regruk aksies met die oog op grootskaalse verbetering in lewenskwaliteit gaan hoogstens kosmeties en kortstondig en tydelik van aard wees.

Profesieë in die Skrif dui onteenseglik daarop dat toestande in die laaste dae wêreldwyd gaan versleg. Dan 12:1 stel dit so: "en dit sal 'n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat 'n volk bestaan het tot op daardie tyd nie." Die Messias self het in Matt 24:21 voorspel: "Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie." In Lukas 19:43 word dit effens anders verwoord: "Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande 'n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit." Self in die heel laaste hoofstuk van die Skrif, Openb 22: 11, lees ons hierdie byna verborge, maar duidelike profetiese woord: "Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en wie regverdig is, laat hom nog meer geregtigheid doen, en wie afgesonder is, laat hom nog meer afgesonder word".

Om mekaar aan hierdie Skrifgedeeltes te herinner is nie om ‘n negatiewe demper te plaas op die bruisende optimisme wat baie mense nou skielik ná Obama se inhuldigingstoespraak het nie. Dis net so geweldig belangrik dat ons onsself en ons posisie in hierdie wêreld van tyd tot tyd in heroorweging neem en onsself oriënteer in die lig van die boodskap van die Skrif. Natuurlik is daar in ons lewens as gelowige navolgers van die Messias en die Woord van Yahweh, ook regruk aksies nodig – baie meer gereeld as net elke keer wanneer daar ‘n nuwe president ingehuldig word! Moet ons om dié rede betrokke raak by elke regruk aksie wat iemand met ‘n politieke of ‘n kerklike of ‘n sosiale agenda in ons eie omgewing van stapel gestuur het? Nie noodwendig nie. En in sommige gevalle: Asseblief tog nie. Maar daar is regruk aksies waar die suiwer Skriftuurlike beginsels van geregtigheid en restourasie (sonder enige verborge onderliggende agenda) wel bevorder word. Daarby kan ons wel betrokke raak.

Die belangrikste regruk aksies vir ons is egter nie regruk aksies wat deur politieke en welsynsleiers geïnisieer word nie. Maar regruk aksies wat ons vanuit ‘n gelowige oogpunt en vanuit gehoorsaamheid aan die Skrif, self inisieer. In hierdie proses van "pick yourselves up en dust yourselves off" is ons maatstaf dus die Skrif en ons mikpunt die voorbeeld wat die Messias vir ons nagelaat het. In hierdie proses begin ons nie "the work of remaking America" nie, maar "the work of restoring the Word of Yahweh" en "the work of re-adjusting our lives towards set-apart living in this world." Dieselfde vers in Openbaring wat aandui dat die wat onreg doen in die laaste dae nog meer onreg gaan doen, verklaar ook dat die wat regverdig is nog meer geregtigheid moet doen en die wat afgesonder is, nog meer afgesonder moet lewe. So word dit ook in Job 17:9 verwoord: "Nogtans hou die regverdige vas aan sy weg, en die wat rein van hande is, neem toe in krag." Dit is die tipe regruk aksie waarop ek en jy in hierdie tyd moet fokus. Wat sê die Skrif verder hieroor?

Van die sewe gemeentes in Openbaring was daar nie één van wie daar nie ‘n spesifieke regruk aksie vereis is nie. Elkeen van die sewe gemeentes het minstens een area gehad waarin hulle hul moes regruk: Efese moes terugkeer na hulle eerste liefde (2:4); Smirna moes hulle distansieer van dié wat sê dat hulle Yehudiem is en dit nie is nie (2:9); Pergamus moes ontslae raak van mense wat die gemeente met afwykende leer verlei het (2:14); Thiatire moes ophou om hulle met die dieptes van Satan besig te hou (2:24); Sardis het mense gehad wat "op die punt gestaan het om te sterf" wat moes wakker word (3:2); Filadelfia het, net soos Smirna, ook te make gehad met mense wat gelieg het oor die feit dat hulle Yehudiem was (3:9) en Laodikia het mense gehad wat lou was en nie koud of warm nie (3:15).

Dis interessant dat daar in die hartjie van die Torah ook oor die verval van die laaste dae gepraat word en oor die soort "regruk aksies" waaraan gelowiges hulleself sal moet onderwerp. Een voorbeeld is Devariem (Deut) 4:29-31: "Dan sal julle daarvandaan Yahweh jou Elohiem soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek. As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na Yahweh jou Elohiem terugkeer en na sy stem luister. Want Yahweh jou Elohiem is 'n barmhartige El; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die vernietiging stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie."

Enkele voorbeelde uit die res van die Skrif:

Psa 51:17 (19) Die offers van Elohiem is 'n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart sal U, o Elohiem, nie verag nie!

Spr 1:23 Wend julle tot my teregwysing, dan laat ek my gees vir julle uitstroom, wil ek my woorde aan julle bekend maak.

Jes 55:7 Laat die afvallige sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot Yahweh bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse Elohiem, want Hy vergeef menigvuldiglik.

Jer 6:16 So sê Yahweh: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie.

Jer 13:15-16 Luister en merk op; verhef julle nie, want Yahweh het gepraat! Gee eer aan Yahweh julle Elohiem.

Hos 10:12 Dit is tyd om Yahweh te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën.

Zeg 1:3 Keer terug na My, sê Yahweh van die leërskare, en Ek sal na julle terugkeer.

Mat 3:2 Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.

Hand 17:30 Elohiem het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer.

Efes 5:14 Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en die Messias sal oor jou skyn.

Binne hierdie breë raamwerk behoort elkeen van ons wat tot die besef gekom het dat Yahweh deur sy Gees met ‘n grootskaalse regruk-aksie in ons harte begin het, meer perspektief en groter duidelikheid te kry.