ROEP HOM AAN IN JOU BENOUDHEID
In 2 Kronieke 33 lees ons van ‘n koning wat net 12 jaar oud was toe hy koning geword en 25 jaar lank oor Yehudah as koning regeer het. Die vroeëre getuigskrif van hierdie koning het gelees soos die getuigskrifte van meeste ander konings wat oor Yehudah én oor Yiesrael regeer het: "Hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van Yahweh ooreenkomstig die gruwels van die nasies wat Yahweh voor die kinders van Yiesraél uit verdrywe het." Die vooruitsigte vir Yehudah het nie goed gelyk nie – hier was maar net nog ‘n koning wat net nie so ver kon kom om in die vrees van Yahweh te wandel en die volk saam met hom op die weë van Yahweh te lei nie. Die naam van hierdie koning was Menasheh.
In vers 10 lees ons dat Yahweh met Menasheh en met die volk gepraat het (die bedoeling is: HERHAALDELIK gepraat het), maar dat hulle nie geluister het nie. Daarom het Yahweh die leërowerstes van die koning van Ashur oor hulle gebring, en hulle het Menasheh met hake gevang en hom met koperkettings geboei en hom na Bavel vervoer (vers 11). Wat doen ‘n mens as jou eie ongehoorsaamheid en rebelsheid jou in rampe en ellende dompel – en nie net vir jouself nie, maar ook die mense wat onder jou is – in hierdie geval: ‘n hele nasie!!? Menasheh kies om iets te doen wat sy hele toekoms sou beïnvloed en verander. In sy benoudheid het hy die aangesig van Yahweh sy Elohiem om guns gesmeek en hom diep verootmoedig voor die aangesig van die Elohiem van sy vaders (vers 12). Nog nooit in sy lewe het Menasheh so ‘n benoudheid geken nie. En nog nooit in sy lewe het hy hom só verootmoedig voor die aangesig van Yahweh nie. In vers 13 lees ons wat die gevolg hiervan was: Menasheh het tot Yahweh gebid; en Yahweh het hom verhoor en na sy smeking geluister en hom na Yerushalayiem in sy koningskap teruggebring. Toe het Menasheh erken dat Yahweh Elohiem is.
Menasheh se lewe is ‘n lewende illustrasie van wat oor al die eeue nog gebeur het wanneer mense die Naam van Yahweh aanroep in hulle benoudheid – benoudheid wat Yahweh oor hulle gebring het, omdat hulle aan Hom ongehoorsaam was. In NegemYah 9:26-28 lees ons die volgende, as deel van NegemYah se gebed: "Maar hulle het rebels en opstandig geword teen U en u wet agter hulle rug gewerp; en u profete wat hulle gewaarsku het, om hulle na U terug te bring, het hulle doodgemaak en groot, afstootlike dinge gedoen. Daarom het U hulle oorgegee in die hand van hulle teëstanders, dat hulle hulle in benoudheid sou bring. Maar wanneer hulle in die tyd van hulle benoudheid U aangeroep het, het U uit die hemel gehoor en na u grote barmhartigheid aan hulle verlossers gegee, dat hulle hulle uit die hand van hul teëstanders kon verlos. Maar sodra hulle rus gehad het, het hulle weer kwaad gedoen voor u aangesig, en U het hulle oorgelewer in die hand van hul vyande, dat hulle oor hulle sou heers; as hulle U dan weer aanroep, het U uit die hemel gehoor en hulle na u barmhartigheid baiekeer gered."
Benoudheid wat oor ons kom, is nie so sleg as wat ons dink nie. Baiekeer is dit ‘n "wake-up call" sodat ons kan terugkeer na daardie plek waar ons met ons opstandigheid en ongehoorsaamheid en afvalligheid begin het. Maar dis nie waar dit eindig nie. Dis nie net ‘n "wake-up call" nie. Dis ook ‘n bedekte uitnodiging om groter seën uit die hand van die Vader te ontvang. Dis ‘n uitstekende geleentheid om nader aan Hom te kom en meer van sy weë en sy grootheid en sy guns te leer ken. Kom ons ondersoek ‘n paar gedeeltes in Tehielliem (Psalms) waarin ‘n mens duidelik die "byvoordele" en die "bedekte seën" van benoudheid kan raaksien. Dit sal ons leer om met nuwe oë te kyk na die benoudhede wat daar van dag tot dag oor ons pad kom.