SKAPE EN HERDERS WAT DIE WOORD VAN YAHWEH GEHOOR HET
As daar een ding is wat die mense van ons tyd eindeloos frustreer en verwar, dan is dit die feit dat daar soveel teenstrydige boodskappe en evangelies uitgebasuin word deur leiers en predikers wat hulle voordoen as spreekbuise van die Almagtige. Wêreldwyd is daar letterlik duisende geestelike leiers wat skynbaar die rol van herders inneem, maar wat in werklikheid, om die woorde van Yegezkel (Esegiël) 34 te gebruik, aan hulleself weiding verskaf en nie die
kudde van Yahweh laat wei nie. Die tragiese gevolg hiervan is dat dit nie net die herders is by wie die Woord van Yahweh verbygaan nie. Omdat die herders nie die Woord van Yahweh hoor nie, is daar miljoene "skape" wat ook nie die Woord van Yahweh hoor nie. Immers, hoe kan hulle dit hoor as die herders in wie hulle hulle vertroue plaas, ‘n "woord" of "woorde" aan hulle bring wat in belangrike opsigte afwyk van die Woord wat die Almagtige self deur sy profete, sy apostels en sy eie Seun bekendgemaak het?Die profeet Yegezkel (Esegiël) profeteer nie net teen die herders wat die kudde van Yahweh mislei en uitbuit nie. Yegezkel 34, waarin daar ‘n striemende aanval teen valse en korrupte herders geloods word, is alombekend. In die gedeelte wat hierdie hoofstuk direk voorafgaan, die laaste helfte van Yegezkel 33, is dit veral die "skape" wat aangespreek word. Hulle het ook ‘n verantwoordelikheid om die Woord van Yahweh te hoor. Hulle kan hulleself nie verskoon deur te sê "Ons herder het ons mislei" nie. En as hulle herder die waarheid aan hulle verkondig het, help dit nie veel dat hulle sê "Wat ‘n wonderlike boodskap", maar daarná verroer hulle nie ‘n vinger om die woord wat hulle gehoor het, te gehoorsaam nie.
Dit blyk dat die profeet die profesieë van Yegezkel 33 en Yegezkel 34 op dieselfde dag (of minstens dieselfde tyd van die jaar) van Yahweh ontvang het. Watter tyd van die jaar was dit? Ons vind die antwoord in Yegezkel 33:21-23: "En in die twaalfde jaar van ons ballingskap, in die tiende maand op die vyfde van die maand, het 'n vlugteling uit Yerushalayiem na my gekom met die woorde: Die stad is ingeneem! En die hand van Yahweh was op my in die aand, voordat die vlugteling gekom het; en Hy het my mond geopen teen die tyd dat hy in die môre na my gekom het. So is dan my mond geopen, en ek was nie meer stom nie. Toe het die woord van Yahweh tot my gekom en gesê…".
Dus, die tyd rondom die vyfde dag van die tiende maand. As ons dit moet omskakel na die jaar 2006, kom dit neer op 26 Desember, presies vier dae gelede en presies een dag na Kersfees.Miskien is die boodskap van Yegezkel 33 en Yegezkel 34 ‘n boodskap wat ons juis nóú moet hoor – nie net in die jaar 2006 nie, maar spesifiek hierdie tyd van die jaar. Die tyd wat tradisioneel bekendstaan as die periode tussen Kersfees en Nuwejaar. Hoe het ‘n mens die afgelope maand of wat nie opnuut weer onder die indruk gekom van die ydelheid en die oppervlakkigheid, maar tog ook die onverstaanbare bekoring, van "Kersfees" wat soos ‘n magtige vesting die hele wêreld in sy mag het nie? ‘n Mens kan nie help om daaraan te dink dat sonaanbidding ‘n rol gespeel het in die totstandkoming van hierdie dag nie en dat 25 Desember vroeër as die geboortedag van die son vereer is nie. ‘n Mens kan nie help om ‘n afsku te kry aan die oormatige etes, die onrein kossoorte, die drankmisbruik en die swelgpartye wat so aan die orde van die dag is oor hierdie tyd nie. ‘n Mens kan nie die bloedvergieting miskyk nie – op ons land se paaie, in die hoë misdaadsyfer en selfs in gesinstragedies wat hierdie tyd van die jaar nog meer voorkom as normaalweg. Teen hierdie agtergrond is die woord van profeet besonder gepas: "So sê die Meester Yahweh: Julle eet vleis saam met die bloed en slaan julle oë op na jul drekgode en vergiet bloed - en sal julle die land as besitting ontvang?" (Yegezkel 33:25).
Dit is interessant dat daar in Yegezkel 33:22 gemeld word dat die profeet se mond geopen is toe hy hierdie openbaring ontvang het en dat hy nie meer stom was nie. Waarom was sy mond dan nie voorheen geopen nie? Deur hierdie gedeelte saam met Yegezkel 3:24-27 te lees, blyk dit dat Yahweh self ‘n tydperk bepaal het waarin die profeet moes "stilbly" oor die sondes van Yiesrael – vanwee die feit dat daar soveel rebelsheid by hulle was. ‘n Mens kan sê dit was nog nie die bestemde seisoen vir hulle om die volheid van die Woord van Yahweh te hoor nie. Met die aankondiging in Yegezkel 33 word hierdie stilswye egter opgehef. Die tyd het aangebreek dat die profeet weer moes praat, en dat die volk weer die Woord van Yahweh moes hoor – nie die soetsappige en gerusstellende boodskap wat hulle graag wóú hoor nie, maar die woord van waarheid, die woord wat sny soos ‘n tweesnydende swaard en wat mense voor die uitdaging stel om hulle lewenskoers te verander. Die keuse is eenvoudig: "Wie hoor, laat hom hoor; en wie dit nalaat, laat hom dit nalaat; want hulle is 'n rebelse huis" (Yegezkel 3:27). Wat die profeet betref – en so ook elkeen aan wie hierdie profetiese boodskap toevertrou is – van nou af mag hy eenvoudig nie meer stilbly nie – hy het ‘n dure verantwoordelikheid om die sondaars op hulle dwaalweë te wys en te waarsku teen die toorn van die Almagtige.
Die kans is goed dat mense hierdie woord van waarheid nie so goed sal ontvang soos wat ‘n mens hoop nie. Hulle kan dit blatant verwerp en hulle rug daarop draai en selfs die draer van die boodskap verag en verdryf. Selfs dán mag ons nie ophou om die Woord van Yahweh te laat hoor nie. Ons weet mos reeds, op grond van die Skrif: Party sal dit hoor en party sal dit nalaat. Ons mag nie die Woord van sommiges weerhou omdat andere dit nie wou ontvang nie. Daar sal egter ook sommiges wees wat lyk of hulle positief op die Woord reageer, maar uiteindelik nog steeds nie hulle gedrag verander nie. Hoor hoe word hierdie groep mense beskryf in Yegezkel 33:30-32: "
Hulle praat die een met die ander, elkeen met sy broer, en sê: Kom tog en hoor wat die woord is wat van Yahweh uitgaan. En hulle kom na jou toe soos 'n volk saamstroom en sit voor jou as my volk en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie; want hulle maak liefdesverklaringe met hulle mond, maar hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan. En kyk, jy is vir hulle soos 'n minnelied, soos een skoon van stem, wat goed op die snare speel: hulle hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie." Om die regte geluide te laat hoor wanneer jy met die waarheid gekonfronteer word, is nie genoeg nie. Dis die daders wat beloon word, nie die hoorders nie.En dan, in Yegezkel 34, verskuif die kollig na die herders. Hoeveel is daar nie wat as herders paradeer, maar nooit werklik die Woord van Yahweh gehoor het nie en daarom ook nie die Woord van Yahweh aan die skape oordra nie. Wat ‘n geweldige aanklag dat daar sogenaamde herders is wat eintlik net geïnteresseerd is om aan hulleself weiding te verskaf – wat die vet van die skape eet en die wol van hulle lywe afskeur, maar niks wesenliks doen om hulle te versorg en te versterk en vir die kudde van Yahweh te behou nie. Yegezkel 34:6 het in ons dag volledig in vervulling gegaan: "My skape dwaal rond op al die berge en op al die hoë heuwels; ja, oor die hele oppervlakte van die aarde is my skape verstrooi, sonder dat iemand na hulle vra of hulle soek." Per definisie behoort die herders die skape te laat wei. Hulle behoort die skape in ‘n opset te plaas waar die shalom en die rus van Tehielliem 23 ervaar word: "Yahweh is my herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen. Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil. Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf, dit vertroos my. U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van Yahweh bly in lengte van dae." Dit kom eintlik daarop neer dat hulle soos Y'shua die Messias nie die fokus op hulleself sal laat val nie, maar op Hom – op Yahweh – wat die Herder by uitnemendheid is. Dat hulle die kudde aan Yahweh en aan sy weë sal bekendstel. Aan die ware verkwikking en die ware geregtigheid en die ware guns wat alleen by Yahweh te vinde is. Teen hierdie agtergrond is daar besondere betekenis in die woorde Yegezkel 34:23-27: "En Ek sal een enkele herder oor hulle verwek, en hy sal hulle laat wei, naamlik my kneg Dawied; hy sal hulle laat wei, en hy sal vir hulle 'n herder wees. En Ek, Yahweh, Ek sal vir hulle 'n Elohiem wees, en my kneg Dawied 'n vors in hulle midde. Ek, Yahweh, het dit gepraat. En Ek sal 'n verbond van vrede met hulle sluit en die wilde diere uit die land laat verdwyn; en hulle sal veilig bly in die woestyn en slaap in die bosse. En Ek sal hulle en die plekke rondom my heuwel tot 'n seën maak en die stortreën laat val op sy tyd; stortreëns van seën sal dit wees. En die bome van die veld sal hulle vrugte gee, en die land sal sy opbrings gee, en hulle sal veilig wees in hul land; en hulle sal weet dat Ek Yahweh is as Ek hulle jukskeie stukkend breek en hulle red uit die hand van die wat hulle diensbaar gemaak het."