SLEUTEL VAN KENNIS (1)
Sowat 200 jaar gelede, in die laat 1700’s, het die Franse troepe van Napoleon Bonaparte ‘n belangrike ontdekking in ‘n klein dorpie met die naam "Rosetta" in die Suide van Egipte gemaak. Hulle fonds was ‘n steen van omtrent een meter by ‘n halwe meter met ‘n inskripsie wat uit die periode 196 voor Messias dateer het. Die inskripsie was in drie verskillende tale, Demoties, Grieks en Hiërogliewe en het verskillende aspekte beskryf wat met die antieke koningshuis in Egipte te make gehad het. Hierdie steen is vandag in die Britse Museum in Londen en staan as die "Rosetta Steen" bekend. Die ontdekking van die Rosetta Steen word gesien as van baie groot belang, omdat dit later die sleutel was vir die ontsyfering en verstaan van Hiërogliewe. Hiërogliewe, as ‘n antieke skryftaal wat tot en met die ontdekking van die Rosetta Steen, deur niemand in die moderne tyd verstaan is nie, is weer ‘n sleutel vir die verstaan van die ou Egiptiese kultuur en godsdiens. Tot vandag toe word die begrip "Rosetta Steen" soms nog in die algemene spreektaal gebruik om aan te dui dat ‘n eenvoudige en ‘n bekende waarheid die sleutel inhou om ‘n moeiliker probleem te kan verstaan. In die Mediese Wetenskap word daar byvoorbeeld soms gesê een bekende soort virus is die Rosetta Steen om die gedrag van ‘n nuwe, onbekende virus te kan ontsyfer.
In die geloof is daar ook sulke "Rosetta Stene". Sleutels wat vir ons kan help om moeilike begrippe of groter waarhede te kan ontsluit. In Lukas 11:52 hoor ons die Messias sê: "Wee julle, wetgeleerdes, want julle het die sleutel van die kennis weggeneem; self het julle nie ingegaan nie, en vir die wat wou ingaan, het julle verhinder." Wat is die sleutel van kennis wat die wetgeleerdes van mense weggeneem het wat gereed was om in die koninkryk in te gaan? Ek dink nie Y'shua verwys hier na een spesifieke waarheid nie. Wat aan die wetgeleerdes toegeken is as ‘n "sleutel", was in die eerste plek die geheim van ‘n lewe in die vrees van Yahweh en in die wil van Yahweh, soos dit in die Torah beskryf is. Die wetgeleerdes het nie die Torah van die mense weggeneem nie. Hulle het die hart van die Torah weggeneem en vir mense die dop oorgehou en dít vir hulle aangebied! Hulle het vir mense die prente en beelde en die uiterlike (die "hiërogliewe") van die Torah voorgehou, maar sekere belangrike sleutels daaruit gehaal sodat die gewone man op die straat nooit die ware betekenis en die diepste sin van die alles sou kon verstaan nie.
Een van die belangrikste sleutels waarmee ‘n mens die dieper betekenis van die Torah kan ontsluit, is die sleutel van die Vader se Naam. Meeste van ons is bekend daarmee dat die wetgeleerdes reeds vóór die tyd van die Messias na vore gekom het met die idee dat die Vader se Naam te "heilig" is om uit te spreek en dat daar allerlei ander benaminge gebruik moet word om na Hom te verwys – beide in die skryftaal en in spreektaal. Ek wil nie vandag oor hierdie sogenaamde "ineffable Name doctrine" van die Jode praat nie en oor die feit dat dit op ‘n totale verdraaiing van die Skrif neerkom nie. Waaroor ek wel wil praat, is oor hierdie sleutel wat baie mense nog nooit ontdek het nie en wat nog steeds, nie net deur wetgeleerdes nie, maar ook deur pastore en leraars en priesters en teoloë, net soos in Y'shua se tyd, van soekende mense weggehou word. Mense wat werklik wil ingaan, mense wat werklik wil groei en seën wil beleef, word verhinder. Hoekom? Omdat die sleutel van die Vader se Naam op een of ander manier van hulle weerhou word. Onthou wat Y'shua gesê het oor hulle wat struikelblokke in mense se pad bring wat graag in Hom wil glo – hulle verdien self ‘n ander soort struikelblok (‘n meulsteen om hulle nek in die see).
"Dit is wysheid om u Naam te vrees", staan daar in MigaYah 6:9. The Scriptures se vertaling is dalk meer korrek: "Let sound wisdom see your Name" (KJV: "The man of wisdom shall see your Name"). Om die Vader se Naam te sien (en te vrees) is ‘n sleutel tot wysheid. Kom ons kyk na ander Skrifgedeeltes wat kan help om te verstaan wat dit beteken om Yahweh se Naam te "sien" en te "vrees".
Om Yahweh se Naam (raak) te sien en te vrees, is veel meer as om net daarvan te weet. Daar is baie wat vandag daarop roem dat hulle weet wat sy Naam is, maar verder nie eintlik toelaat dat sy Naam ‘n bepalende rol in hulle lewens speel nie. Daar is te veel bewyse in die Skrif daarvoor dat sy Naam ‘n sleutel is wat kosbare waarhede en groot deure vir elkeen sal oopsluit wat bereid is daardie sleutel op te neem en dit deel van hulle lewens te maak.