SOUT VAN DIE AARDE

Sout het in die antieke tye vir die Yisraeliete ‘n besondere betekenis gehad. Sout, en die kwaliteite van sout, het presies die teenoorgestelde konnotasie gehad as suurdeeg en dit waarmee suurdeeg geassosieer is. In Wayyiekra (Levitikus) 2:11-13 lees ons die volgende: "Geen spysoffer wat julle aan Yahweh bring, mag van iets wat ingesuur is, berei word nie; want van geen suurdeeg of heuning mag julle vir Yahweh ‘n vuuroffer aan die brand steek nie. As ‘n offer van eerstelinge mag julle dit aan Yahweh bring, maar op die altaar mag dit nie as lieflike geur kom nie. En jy moet al jou spysoffers met sout berei, en jy mag die sout van die verbond van jou Elohiem by jou spysoffer nie laat ontbreek nie; by al jou offers moet jy sout bring." Suurdeeg is in verband gebring met bederf, ontbinding en kortstondigheid, terwyl sout geassosieer is met suiwerheid, standhoudendheid en smaakvolheid. Daarom is dit as vereiste gestel dat elke offer met sout gepaard moes gaan. Dit het die integriteit waarmee daar geoffer word en die blywendheid van die offer onderstreep. Hierdie sout het bekend gestaan as die "sout van die verbond", want dit het die aard van Yahweh se verbond met sy volk na vore gebring: iets wat ewig, onbederfbaar en suiwer is. In die Nuwe Verbond het Y'shua dit uitgespel dat sy dissipels die "sout van die aarde" (Matt 5:13) moet wees. Hierdie metafoor sluit ten nouste aan by dit wat in die res van die Skrif oor sout en die besonderse kwaliteite van sout gesê word. Kom ons kyk vervolgens na ‘n aantal aspekte wat, volgens die Skrif, met die diepere en blywende betekenis van sout te make het.

  1. Die Hebreeuse woord vir "sout". Die woord wat met "sout" vertaal word, is "melach" en die primêre betekenis van hierdie woord is "to dissipate, to disappear". Dit dui waarskynlik op die eienskap van sout dat dit oor die kos of vleis versprei word, en in die proses heeltemal uit die oog verdwyn (oplos), maar dat die uitwerking daarvan duidelik in die kos geproe en ervaar kan word. Wanneer ons aan Yahweh ‘n offer bring, is die belangrike nie dat ons of ons werke gesien moet word nie, maar dat daar ‘n egtheid en opregtheid sal wees wat aan Hom die eer sal toebring. Vgl. die gesindheid van Yahuganan die Doper in Yahuganan 3:30.
  2. Die soutverbond. In die Arabiese kultuur is daar ‘n bekende uitdrukking: "Daar is sout tussen ons". Dit beteken byna dieselfde as die Afrikaanse spreuk: "Hulle het ‘n sak sout saam opgeëet", en dui daarop dat twee partye ‘n hegte vriendskap met mekaar gesmee het wat nie maklik verbreek sal kan word nie. ‘n Arabier wat iemand in sy tent ontvang het en saam met hom sout (kos) geëet het, selfs al was dit sy grootste vyand, het ‘n morele verpligting gehad om sy gas te beskerm so lank as hy daar sou vertoef. Hierdie gebruik was nie onbekend in die Hebreeuse kultuur nie. Daarom is daar soms na ‘n plegtige verbond tussen twee partye as ‘n "soutverbond" verwys. Dit dui daarop dat dit ‘n verbond wat nie sommer verbreek sal word nie. So is die koningskap oor Yisrael aan Dawied en sy seuns gegee as ‘n soutverbond – niks en niemand kan daaraan peuter of verander nie – dit sal vir ewig so bly (2 Kronieke 13:5).
  3. Die sout van ons Koning. In Esra 4:14 lees ons hierdie woorde: "Aangesien ons nou die sout van die paleis geëet het en dit ons nie pas om die oneer van die koning aan te sien nie, daarom stuur ons en laat die koning weet …" Hier word weer eens aangesluit by die bekende betekenis van die spreuk "Daar is sout tussen ons". Hier gaan dit egter nie bloot oor die verhouding of verbond tussen twee gelyke partye nie, maar oor die seëninge en die guns en die oorvloed wat gewone landsburgers uit die hand van die koning ontvang. Omdat hy sy vriendskap en vrygewendheid teenoor hulle bewys het, is hulle verplig om eer aan hom te bewys. Die woord "salaris" is oorspronklik gebruik vir die vergoeding en die materiële gawes wat die koning aan sy onderdane, en by name, sy soldate, uitgedeel het ("Sal" is die Latynse woord vir "sout"). Vir jou en my is die vraag dus: Wat kan ons doen uit dankbaarheid en uit eerbied vir Hom wat as hemelse Koning soveel oorvloed aan ons, as sy onderdane, geskenk het? Vgl. Tehielliem 116:12.
  4. Die gesindheid van sout. Hier kan ons let op die uitspraak van die Messias: "Want elkeen sal met vuur gesout word en elke offerande sal met sout gesout word. Die sout is goed, maar as die sout souteloos word, waarmee sal julle dit smaaklik maak? Julle moet sout in julle hê en vrede hou met mekaar" (Markus 9:49-50). Wat aanleiding tot hierdie woorde gegee het, was die dissipels se argument onder mekaar oor wie van hulle die grootste was (Mark 9:33-35). Y'shua vermaan hulle hieroor en herinner hulle daaraan dat die gesindheid van ware dissipels een van diensbaarheid en goedgesindheid, selfs teenoor geringes en eenvoudiges, moet wees. Dit is duidelik dat hier gaan oor die begeerte en ingesteldheid om oral smaak te gee en kwaad te voorkom – dit wil sê vrede na te jaag – al is dit ten koste van jouself. Vgl. Tehielliem 34:14; 2 Timoteus 2:22 en Ievriem (Hebreërs) 12:14.
  5. Sout as noodsaaklike smaakmiddel. In Iyov (Job) 6:6 word die vraag gestel: "Word iets wat laf is, sonder sout geëet? Of is daar smaak in die wit van ‘n eier?" Net soos sekere kosse eenvoudig nie sonder sout geëet kan word nie, net so kan die wêreld nie werklik smaak hê sonder mense wat bereid is om in hulle leefwêreld "ingesout" te word nie. Die woorde van Kolossense 4:6 is in hierdie opsig baie betekenisvol: "Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord." Elke gelowige word in werklikheid voor die keuse gestel: Is jy een van diegene wat die wêreld beïnvloed deur smaak en geur te verleen, oral waar jy beweeg? Of is jy een van diegene wat deur die bederf van die wêreld beïnvloed en oorweldig is en die unieke smaak verloor het wat jy deur die werking van Yahweh se Gees in jou verkry het? Vgl. 2 Kefa (Petrus) 2:20-21.
  6. Sout as geneesmiddel. Wanneer ‘n baba gebore is, is die nuweling met sout ingevryf as reinigingsmiddel en om die vel te versterk (Yegezkel 16:4). Elisha het die ondrinkbare en onvrugbare waters van ‘n spruit in Yerigo gereinig deur sout daarby te gooi (2 Melagiem / Konings 2:19-22). Die eienskap van sout wat hier sterk na vore kom, is dat dit bederf teëwerk en dat dit help om ‘n produk langer te laat hou – juis omdat sout op sigself so hardnekkig en onvernietigbaar is. Dit herinner ons aan die talle plekke in die Skrif waar daar na die "gesonde leer" en na "gesonde geloof" verwys word (vgl. 1 Tim 1:10; 1 Tim 6:3-4; 2 Tim 4:3; Titus 1:9; Titus 2:8).
  7. Die kontras opgesluit in sout. Dit is een van die grootste kontraste dat die Dooie See (soms ook genoem die Soutsee) die watermassa is wat die grootste konsentraat van sout op aarde bevat – soveel so dat geen organisme daarin kan lewe nie – maar nogtans soveel genesende eienskappe dat mense van regoor die wêreld daarheen stroom en van die produkte daarvan gebruik maak. Dit herinner sterk aan die visioen van Yegezkel 47 waarin beskryf word hoedat water uit die tempel stroom en tot in die Dooie See vloei en dat dit dien as "genesing" van die waters van die Dooie See – soveel so dat die lewe ten volle terugkeer na hierdie See.