STERK WEES OP BAIE MANIERE

By ‘n vorige geleentheid het ons die lewe van koning AmatsYah, wie se naam die betekenis dra van "Die sterkte van Yahweh", van naderby beskou. Die tragedie is dat AmatsYah die profetiese betekenis van sy naam nie volledig uitgeleef het nie. Sy getuigskrif het gelui: "Hy het gedoen wat reg was in die oë van Yahweh, maar nie met 'n volkome hart nie." Dis net asof AmatsYah al die potensiaal gehad het, en al die geleenthede, en al die ondersteuning van Bo waarop ‘n mens kan hoop, maar nogtans nie sy innerlike sterkte volwaardig kon ontgin en ook nie die verhewe roeping wat daar op sy lewe was, kon verwesenlik nie.

Ná AmatsYah is sy seun, UzziYah, as koning oor Yehudah aangestel. UzziYah se getuigskrif het in baie opsigte ooreengestem met die getuigskrif van sy pa. In 2 Kronieke 26:4 lees ons: "En hy het gedoen wat reg was in die oë van Yahweh net soos sy vader AmatsYah gedoen het". 2 Kronieke 26 beskryf sommige van die indrukwekkende prestasies en uitvindsels wat UzziYah op sy kerfstok gehad het. Hy het afgereken met die Pelieshtyne, die Araviete, die Meúniete, die Ammoniete en selfs die Mietsrayimiete. Hy het besonderse ekonomiese insig gehad, torings, putte en stede gebou, uitgeblink in veeboerdery, landbou en wynboerdery en indrukwekkende tuine aangelê. Sy kennis van oorlogvoering en wapentuig was sy tyd ver vooruit en sy leer was beter toegerus as al die leërs van daardie tyd.

Maar sy getuigskrif kry later ook ‘n MAAR, net soos die getuigskrif van sy pa. In 1 Kronieke 26:16 word daar van hom gesê: "Maar toe hy sterk geword het, was sy hart hoogmoedig, sodat hy baie verkeerd gedoen en ontrou gehandel het teen Yahweh sy Elohiem; want hy het in die tempel van Yahweh gegaan om offerrook te laat opgaan op die reukaltaar." Toe UzziYah by die piek van sy koninkryk kom en sy roem en krag as ‘n leier van formaat byna geen perke het nie, maak hy dieselfde fout wat talle voor hom en na hom ook gemaak het. Hy gee plek aan hoogmoed in sy lewe en onder andere eien hy vir homself die reg toe om as koning offers in die tempel te gaan bring – iets wat alleenlik vir die priesters beskore was. Yahweh tref hom met melaatsheid en hy word van die res van die volk afgesonder en ervaar die ergste ding wat met enige persoon kon gebeur (1 Kron 26:21): "Want hy was van die huis van Yahweh uitgesluit."

Die merkwaardige is dat die naam UzziYah, net soos die naam AmatsYah, ook beteken: "Die sterkte van Yahweh". AmatsYah se naam herinner aan die "omets" van Yahweh (sterkte, veral in die sin van moed en innerlike vermoë, maar ook ander vorme van krag), terwyl UzziYah se naam die fokus laat val op die "oez" van Yahweh (sterkte, veral in die sin van roem en majesteit, maar ook ander vorme van krag). Die feit van die saak is: beide AmatsYah en UzziYah se lewensverhale staan opgeskryf as ‘n sterk herinnering dat sterkte nie net misbruik kan word nie, maar ook dat sterkte baie maklik kan oorgaan in mislukking en teleurstelling. Maar veral dat ware sterkte verkeerd verstaan kan word en in die proses nooit werklik ontdek word nie. Juis daarom is dit so belangrik dat ons sal weet presies wat die Skrif met sterkte bedoel en hoe elkeen van ons hierdie sterkte kan bekom. ‘n Studie van die twee begrippe "omets" (of "amats") en "oez" bring aan die lig dat mens sterk kan wees op meer as een manier en dat dit ‘n groot fout kan wees om een soort "sterkte" na te jaag en uit die oog te verloor dat Yahweh jou dalk juis op ‘n ander vlak sterk gemaak het (of wil sterk maak) as dit waarop jy die heeltyd gehoop het.

  1. Sterkte wat in verlossing neerslag vindExo 15:2 Yah is my krag en my psalm, en Hy het my tot verlossing geword. Hy is my El, Hom sal ek roem; die Elohiem van my vader, Hom sal ek verhef.
  2. Sterkte deur die aangesig van Yahweh voortdurend te soek1Kr 16:11 Vra na Yahweh en sy sterkte; soek sy aangesig voortdurend.
  3. Sterkte wat selfs by kinders en suigelinge gesien kan word - Psa 8:2 Uit die mond van kinders en suigelinge het U sterkte gegrondves, om u teëstanders ontwil, om die vyand en wraakgierige stil te maak.
  4. Sterkte wat uit vrede bestaan - Psa 29:11 Yahweh sal sy volk sterkte gee, Yahweh sal sy volk seën met vrede.
  5. Sterkte om oor te sing en te jubel - Psa 59:16 Maar ek sal sing van u sterkte en elke môre jubel oor u goedertierenheid, want U was 'n rotsvesting vir my en 'n toevlug in die dag toe ek benoud was.
  6. Sterkte deurdat die gebaande weë in jou hart is - Psa 84:5 (6) Geseënd is die mens wie se sterkte in U is, in wie se hart die gebaande weë is.
  7. Sterkte wat jou innerlik standvastig en moedig maak - Psa 138:3 Die dag toe ek geroep het, het U my verhoor, my moedig gemaak met krag in my siel.
  8. Sterkte wat jou bedek as jy in stryd verkeer - Psa 140:7 (8) Yahweh Meester, Sterkte van my verlossing, U beskut my hoof in die dag van stryd!
  9. Sterkte wat geleë is in die vrees van Yahweh - Spr 14:26 In die vrees van Yahweh lê 'n sterk sekerheid, ook vir die kinders van 'n sodanige sal daar 'n toevlug wees.
  10. Sterkte wat opgesluit is in die Naam van Yahweh - Pro 18:10 Die Naam van Yahweh is 'n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.
  11. Sterkte wat jou gereed vir die toekoms maak - Spr 31:25 Sterkte en eer is haar kleed, en sy lag oor die dag wat kom.
  12. Sterkte om leuens aan die kaak te stel - Yerm 16:19 O Yahweh, my sterkte en my beskutting en my toevlug in die dag van benoudheid, tot U sal volke van die eindes van die aarde af kom en sê: Net leuens het ons vaders geërf, nietige afgode, en daaronder was niks wat voordeel kon bring nie.