STUIPTREKKINGS VAN DIE VYAND

In Openbaring 12 is daar minstens drie verse wat beklemtoon dat die vyand met groot woede en intensiteit daarop uit is om die afgesonderdes van Elohiem skade te berokken, en selfs te vernietig, as dit moontlik is. So, byvoorbeeld, 12:10 "hy wat hulle aanklaag voor ons Elohiem, dag en nag"; 12:12 "want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het" en 12:17 "En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge." Daar is geen twyfel hieroor nie: Hulle wat hulle skaar by Yahweh die Almagtige en wat die getuienis van sy Seun in hulle harte bewaar, moet rekening hou met ‘n uiters gedugte en hoogs gemotiveerde vyand. ‘n Mens kry die idee dat Satan hom in ‘n verbete stryd begewe het en alle moontlike roetes en stappe sal neem om te verhoed dat Yahweh sy koninkryk in hierdie wêreld tot stand bring. Die totstandkoming van hierdie koninkryk, beteken vir Satan en sy medewerkers net een ding: hulle eie ondergang en doodsvonnis. Daarom kan die geskarrel van die Vyand in hierdie wêreld vergelyk word met die laaste stuiptrekkings van ‘n gekweste dier wat weet dat sy einde in sig is.

As ‘n mens die Skrif in sy geheel bestudeer, blyk dit dat die Vyand se vernietigingstaktiek nie net tot die eindtyd beperk is nie. Van die eerste oomblik af dat Yahweh begin het om sy koninkryksplan aan uitverkorenes soos Avraham en Mosheh en Dawied bekend te maak, van daardie oomblik af (en selfs nog vóór dit) het Satan al begin met ‘n verwoede poging om hierdie plan in die wiele te ry. Hierdie koninkryksplan het onder meer onthul dat die Almagtige van voorneme was om vir Hom ‘n volk uit al die nasies van hierdie wêreld te verkies wat vir Hom ‘n sieraad en ‘n "eiendomsvolk" (1 Kefa / Petrus 2:9) moes wees. Die fisiese volk, Yiesraél, sou die hart en die kern van hierdie eiendomsvolk uitmaak. Van hierdie volk af – klein en onbenullig en hardkoppig soos hulle is – sou daar ‘n seën na al die nasies van die aarde oorvloei – dit het die Vader reeds aan Avraham geopenbaar (o.m in Bereshiet / Genesis 12:3).

Dit was egter te wagte dat Satan van die begin af op Yiesraél sou fokus. In die Skrif kan dit duidelik gesien word. En in die ontplooiing van die wêreldgeskiedenis kan dit net so duidelik gesien word. Satan se verbete stryd teen die geslag van mense wat Yahweh vir Homself uitverkies het word reeds so vroeg as in Bereshiet / Genesis 3:15 voorspel: "En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt." En hoe telkens het die "slang" van Eden nie al probeer om die saad van die vrou in die hakskeen te byt nie! Geen wonder Yiesraél se naam is eintlik "Yaákov" wat beteken "hakskeengryper" nie! Die geslag mense wat as "Yiesraél" of as "Yaákov" bekendstaan, moet keer op keer na die hakskeen gryp, want hulle groot Vyand is die een wat hulle keer op keer in die hakskeen byt! Natuurlik sou hy méér as net die hakskeen wou bykom en dikwels kry hy dit ook reg. Maar die Skrif is vol bewyse dat die Bewaarder van Yiesraél nooit sluimer of slaap nie en volkome sal toesien dat die Vyand nie sy uitverkorenes vernietig nie.

In Bereshiet 12:6 lees ons dat toe Avraham in die land kom wat Yahweh vir hom eenkant gesit het, was die Kenaániete reeds daar. Die groot Teëstander het sy huiswerk gedoen en sy planne agtermekaar gehad om die weë van die Almagtige te dwarsboom. Vandag nog is die groot dispuut in die Midde-Ooste: Wie was eerste in die land wat vandag as "Israel" bekendstaan – Yiesraél of sy opponente, soos die Kenaániete? Hoe ook al die mense van die wêreld hierdie vraag probeer beantwoord, in die Skrif sien en hoor ons duidelik: Yahweh, die Een aan wie elke duimbreedte van die aarde behoort, het hierdie land aan sy volk Yiesraél toegeken – en dís die erfporsie wat Hy uiteindelik aan hulle gaan gee. Die stryd wat in die tussentyd rondom hierdie land heers, is maar net een van die manifestasies van die laaste stuiptrekkings van ‘n Vyand wat weet dat sy uurglas leegloop.

Kom ons kyk na ‘n aantal voorbeelde van hoe die Vyand die plan van die Almagtige deur die geskiedenis heen, probeer dwarsboom het. Meeste van die kere het hierdie pogings daaroor gegaan om die saad wat nodig was om Yahweh se belofte aan Avraham waar te maak, te probeer vernietig. Dink aan Yietsgak (Isak) – sy bonatuurlike geboorte en die kortstondige vreugde wat dit aan die Vyand moes verskaf toe dit gelyk het of Avraham sy eie seun van die belofte aan Yahweh gaan offer. Dink aan die hongersnood wat gedreig het om Yaákov se hele familie te vernietig en die manier hoe Yahweh deur Yosef voorsien het, wat bonatuurlik tot tweede in bevel in Mietsrayiem bevorder is. Dink aan die Farao wat probeer het om al die Yisraelitiese seuntjies te vermoor en die verstommende manier hoe Mosheh in die lewe gebly het. Dink aan koning Shaul (Saul) se verwoede pogings om Dawied – die een uit wie se nageslag die Messias gebore sou word – om die lewe te bring toe hy besef dat sy eie koninkryk tot mislukking gedoem is.

Miskien nie heeltemal so bekend nie, maar tog ewe merkwaardig, is die stukkie geskiedenis in die tydperk toe Omri koning van Yiesraél en Yahushafat koning van Yehudah was (tussen 900 en 800 vóór Messias). Miskien kan ‘n mens hier net eers verwys na dit wat reg aan die begin van Yahushafat se koningskap as ‘n getuigskrif oor hom gesê is: "Yahushafat … het hom versterk teen Yiesraél (m.a.w. hom voorgeneem om nie soos Yiesraél, die Noordelike koninkryk, in afgodediens te verval nie) … hy het in die vroeëre weë van sy vader Dawied gewandel en die Baáls nie gesoek nie … sy hart het moedig geword in die weë van Yahweh" (2 Kronieke 17:1-6). Intussen het Omri koning geword in Yiesraél. Omri is die sesde koning van die Noordelike ryk en hy regeer ses jaar in Tiertsah en ses jaar in Shomeron (Samaria). Die herhaalde voorkoms van die syfer "6" is nogal opvallend – die syfer van die mens en, meer spesifiek, die gees van die Anti-Messias – daardie gees wat tot aan die einde sal probeer om die werke van Yahweh te vernietig. Van Omri word gesê dat hy gedoen het wat verkeerd was in die oë van Yahweh – meer kwaad as al sy voorgangers (1 Melagiem / Konings 16:25).

Omri se seun is Agav. Net soos van sy pa, word daar van hom ook gesê: "Hy het gedoen wat kwaad is in die oë van Yahweh, meer as al sy voorgangers." In 1 Melagiem 16:31 lees ons dat hy trou met Izevel, die dogter van Et-Baál, die koning van die Tsidoniërs, en Baál gaan dien en voor hom neerbuig. Agav en Izevel se dogter is Atalyah. Van Atalyah weet ons die volgende: Sy trou met Yahuram, die seun van Yahushafat en koning van Yehudah en word ‘n bose kanaal waardeur die sondes en die afgodediens van Yiesraél en sy konings, na Yehudah toe oorvloei – presies dit waarteen Yahushafat gestry het! Sy ondersteun haar man (en was heel moontlik die brein daaragter) toe hy (Yahuram) sy ses broers, en potensiële troonopvolgers vermoor (2 Kronieke 21:4). Sy self sien toe dat die hele koninklike geslag van Yehudah doodgemaak word (2 Melagiem / Konings 11:1) en stel haarself aan om ses jaar oor Yehudah te regeer (2 Kronieke 22:12). Yahuram se jongste seun, Agazyah, word ná hom koning. Hy is die sesde koning van Yehudah en een van sy getuigskrifte lui só: "Hy het ook gewandel in die weë van die huis van Agav, want sy moeder was sy raadgeefster om in afvalligheid te handel" (2 Kronieke 22:3). Weer val dit op hoe gereeld die syfer "6" na vore kom en tot watter uiterstes die groot Vyand gegaan het om te probeer om die saad van die belofte te vernietig.

Hierna sou daar nog baie soortgelyke pogings wees. Haman wat probeer het om die Yehudiese volk te vernietig toe hulle in ballingskap was. Herodes wat dieselfde wou doen toe hy hoor dat daar iemand gebore is wat as die "Koning van die Yehudiese volk" aangekondig is. Satan self wat probeer het om die Messias sover te kry om van die dak van die tempel af te spring en wat in die harte van mense gewerk het om hom te laat teregstel, soos ‘n misdadiger. En die tientalle voorbeelde uit die latere geskiedenis waarin diegene wat aan Yahweh getrou wou wees en sy gebooie wou nakom, met haat en veragting, en ook met die swaard, vervolg is.

Ook vandag nog is daar talle voorbeelde van die venyn en die hewige aanslag van die Vyand op die lewens van hulle wat gekies het om sy Naam te bely en in sy weë te wandel. Wat staan ons te doen? Eerstens, herken hierdie aanslag vir wat dit is – ‘n verbete en desperate poging van ‘n magtige, maar in beginsel, verslane vyand. Niks meer nie, en niks minder nie. Tweedens, kyk na Hom wat telkens in die verlede met soveel getrouheid en selfs met bonatuurlike ingryping, die uitkoms gegee het. Kyk na Hom en stel jou verwagting in Hom, soos soveel ander dit in die verlede gedoen het. En derdens, verbly jou in die wete dat geen skepsel – nie eers die groot draak … die ou slang wat genoem word duiwel en die Satan, wat die hele wêreld verlei (Openbaring 12:9) – ooit daarin sal slaag om die raadsplanne van Yahweh die Almagtige, wat Hy reeds voor die grondlegging van hierdie wêreld vasgestel en verordineer het, omver te werp nie.