SUURDEEG, SONDE EN SUIWER HARTE

In die tyd van Ongesuurde Brode word ons daaraan herinner dat ons ons huise en ons harte van elke vorm van suurdeeg moet reinig. Dit is bekend dat suurdeeg in die Skrif dikwels met sonde en valsheid in verband gebring word en dat die tyd van Ongesuurde Brode bedoel is as ‘n tyd van selfondersoek, ‘n tyd van suiwering van ons eie harte en ‘n tyd van huis skoonmaak – letterlik, maar ook figuurlik, in soverre daar dinge in ons lewens is wat ons verhouding met Yahweh kan versuur.

Ongesuurde brode kom egter nie net tydens die Fees van Ongesuurde Brode ter sprake nie. Daar is ‘n aantal bepalinge in die Torah wat met die bring van offerandes te make het, waarin die kwessie van suurdeeg, of dan die verwydering van suurdeeg, ook ter sprake kom. Kom ons kyk na ‘n paar hiervan:

Wayyiekra (Lev) 2:11 Geen voedseloffer wat julle aan Yahweh bring, mag van iets wat ingesuur is, berei word nie; want van geen suurdeeg of heuning mag julle vir Yahweh 'n vuuroffer aan die brand steek nie.

Wayyiekra (Lev) 6:14-16 En dit is die Torah van die voedseloffer: Die seuns van Aharon moet dit voor die aangesig van Yahweh voor die altaar bring …En wat daarvan oorbly, moet Aharon en sy seuns eet; ongesuurd moet dit geëet word op 'n afgesonderde plek; in die voorhof van die tent van byeenkoms moet hulle dit eet.

Wayyiekra (Lev) 7:11-12 En dit is die Torah van die dankoffer wat hulle aan Yahweh bring: Ingeval hy dit as lofoffer bring, moet hy by die lofoffer bring: ongesuurde koeke met olie gemeng en ongesuurde platkoeke met olie bestryk en fynmeel wat as koeke deurmekaargeroer is, met olie gemeng.

Bemiedbar (Num) 6:13 En dit is die Torah van die nazireër: Op die dag as die dae van sy nazireërskap om is, moet hulle hom na die ingang van die tent van byeenkoms bring; en hy moet sy offer aan Yahweh bring: een jaaroud lam sonder gebrek … en 'n mandjie ongesuurde koeke van fynmeel … en die voedseloffer en die drankoffers wat daarby behoort.

Uit hierdie gedeeltes kan duidelik afgelei word dat ongesuurde brode of ongesuurde koeke sinoniem was met offers en mense wat spesiaal vir Yahweh afgesonder was en sover as moontlik van die besmetting van die wêreld gesuiwer moes word.

Behalwe hierdie rituele verwysings na ongesuurde brode, is daar ‘n klompie verwysings na ongesuurde brode in die Skrif wat op die oog af niks met die Fees van Ongesuurde Brode of met enige rituele voorskrif te make het nie. Kom ons kyk na hierdie verwysings en die konteks waarin dit voorkom.

Bereshiet (Gen) 19:3 Maar hy het baie by hulle aangehou, sodat hulle na hom uitgedraai en in sy huis gekom het. En hy het vir hulle 'n maaltyd berei en ongesuurde koeke gebak, en hulle het geëet.

Konteks: Lot berei ‘n spesiale maaltyd voor vir die 2 Boodskappers van Yahweh wat hom besoek, net om daarna deur ‘n klomp jongmanne van Sedom (Sodom) omsingel te word wat daarop aandring om ongeoorloofde seksuele gemeenskap met die boodskappers te hê.

Shofetiem (Rigt) 6:19 Toe het Ghiedón ingegaan en 'n bokkie berei, en van 'n efah meel ongesuurde koeke; die vleis het hy in 'n mandjie gesit en die sous in 'n pot gegooi; en hy het dit na Hom uitgebring onder die terpentynboom en dit naby neergesit.

Konteks: Ghiedón (Gideon) berei ‘n spesiale maaltyd voor vir die Boodskapper van Yahweh wat hom besoek en hom later die opdrag gee om die altaar van Baál wat aan sy vader behoort, af te breek.

1 Shemuel (1Sam) 28:24 En die vrou het 'n kalf in die stal by die huis gehad en dit gou geslag, en sy het meel geneem en geknie en daar ongesuurde koeke van gebak.

Konteks: Die dodebesweerster van Endor berei ‘n spesiale maaltyd voor vir die koning (Shaúl), nadat Shaúl gehoor het dat die koningskap van hom weggeneem gaan word omdat hy nie na die stem van Yahweh geluister het nie.

Daar is twee aspekte wat opvallend is, in elkeen van die bogenoemde verwysings na ongesuurde brode. Die eerste is die feit dat ongesuurde brode telkens voorgesit word (of deel van die maaltyd uitmaak) as gevolg van die besoek van persone wat waardig is om op besondere wyse vereer te word. Lot, Ghiedón en die vrou van Endor wou aldrie eer bewys aan hulle besoekers nadat hulle besef (of selfs net vermoed) het dat hulle besoekers nie maar net "gewone" besoekers was nie! Dit bring ‘n dimensie van die Fees van Ongesuurde Brode na vore waarvan ons dikwels vergeet: Tydens hierdie fees word ons vereer met ‘n "besoek" van niemand minder nie as die Allerhoogste self. Dit waarvoor die fees staan en dit waaraan die fees ons herinner, kom eintlik daarop neer: Yahweh het ons opgesoek. Hy het by ons lewens kom betrokke raak. Hy het ons vereer met sy teenwoordigheid en met sy bevrydende aanraking. Die minste wat ons kan doen is om ‘n spesiale maaltyd vir Hom voor te sit – nie net een dag nie, maar sewe dae lank! Vir ons mag ongesuurde brode (of Matso’s) dalk nie proe soos die kos van ‘n feesmaal nie, maar simbolies sê ons daarmee: Yahweh, U is vir my spesiaal en ek wil U hierdie week as my Koning en my Redder vereer!

Die tweede aspek wat opvallend is in die drie verwysings na ongesuurde brode waarna ons hierbo gekyk het, is dat die blote teenwoordigheid van ongesuurde brode elke keer ook die aandag vestig op die teenwoordigheid van sonde, ongehoorsaamheid en ongeoorloofde praktyke. Toe Lot ongesuurde brode vir die twee Boodskappers van Yahweh voorsit, is dit asof die boosheid in sy tuisdorp Sedom soos ‘n oorryp pitsweer oopbars en die aakligheid van sodomie, seksuele perversiteit en homoseksuele sondes tot op die been oopgevlek word. Toe Ghiedón ongesuurde brode aan sy spesiale gas voorsit, word hy gekonfronteer met ‘n sondige praktyk in sy eie huis en in die midde van sy volk wat nie langer kon voortduur nie, nl. altare wat opgerig word en diere wat geoffer word ter ere van Baál. Toe die vrou van Endor ongesuurde brode aan koning Shaúl voorsit, word hy gekonfronteer met die realiteit dat Yahweh se seën nie meer op hom rus nie omdat hy toegelaat het dat ongehoorsaamheid en sonde sy hele koninkryk soos suurdeeg deurtrek het.

Soos elke jaar hierdie tyd, kry ons vanjaar weer sewe dae om te soek na die suurdeeg in ons lewens en dan ‘n besluit te neem om so goed as moontlik daarvan ontslae te raak. Die feit dat ons so ‘n tyd gegun word, is ‘n stuk guns uit Yahweh se hand. Die vraag is wat ons daarmee gaan maak. Gaan ons eerlik genoeg wees om die wanpraktyke en die afgodediens en die blatante ongehoorsaamheid in ons eie lewens te herken en stappe te neem om so gou en so effektief as moontlik ons rug daarop te draai? Gaan ons ernstig genoeg wees om selfs die subtiele vorme van ongehoorsaamheid, die bo-blink-maar-onder-stink-voorkoms af te skud en die Gees van Yahweh toe te laat om ons van binne af buitentoe skoon te maak? Gaan ons vasberade en volhardend genoeg wees om nie tot rus te kom nie voordat die negatiewe gedragspatrone in ons lewe heeltemal afgebreek is en Yahweh-tipe blomme en vrugte in ons lewens begin deurbreek en mense rondom ons begin bewus word van die aangename gevolge van die vrug van die Gees van Yahweh in ons lewens?