DIE SON, DIE SEUN EN DIE MANS

In Ya’akov (Jakobus) 1:17 lees ons hierdie woorde: "Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie." Die woord wat met "ligte" vertaal word, is "photoon" waarin ‘n mens duidelik die woord "fotos" kan herken. Hierdie ligte dui natuurlik op die son en die maan en die sterre. Die twee woorde "verandering" en "omkering" is woorde wat normaalweg gebruik word om na die verandering van die seisoene en die wisselende fases van die maan te verwys. Yahweh is die Vader van die ligte, omdat Hy dit alles gemaak het. Anders as hierdie "ligte" wat voortdurend wissel en verander, is Hy die Onveranderlike en die Standhoudende. Omdat Hy die Een is wat dit gemaak het, is Hy soveel groter as die hierdie "ligte" en daarom is die Een wat aanbid en vereer moet word, nie die "fotos" nie. Immers, as ‘n mens êrens ‘n mooi foto sien en jou bewondering daaroor wil uitspreek, gaan jy tog sekerlik nie die foto vereer nie, maar die een wat die foto geneem het!

Die Skrif beklemtoon herhaaldelik dat die ligte op sigself nie deur Yahweh se volk vereer en aanbid mag word nie. In Devariem (Deut) 4:19 staan daar: "Neem julle dan terdeë in ag ter wille van julle siele … dat jy ook jou oë nie na die hemel opslaan, en as jy die son sien en die maan en die sterre, die hele leër van die hemel, jou laat verlei en voor hulle neerbuig en hulle dien nie—dinge wat Yahweh jou Elohiem aan al die volke onder die hele hemel uitgedeel het." Die aanbidding van die son en die maan en die sterre is iets wat ‘n mens by nasies sal vind wat Yahweh nie ken nie – dit mag nie geduld word in die midde van hulle wat Yahweh as hulle enigste Elohiem bely nie. Dieselfde verbod word oor en oor herhaal – onder meer in Shemot (Exodus) 23:24; Wayyikra (Levitikus) 20:23; en Devariem (Deut) 17:3. In Job 31:26-28 lees ons hierdie belydenis: "As ek die sonlig aangesien het wanneer dit helder skyn en die maan wat so pragtig daarheen gaan, en my hart heimlik verlei is, en ek met my hand hulle ‘n kus toegewerp het— ook dit sou ‘n strafbare misdaad wees, want ek sou El daarbo verloën het". YoshiYah was een van die min konings van Yehudah van wie daar gesê is dat hy gedoen het wat REG was in Yahweh se oë. In 1 Konings 23:4-5 lees ons van hierdie koning: "Toe gee die koning die hoëpriester … en die priesters … en die drumpelwagters bevel om uit die tempel van Yahweh al die voorwerpe uit te bring wat gemaak is vir Ba~al en Ashérah en die hele leër van die hemel; en hy het dit buitekant Yerushalayiem in die velde van Kiedron verbrand en die as daarvan na Bet-el laat dra. En hy het die afgodspriesters uitgeroei wat … vir Ba~al, vir die son en die maan en die sterrebeelde en die hele leër van die hemel offerrook laat opgaan het. "

Die Hebreeuse en Aramese woord vir "son" is "shemesh". Die basiese betekenis van hierdie woord "shemesh" is "om te dien" of "om ‘n diens te lewer". Dit kan gesien word in die visioen van Daniel in Daniel 7:9-10: "Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en ‘n Oue van dae gaan sit het; sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol; sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan ‘n brandende vuur; ‘n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uit gegaan; duisend maal duisende het Hom gedien (letterlik: ge-"shamash"), en tien duisend maal tien duisende het voor Hom gestaan; die gereg het gaan sit, en die boeke is geopen." Yahweh het die son (tesame met die maan en die sterre) geskape om Hom te dien. In Bereshiet (Genesis) 1:14 word uitdruklik bepaal dat die son en die maan en die sterre moes dien om skeiding te maak tussen dag en nag en ook moes dien as teken van wanneer dit die vasgestelde tye van Yahweh is. Mense en nasies wat deur Satan verlok is, het egter gekom en hierdie diens (en die oorspronklike bedoeling wat Yahweh met die son gehad het) totaal omgekeer sodat die son nou gedien word en die Een wat die son gemaak het, op die agtergrond geskuif word!

In Yegezkel 8 word ‘n visioen beskryf wat die profeet van Yahweh ontvang het, terwyl die oudstes van Yehudah voor hom gesit het. In die visioen sien hy die tempel van Yahweh in Yerushalayiem wat besoedel is met allerlei afgodsbeelde en dinge wat ‘n gruwel is in Yahweh se oë. In die voorhof van die tempel sien hy 70 manne "uit die oudstes van die huis van Yisrael" wat besig is om in die duisternis wierook vir vreemde gode te laat opgaan. Die praktyke waarmee hierdie 70 oudstes besig is, is vir Yahweh ‘n aanstoot en word in vers 9 as "growwe gruwels" beskryf. Die boodskap is duidelik: die oudstes (die toegewyde manne van die volk) wat veronderstel is om die volk te leer en voor te gaan in aanbidding en volle gehoorsaamheid aan Yahweh, het die pad byster geraak en is besig om afgodediens te bedryf. Is dit nie wat tot so ‘n groot mate in ons dag ook gebeur het nie?

Dis egter nie waar die visioen eindig nie. In die binneste voorhof van die tempel, tussen die voorportaal en die altaar, staan daar 25 man met hulle gesigte na die ooste, en Yegezkel sien duidelik hoedat hulle hulle voor die son neerbuig in die rigting van die ooste. Wie is hierdie 25 man? Die plek waar hulle in die tempel staan en die feit dat daar in Yegezkel 12 gesê word dat hierdie 25 manne ‘n leiersposisie in Yisrael beklee, laat ‘n mens vermoed dat hulle priesters was – die 24 priesters wat normaalweg die dienswerk in die tempel moes verrig en die hoëpriester wat oor hulle aangestel is. Waarmee is die 25 priesters in Yegezkel se visioen besig? Hulle is besig met sonaanbidding! Hulle is besig om voor die "ligte" neer te buig in plaas van voor die "Vader van die ligte"! En weer eens word ons daaraan herinner dat die mans – ook in ons dag – jammerlik in hulle rol en verantwoordelikheid as leiers en priesters gefaal het en hulleself en hulle families in ‘n byna onherkenbare vorm van sonaanbidding gedompel het.

Sonaanbidding het in die loop van die geskiedenis verskillende gestaltes aangeneem. Soms is daar openlik voor die son neergebuig en aanbid, soos in hierdie visioen van Yegezkel. Soms is ‘n spesifieke magtige (of afgod) met die son geassosieer en is hierdie magtige aanbid. Tammuz, van wie ons in dieselfde hoofstuk, Yegezkel 8, lees dat die vroue by een van die poorte van die tempel voor hierdie afgod gebuig en geween het, was niemand anders nie as die vleesgeworde son, oftewel die songod. Soms het mense ‘n ander geloof, soos die Christelike geloof, aangeneem, maar nog steeds elemente van sonaanbidding in hierdie geloof behou. Dit is bekend dat dit ‘n gebruik van die christene was – selfs nog voor die tyd van Konstantyn – om met sonsopgang met hulle gesigte na die ooste te aanbid. Sommige van die vroeë kerkvaders, soos Clemens, Origenes, Cyprianus en Augustinus het hierdie manier van aanbidding probeer goedpraat. Andere, soos Tertullianus en Eusebius, het dit ten strengste afgekeur. Tertullianus het daarop gewys dat sy medegelowiges hulle aan ‘n vorm van sonaanbidding skuldig maak deur met hulle gesigte na die ooste te aanbid en Sondag tot ‘n feesdag te verhef. Eusebius van Alexandrië het gesê dat Christene wat met hulle gesigte na die ooste aanbid, meng hulle met die ketters en sonaanbidders en dwaal in hulle geloof.

Om met die gesig na die ooste te aanbid is natuurlik nie die enigste vorm van sonaanbidding wat vandag nog teëgekom word nie. Ons weet dat die "dag van die Son" of "Sondag" sy prominensie in die Christelike geloof daaraan te danke het dat dit vroeër die dag van die week was waarop die songod vereer is. Ons weet dat Kersfees vroeër die viering van die geboortedag van die son was. Ons weet dat begrippe soos "Easter" en "Saterdag" en "heilig" en "Lord" en "Here" deurspek is met elemente wat oorspronklik uit die milieu van sonaanbidding kom. Om hierdie woorde met goedkeuring te gebruik en aan jou bors te koester is nie so blatant as om met jou gesig na die ooste te buig nie, maar dit bly nogtans ‘n gewysigde vorm van sonaanbidding!

Hoe het dit gebeur dat hierdie elemente van sonaanbidding in die Christelike geloof ingesluip het? Dis nie so maklik om kortliks hierop te antwoord nie, maar ‘n faktor wat ‘n groot rol gespeel het is die manier waarop die vroeë kerk Mal’agi 4:2 se beskrywing van die Messias as "son van geregtigheid" gebruik het om die Christelike geloof met die vroeëre sonaanbidding in verband te bring. ‘n Mens kan hier maar net met Dr. Chris Koster saamstem dat net so min as wat die beeldspraak "leeu uit die stam van Juda" (wat dui op die Messias) ons die reg gee om leeu-aanbidding goed te praat, net so min gee die beeldspraak "son van geregtigheid" (wat ook dui op die Messias) ons die reg om sonaanbidding goed te praat.

Die interessante is dat daar in die visioen van Yegezkel 8 en 9 ‘n Boodskapper van Yahweh opgetree het van wie daar ‘n hemelglans uitgestraal het en wat met linne beklee was – hierdie Boodskapper kan gesien word as 'n tipe van die Seun van die Allerhoogste wat later as mens op aarde gebore sou word en ook as Seun van Adam sou bekendstaan.. Dit is hierdie boodskapper wat die leiding neem (volgens Yegezkel se visioen) om af te reken met hulle wat met sonaanbidding besig is. Hierin is daar vir die mans van ons dag – die seuns van Adam – ‘n geweldige boodskap in opgesluit: Om waarlik ‘n man te wees – soos die Vader dit van die begin af bedoel het – moet daar gelet word op die Seun, wat vir ons voorgehou word as dié Seun van Adam! Die ligglans wat van Hom af uitstraal as verhoogde Messias, maak dit onnodig om die glans van die son te verhef tot iets wat vereer of aanbid moet word. Die prys wat Hy kom betaal het, was onder meer om hulle wat in sonaanbidding vasgevang was, los te koop en in staat te stel om die ware Elohiem van hemel en aarde onbevange te kan dien. En die opdrag wat Hy van sy Vader ontvang het was om die huis van sy Vader te kom reinig, sodat dit volledig aan Hom afgesonder kan wees. Mans wat werklik hierdie Seun volg en vereer, sal in hulle aanbidding wéét hoe om die rug te draai op die son …