SOOS 'N VERTERENDE VUUR
(11/08/2007)'n Gebeurtenis wat die afgelope week wye nuusdekking geniet het, is die vernietigende brand wat een van die bekendste manskoshuise op Stellenbosch so te se in puin gele het. Duisende mans wat die afgelope 46 jaar as studente in die manskoshuis, Eendrag, gebly het, sou by die aanhoor van hierdie nuus onwillekeurig terugdink aan een van die dinge wat elke nuwe Eendrag-eerstejaartjie moes doen voordat hy as volwaardige "Eendragter" bestempel kon word: As deel van sy eerstejaar "oriëntasie" moes hy een nag (binne die eerste twee weke na sy aankoms op Stellenbosch) sy bereidheid toon om letterlik oor vuurkole ter wille van sy koshuis te stap. In my eie geval was dit meer as 28 jaar gelede dat ek as jong Eendragter die tradisionele Eendrag vuurdoop moes ondergaan
... 'n ervaring waarvan oud-Eendragters nie die besonderhede mag bekend maak nie, maar wat wondere gedoen het om 'n gevoel van "behoort" en samehorigheid te bewerkstellig. Is dit nie ironies nie dat juis hierdie koshuis nou in 'n brand verwoes is en al die inwoners (nie net die eerstejaars nie) baie meer as net 'n paar vuurkooltjies in die gesig moes staar?Die tema en die simboliek van vuur kom gereeld in die Skrif voor en dien werklik om ons verstaan van sekere waarhede oneindig te verdiep. Boonop is daar sekere bekende voorvalle in die Skrif wat in 'n sekere sin letterlik met vuur omlyn is, sodat ons die krag en die grootsheid daarvan beter kan waardeer. 'n Mens dink hier aan die vuur en swawel wat Yahweh uit die Hemel op Sedom en Amorah (Sodom en Gomorra) laat neerreën het omdat die son de van die mense van die twee stede so groot was, dat die geroep daaroor tot by Yahweh gekom het. 'n Mens dink aan die deurdringende vraag wat Yietsgak vir sy vader Avraham gevra het - waarskynlik op dieselfde berg waar die Messias 1800 jaar later as offer vir die wêreld se sondes doodgemaak sou word: "Hier is die vuur en die hout, maar waar is die lam vir 'n brandoffer?" 'n Mens dink aan die doringbos wat in vuur gehul was, maar nie uitgebrand het nie, waar Yahweh sy gedenknaam aan Mosheh bekend gemaak het. 'n Mens dink aan Yahweh se voortdurende bewaring en beskerming oor die volk Yiesrael toe hulle deur die woestyn getrek het - bedags in 'n wolkkolom en snags in 'n vuurkolom. 'n Mens dink aan die berg Sinai waar Yahweh sy Torah vir die volk gegee, wat in vuur gehul was en soos 'n oond gebrand het en ontsaglik gebewe het en met donderslae en blitse omring was, omdat Yahweh in sy grootheid daar teenwoordig was.
'n Mens dink ook aan die bepaling in die Torah wat se dat as jy 'n vuur laat ontstaan en daardie vuur beskadig iemand se graan of sy veld of sy eiendom, dan moet jy ten volle daarvoor vergoed - en 'n mens wonder wat die implikasies sou wees as hierdie bepaling vandag nog konsekwent toegepas moes word. 'n Mens dink aan die seuns van Aharon wat vreemde vuur voor die aangesig van Yahweh gebring het - met ander woorde afgewyk van die voorgeskrewe manier van aanbidding - wat getref en verteer is met vuur wat van die aangesig van Yahweh uitgegaan het. 'n Mens dink aan die vuur uit die Hemel waarmee Yahweh onteenseglik sy grootheid in die tyd van EliYah bewys het en gemaak het dat die volk op hulle aangesigte neergeval het en ten aanhore van die Baälsprofete uitgeroep het: "Yahweh - Hy is Elohiem; Yahweh - Hy is Elohiem". 'n Mens dink aan die drie vriende van Daniel wat in 'n verterende vuuroond gegooi is (omdat hulle geweier het om vreemde magtiges te aanbid), maar wonderbaarlik aan die dood ontkom het. En so kan 'n mens aangaan. Vuur is onlosmaaklik deel van die boodskap van die Skrif in sy geheel en verbreed ons verstaan van wie Yahweh is en wat Hy van sy volgelinge verlang.
Maar wat is nou eintlik die betekenis van vuur? Is dit altyd net 'n aanduiding van oordeel? Is dit uitsluitlik 'n simbool om vrees en verskrikking by mense aan te wakker? Of is daar meer wat ons in die simboliek van vuur moet raaksien - waarhede wat ons andersins nie so maklik sou raaksien nie, wat spesifiek aan die simboliek van vuur gekoppel word? Die interessante is dat die Hebreeuse woord vir vuur ("esh") verband hou met die begrip fondament - wat moontlik beteken dat 'n beter verstaan van die konsep van vuur, kan help om die fondamente van ons geloof beter te verstaan. Kom ons ondersoek die Skrif van naderby om meer te wete te probeer kom oor die simboliese betekenis van vuur.
In Mieshleh 30:15-16 lees ons hierdie woorde: Drie is dit wat nie versadig word nie; vier se nooit: Genoeg nie! -- die doderyk en die toegesluite moederskoot, die aarde wat nie genoeg water kry en die vuur wat nooit se: Genoeg nie! Kom ons neem hierdie eienskap van vuur as 'n element wat nooit genoeg kry nie (en steeds meer en meer wil verteer) as 'n kenteken van ons wandel met Yahweh - 'n kenteken wat ons hierdie gebed laat bid: Leer ons meer van u Woord, gee ons meer van u Gees, maak ons meer soos u Seun!