DIE SUBTIELE VERLEIER

In Yegezkel (Esegiël) 28 is daar ‘n sterk bewoorde profetiese uitspraak teen die vors van Tsor (Tirus) van wie daar drie maal in die hoofstuk gesê word dat hy ‘n el of ‘n elohiem of ‘n magtige was, of hom as een voorgedoen het (vgl. vers 2, 6 en 9). Daar bestaan baie min twyfel dat hierdie vors of koning van Tirus ‘n tipe is van Satan, die groot verleier, wat die mense van hierdie wêreld in sy greep het, byna soos ‘n magtige koning of wêreldheerser. Die manier waarop Satan die mense van hierdie wêreld verlei, is baie subtiel, en die rede waarom mense so maklik deur hom verlei word, is omdat daar so‘n bekoorlikheid en ‘n aantreklikheid aan hom verbonde is. Niksvermoedende mense beland baie maklik in sy greep en word sommer gou-gou sy aanhangers, terwyl hulle vas oortuig is dat hulle met ‘n goeie saak besig is – ja, selfs oortuig is dat hulle besig is om die Almagtige te dien.

Daar word nie minder nie as 9 "positiewe" eienskappe van die vors van Tsor uitgesonder in Yegezkel 28. Hierdie 9 eienskappe is die soort eienskappe wat meeste mense in ‘n leier sal soek en graag sal wil navolg. Die interessante is dat daar in hierdie hoofstuk ook ‘n lysie van 9 edelgesteentes gegee word wat met hierdie vors verbind word (vgl. vers 13). Hierdie edelgesteentes het deel uitgemaak van die "bedekking" van hierdie vors toe hy in die tuin van Eden was. (Die feit dat daar van hierdie vors gesê word dat hy in die tuin van Eden was, is nog ‘n duidelike aanduiding dat ons hier met ‘n beskrywing van Satan en sy subtiele verleiding te make het). As ‘n mens die Hebreeuse betekenis van elkeen van die 9 gesteentes naslaan, kom jy tot die merkwaardige ontdekking dat elkeen van die 9 gesteentes ooreenkom met een van die 9 positiewe eienskappe van hierdie vors wat in die hoofstuk uitgesonder word. Ons vind dus in Yegezkel 28 ‘n dubbele waarskuwing: Nie net is daar ‘n lysie van 9 eienskappe wat op die oog af baie goed lyk, maar waarmee die vyand niksvermoedende gelowiges kan "vang" nie, maar daar is ook ‘n lysie van 9 edelgesteentes (wat ook bekend is vir hulle goeie voorkoms) wat elkeen van die 9 eienskappe bevestig. Hierdie gesteentes was deel van Satan se "bedekking" toe hy in Eden was – Yegezkel 28 wys vir ons uit dat dit eintlik deel van sy "vermomming" is waarmee hy mense vandag nog verlei. Daar is soveel subtiele verleiding vandag – veral in die kerke waar mense meen dat hulle geestelik opgebou en versorg word. Dit het tyd geword dat diegene wat ernstig is daaroor om die Vader in gees en in waarheid te dien, sal wakker word en raaksien wat werklik besig is om te gebeur. Die vyand sal NIE sy ware kleure wys nie. Hy sal voortgaan om homself te verander in ‘n boodskapper van die lig (2 Kor 11:14). Hy sal voortgaan om in die mees aanloklikste gestaltes en met die wonderlikste idees en programme mense rondom hom te versamel wat nie sterk genoeg daaroor voel om Yahweh onvoorwaardelik te gehoorsaam nie. Kom ons trek ‘n tabel op van die indrukwekkende eienskappe en bekoorlike edelgesteentes waarteen Yegezkel 28 ons waarsku.

 

Vers

Eienskap

Edelgesteente

Oorspronklike betekenis

Subtiele verleiding vandag

2

Mag en Grootheid

Tarshish / chrisoliet

(“rashash”)

To beat down fortified cities

Gepre-okkupeerd met oorwinning, maar ongeërg oor gehoorsaamheid

3

Wysheid

Pitdah / topaas

(“patar”?)

To let free, to dismiss

Bereid om die wysheid van Yahweh te verlaat in die soektog na vryheid

4

Rykdom

Sappier / saffier

(“safar”)

To count, to reckon, to multiply

Gedurig besig om geld te tel en somme te maak in plaas van fokus op Yahweh

12

Skoonheid

Odem / karneool

(“adam”)

To be red, to be a man

Ingestel op skoonheid en kleurvolheid in die hoop om goed te lyk vir mense

14

Salwing

(“uitgespreide”)

Yahalom / jaspis

(“halal”?)

To sing praises

Soek na salwing in “dinge” en “metodes” in plaas van in die Messias

14

Beskutting

Yashfeh / sardoniks

(“shuf”?)

To overwhelm, to cover, to bruise

Meer besorgd oor die ”covering” van ‘n kerk as oor die skade wat kerke aanrig

14

Afgesonderdheid

Nofeg / karbonkel

(“nof”?)

To move to and fro (like a wave-offering)

Gee voor om “heilig” te wees, maar is nie bereid om afgesonderd te leef

15

Volmaaktheid

Shoham / oniks

(“shoham”)

To make white (or perfect)

Soek “volmaaktheid” in dinge wat nie deur Yahweh voorgeskryf is nie

17

Glans

Bareqet / smarag

(“baraq”)

To flash, to lighten

Bied genoeg vir die oog en die oor, maar ken nie die ware Lig

Ons groot teëstander lyk inderdaad baie goed. ‘n Vergelyking van Yegezkel (Esegiël) 28 met Shemot (Exodus) 28 bring aan die lig dat hy bedek (of vermom!) is met 9 van die 12 edelgesteentes wat deel uitgemaak het van die hoëpriester se skouerkleed. Daar is sekerlik nie ‘n beter manier om die volgelinge van Yahweh te beïndruk as om die gesteentes wat deel uitgemaak het van die skouerkleed van die hoëpriester, deel te maak van sy eie "bedekking" nie. Die nabootsing is egter nie 100% volledig nie. Satan kan net daarin slaag om 9 van die 12 kosbare gesteentes na te boots wat deel uitgemaak het van die skouerkleed van die hoëpriester. Daar is drie stene wat hy nie kan naboots nie. Hy kan 9 van die eienskappe wat die Almagtige met die hoëpriester geassosieer het, naboots en dit selfs op ‘n subtiele manier verdraai en misbruik. Maar dit lyk of hy nie in staat is om die oorblywende 3 stene by sy vermomming in te sluit nie. Kom ons kyk na hierdie 3 stene en die eienskappe wat daarmee geassosieer word.

Die drie stene wat nie in die lysie van Yegezkel 28 voorkom nie, is "leshem" (Afr. Vertaling: "hiasint"; Scriptures: "jacinth"), "shevu" (Afr. Vertaling: "agaat"; Scriptures: "agate") en "aglamah" (Afr. Vertaling: "ametis"; Scriptures: "amethyst"). Wat is so besonders aan elkeen van hierdie drie stene en waarom kan Satan dit nie naboots nie?

Die eerste steen is die "leshem". Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word is baie betekenisvol en gee vir ons ‘n goeie aanduiding hoedat ons veral in hierdie tyd die subtiele verleiding van Satan kan hokslaan. Die woord "leshem" beteken letterlik "tot die Naam" of "behorende tot die Naam" of "verbonde aan die Naam". Geen wonder Satan kan hierdie steen nie naboots nie! Hy behoort nie aan die Naam bo alle name nie. Hy kan die nie verdra dat hierdie Naam aangeroep word nie. Hy verag hierdie Naam en hulle wat hierdie naam gebruik. Hy is bewus daarvan dat volgens Openbaring 7 en 14 die uitverkorenes met hierdie Naam verseël sal wees. Hy sal enigiets doen om potensiële gelowiges daarvan te oortuig dat dit nie nodig is om hierdie Naam letterlik te gebruik nie. Hy sal alles in sy vermoë doen om te keer dat mense die Naam van Y'shua die Messias aanroep, want deur dit te doen roep hulle eintlik die Naam van Yahweh aan. Y'shua beteken: Yahweh is (my) verlossing. Roep jy die Naam van Yahweh en Y'shua aan of is hierdie steen ook een van die ontbrekende stene in jou mondering?

Die tweede steen wat nie in die bedekking van Yegezkel 28 gevind word nie, is die "shevu". Hierdie woord kom van die Hebreeuse woord "shuv" wat beteken "om terug te keer", "om berou te hê", "om herstel te word". ‘n Mens kan verstaan waarom hierdie steen ook nie in Satan se kleed voorkom nie. Hy is die meesterbrein agter die "evangelie" wat min of meer so klink: "Glo net in Jesus en alles sal regkom". So lank mense die boodskap hoor dat hulle Jesus as Verlosser moet aanvaar en nie nodig het om die gebooie van Yahweh te gehoorsaam nie, is die Vyand heel tevrede. Satan wil nie graag sien of hoor dat iemand aangemoedig word om na Yahweh en sy weë terug te keer nie. Satan wil nie graag sien dat die proses van restourasie waarvan die Skrif praat, op dreef kom nie. Die Skrif se siening van restourasie kom neer op omdraai en terugkeer na die beproefde weë. Nie: Sê net jammer oor dit wat jy verkeerd gedoen het en gaan voort met jou lewe soos altyd nie. Het jy hierdie kosbare steen as deel van die kleed van geregtigheid wat jy van die Messias ontvang het?

Die derde steen wat ontbreek, is die "aglamah". Dit is nie so maklik om die presiese betekenis van hierdie kombinasie-woord vas te stel nie, maar die beste vertaling is waarskynlik: "Broers tesame in lering en opleiding". Hou in gedagte dat die Hebreeuse woord "Torah" letterlik "lering" beteken. Satan is nie tevrede wanneer hierdie eienskap van "broers tesame in lering en opleiding" by ‘n groep aanwesig is nie. Dis waarom hierdie steen nie deel is van sy mondering nie. Aan die ander kant is dit waar dat dit juis hierdie eienskap is wat die ware volgelinge van Yahweh behoort te kenmerk. Daar moet ware eenheid tussen hulle wees – broers en susters wat saamstaan en saam bereid is om te leer wat die Meester van hulle verwag. Hulle moet nie soekers wees na goedkoop eenheid of eenheid-sonder-waarheid nie. Hulle kan nie soekers wees van eenheid saam met diegene wat die waarheid teenstaan nie. Hulle eenheid is ‘n eenheid in die Messias en in die waarheid en die Torah wat Hy verkondig het (Matt 5:17-19). Om ons mondering volmaak en volledig te maak, moet daar by ons ‘n bereidheid wees om deur Hom geleer te word wat alleen waardig is om "Rabbi" genoem te word (Matt 23:7-8). Ons moet bereid wees om waarlik sy dissipels te wees vir die wonderlike beloning om eendag waarlik deel van sy bruid te wees! Dit is die een steen wat Satan nie kan naboots nie en wat niemand van ons kan wegneem nie!