SY REGTERHAND OOR ONS

Die gebruik om mense te seën is so oud soos die skepping self. Direk nadat die Almagtige die mens geskape het, het Hy hulle geseën en vir hulle gesê: "Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde". Na die sondeval lees ons dat Yahweh vir Noag en sy seuns geseën het en identies dieselfde opdrag aan hulle gegee het as aan die eerste twee mense op aarde: "Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde". Die Vader se groot belofte aan Avraham en sy nageslag was dat Hy hom sou seën en aan hom ‘n naam sou gee wat so groot is dat hy ‘n seën vir ander sal wees. Verder het Yahweh spesifiek vir Avraham gesê dat Hy vir Sarah op ‘n spesiale manier sou seën deur vir haar ‘n seun te gee uit wie konings en nasies sou voortkom. Net soos Avraham, is Yitsgak en Ya’akov en Yosef ook deur Yahweh geseën. Elke keer as Yahweh een van die aartsvaders geseën het, herinner dit ons daaraan dat Hy sy seën uitgespreek het oor Yisrael, die volk wat Hy vir Homself as eiendomsvolk uitgekies het.

Soms het die Vader direk aan mense verskyn en sy seën oor hulle uitgespreek. Die mees algemene manier van seën was egter wanneer mense, as spreekbuise en verteenwoordigers en diensknegte van die Almagtige, seën teenoor ander mense uitgespreek het. Soms het leiers die hele volk namens Yahweh geseën (byvoorbeeld Mosheh in Shemot 39:43 en Aharon in Wayyikra 9:22). Soms het leiers van die volk indiwidue geseën (byvoorbeeld Yahushua wat vir Kalev geseën het – Yahushua 14:13). Soms lees ons eenvoudig dat mense mekaar geseën het, byna as ‘n soort groet wanneer hulle mekaar teëkom (byvoorbeeld Boas en die snyers op sy land in Rut 2:4). En dan is daar die seën waarmee ouers, en veral vaders, hulle kinders geseën het en op so ‘n manier seker gemaak het dat die seën wat hulle leer ken het en in hulle eie lewens geniet het, ook op hulle nageslag oorgedra word. Ons weet dat Yahweh hierdie vorm van seën gewil en goedgekeur het, want daar is talle aanduidings in die Skrif dat die seën wat vaders oor hulle kinders (en húlle kinders) uitgespreek het, letterlik waar geword het en later ‘n groot rol in die lewens van die kinders en hulle nageslag gespeel het.

Een bekende voorbeeld waar ‘n oupa sy kleinkinders geseën het (op ‘n manier wat later geblyk het heeltemal in die kol was), is toe Ya’akov die twee seuns van Yosef, Efrayiem en Menasheh geseën het (Bereshiet 48). Die interessante van hierdie gebeurtenis is dat Ya’akov (wat nie meer so goed kon sien nie) sy regterhand op die hoof van Efrayiem geplaas het en sy linkerhand, oorkruis, op die hoof van Menasheh, alhoewel Yosef vir Efrayiem aan sy linkerkant neergesit het en vir Menasheh (wat die eersgeborene was) aan sy regterkant. Dit is duidelik uit hierdie en ander gedeeltes in die Skrif dat seën met die regterhand ‘n besondere betekenis gehad het en moontlik groter gewig gedra het as seën met die linkerhand. Dit is ook dikwels Yahweh se regterhand wat uitgesonder word en wat met sy seën en sy krag en sy verlossing verbind word. Om die regterhand oor iemand uit te steek en hom te seën is daarom ‘n kragtige manier om so iemand te verseker dat die hand van die Almagtige op sy lewe rus en dat Yahweh self reg deur sy lewe sal voorsien, sal help, sal lei en uitkoms sal gee. Verder kan dit ook gesien word as die Elohiem van Avraham, Yitsgak en Ya’akov wat as’t ware sy hand na hierdie persoon uitsteek en hom (of haar) uitnooi om deel te verkry aan die seën wat Hy aan die aartsvaders belowe het en wat veral met die koms van die Messias ‘n realiteit geword het. Immers, dit is Hy (Yahshua, die Messias) vir wie Yahweh deur sy regterhand as Leidsman en Verlosser verhoog het om aan Yisrael bekering en vergifnis van sondes te skenk (Hand 5:31) en wat self, na sy hemelvaart, aan die regterhand van die Vader gaan sit het waar Hy vir ons intree (Rom 8:34) totdat ons die erfdeel in besit neem wat Hy vir ons verkry het.

Wat is, volgens die Skrif, die essensie van hierdie seën wat Yahweh oor sy volk uitgespreek het en wat oor en oor bevestig word wanneer iemand vandag nog in die Naam van Yahweh en in die Naam van Yahshua geseën word? Kom ons bly by die simboliek van seën met die regterhand. Waarom spesifiek die regterhand? Die Hebreeuse woord vir regterhand is "yamien" en hou volgens woordeboeke heel moontlik verband met twee ander Hebreeuse woorde, naamlik "aman" en "manah". Die woord "aman" beteken: "to confirm, to support, to nourish, to be firm, to be faithful, to be trustworthy, to believe". Wanneer die regterhand oor iemand uitgesprei word as ‘n verlengstuk van Yahweh se regterhand van seën, is dit duidelik ‘n waarborg dat Hy as die Almagtige en die Getroue so ‘n persoon reg deur sy of haar lewe sal ondersteun, sal versorg en sal bystaan. Omdat Hy volkome standvastig en geloofwaardig is, kan Hy alleen standvastigheid bied en ware geloof opwek. Elkeen wat met die Vader in ‘n verhouding wil staan, het hierdie standvastigheid en hierdie geloof in sy of haar lewe nodig. Wanneer ‘n gelowige (byvoorbeeld aan die einde van ‘n gebed) die woordjie "amein" gebruik, wat ook van "aman" afgelei word, is dit ‘n belydenis dat Yahweh betroubaar en geloofwaardig is en met sy kragtige regterhand ons gebede sal verhoor. En waar verkry ons die reg om ons so op sy betroubaarheid en sy geloofwaardigheid te beroep? Ons verkry dit deurdat Hy in sy guns en sy goedertierenheid sy regterhand oor ons uitgesteek het en aan ons sy seën belowe het – natuurlik op voorwaarde dat ons na sy stem luister en sy gebooie hou.

Die Hebreeuse woord "manah" wat moontlik ook met die woord vir "regterhand" verband hou, beteken "to count, to reckon, to number, to ordain, to prepare a portion". Hier het ons nog ‘n kragtige betekenisveld van "om iemand te seën deur die regterhand oor hom uit te strek". Veral wanneer kinders deur hulle ouers geseën word. Die seën is in hierdie geval ‘n aanduiding dat Yahweh ook vir hierdie kind ‘n deel van sy erfporsie bestem het. Dit is die Vader se wil dat hierdie kind ook sal deel wees (of: ingereken sal word) by die getal van gelowiges wat uiteindelik gered sal word. Hier is selfs sprake van die begrip "ordain" of "verordineer". Deur sy seën oor hierdie kind uit spreek (of deur ‘n ouer of iemand anders te LAAT UITSPREEK) gee Yahweh te kenne dat Hy hierdie kind vir die ewige lewe verordineer of geroep het. Dit beteken nie hierdie kind gaan die ewige lewe OUTOMATIES beërwe nie. Nee, dit is die Vader se wil dat hy of sy self die keuse sal maak om deur die Messias na Hom toe te kom. Deur sy guns en sy reddende Regterhand het Hy reeds al die nodige gedoen vir hierdie kind (of volwassene) om die pad van verlossing te loop en te bly volhard tot die einde toe. Maar dit bly steeds waar dat elkeen in die finale instansie op grond van sy eie geloof in die Messias en sy eie geloofswerke (geïnspireer deur die Messias) gered sal word.

Hier is ‘n aantal Skrifgedeeltes uit die Psalms (Tehilliem) wat die omvang en betekenis van die regterhand van Yahweh verder illustreer:

Tehilliem 16:8,11 "Ek stel Yahweh altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie … U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig."

Tehilliem 17:7 "Maak u gunsbewyse wonderbaar, o verlosser van die wat by u regterhand skuil vir teëstanders!"

Tehilliem 18:35 "Ook het U my die skild van u uitredding gegee, en u regterhand het my ondersteun, en u neerbuigende goedheid het my groot gemaak."

Tehilliem 20:5-6 "Ons wil juig oor u oorwinning en die vaandels opsteek in die Naam van onse Elohiem. Mag Yahweh al u begeertes vervul! Nou weet ek dat Yahweh sy gesalfde verlos; Hy sal hom verhoor uit sy afgesonderde hemel met magtige dade van verlossing van sy regterhand."

Tehilliem 44:3 "Want hulle het die land nie deur hul swaard in besit geneem nie, en hul arm het hulle nie die oorwinning gegee nie, maar u regterhand en u arm en die lig van u aangesig, omdat U ‘n welbehae in hulle gehad het."

Tehilliem 48:10 "Soos u Naam, o Elohiem, so is u roem tot die eindes van die aarde toe; u regterhand is vol geregtigheid."

Tehilliem 77:10 "Toe het ek gesê: Dit is my grootste bekommernis dat die regterhand van die Allerhoogste verander!"