TEHIELLIEM 124

Psa 124:1 'n Bedevaartslied. Van Dawied. As Yahweh nie vir ons was nie - laat Yiesraél dit sê –

Bedevaartslied – Engels: "Songs of degree" (Letterlik: Liedere van "opgang" of "styging") – 15 psalms so genoem (120-134), sommiges meen dis n.a.v. 15 trappe van tempel waar die Leviete musiek gemaak het tydens Loofhuttefees. Sommiges meen dat dit psalms is wat gesing is tydens die "opgaan" na Yerushalayiem – ná die ballingskap, maar ook vir ander geleenthede, soos feeste. Verwys egter heel waarskynlik na die "styging" in gedagtegang wat sigbaar is in meeste van hierdie psalms.

As Yahweh nie vir ons was nie … As Hy nie uit sy guns na ons toe afgebuig het nie … As Hy nie ons smeekbedes aangehoor en ons nood raakgesien het nie … As Hy ons nie as deel van sy volk aangeneem het nie. Vgl. Tehiel. 46:7 "Yahweh van die leërskare is met ons; die Elohiem van Yaákov is 'n rotsvesting vir ons"; Tehiel. 118:6 "Yahweh is vir my; ek sal nie vrees nie: wat kan 'n mens my doen?"; Rom 8:31 "Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As Elohiem vir ons is, wie kan teen ons wees?"; Ivriem / Hebreërs 13:6 "Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Yahweh is vir my 'n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal 'n mens aan my doen?"

Laat Yiesraél dit sê … Moenie daaroor stilbly nie … moenie dat dit sommer net ongesiens en onvermeld verbygaan nie. Sou ons stilgebly het as die teenoorgestelde gebeur het, as vyand ons oorweldig het en daar geen hulp of uitkoms vir ons was nie?

Psa 124:2 as Yahweh nie vir ons was toe die mense teen ons opgestaan het nie,

Toe die mense teen ons opgestaan het … soos dit van die begin af was: mense in die algemeen soek Yiesraél se ondergang … mense is daarop uit om Yiesraél te verneder … om te verhinder dat hulle "opgaan" – opgaan na Yerushalayiem, opgaan om in Yahweh se teenwoordigheid te kom, opgaan om in afsondering en volgens sy Woord te lewe …juis daarom het ons ALTYD Yahweh se hulp nodig. Vgl. Tehiel. 37:32 "Die afvallige loer op die regverdige en soek om hom dood te maak."

Psa 124:3 dan het hulle ons lewendig verslind toe hulle toorn teen ons ontvlam het;

Lewendig verslind … Laat ons nie daaroor twyfel dat dit die vyand se bedoeling is om ons totaal te vernietig nie … Satan het hom nie voorgeneem om die volgelinge van Yahweh bloot skrik te maak nie … Nee, hy soek hulle totale ondergang en as Yahweh nie ingryp nie, sal dit met ons almal gebeur!

Toorn ontvlam … Hoekom is hulle (hy) so kwaad? Omdat die duisternis nie die lig kan verdra nie … omdat daar altyd ‘n botsing sal wees tussen die skemas en die instellings en die patrone van hierdie wêreld en die weë van Yahweh.

Psa 124:4 dan het die waters ons oorstroom, 'n stroom het oor ons siel gegaan;

Waters ons oorstroom … die vernietiging en die ondergang sou volkome en beslissend gewees het … daar sou geen teken van ontvlugting of oorlewing gewees het nie … Vgl. Openb. 12:15-16 "En die slang het uit sy bek water soos 'n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier. En die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier opgesluk, wat die draak uit sy bek uitgegooi het." … ook YeshaYahu 59:19 "En hulle sal die Naam van Yahweh vrees van die westekant af, en sy grootheid van die opgang van die son af; want Hy sal kom soos 'n saamgeperste stroom wat die asem van Yahweh aandrywe."

Psa 124:5 dan het die trotse waters oor ons siel gegaan.

Trotse waters … dis kenmerkend van die vyand se aanslag dat hy meesal met trotsheid op ons neersien … ons manier van doen en manier van glo en manier van aanbid word verkleineer en bespotlik gemaak … dis waarom hierdie waters oor "ons siel" gaan: dit maak seer, dit raak ons hele wese en bring ons in ‘n situasie waar ons Yahweh se ingryping en aanraking desperaat nodig het. Vgl. Tehiel. 31:18 "Laat die valse lippe stom word wat in trotsheid en veragting onbeskaamd praat teen die regverdige."

Psa 124:6 Geseënd is Yahweh wat ons aan hulle tande nie as buit oorgegee het nie!

Nie as buit oorgegee … niks kan ons enige skade aandoen as Yahweh dit nie toelaat nie … ons lewe is geheel en al in sy hande … soms laat Hy toe dat die situasie BYNA hand uit ruk, sodat Hy ons sy groot krag en sy almag kan toon. Vgl. 1 Kefa / 1 Petrus 5:8 "Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind" en Tehiel. 145:5 "Ek wil praat van die glans van u roemryke majesteit en van u wonderbare dade."

Psa 124:7 Ons siel het vrygekom soos 'n voël uit die vangnet van die voëlvangers; die vangnet is gebreek, en ons, ons het vrygekom.

Soos ‘n voël uit die vangnet … die vyand is daarop uit om ons op allerhande maniere te probeer vastrek … as hy daarin slaag ontneem hy ons van ons vryheid en is ons soos ‘n voël wat in ‘n wip gevang is … iemand wat Yahweh se redding gesmaak het is soos ‘n voël wat uit hierdie benarde situasie losgekom het. Van nou af behoort ons oë net op Yahweh te wees. Vgl. Tehiel. 25:15 "My oë is voortdurend op Yahweh, want Hy sal my voete uit die net uitlei" en Tehiel. 91:3-4 "Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes. Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is 'n skild en pantser."

Psa 124:8 Ons hulp is in die Naam van Yahweh wat hemel en aarde gemaak het.

"These three things will I bear on my heart … : ‘(Yahweh) was on our side,’ this for the past; ‘The snare is broken,’ for the present; ‘Our help is in the name of (Yahweh),’ this for the future. I will not and I cannot be fainthearted, whether in my contest with Satan, in my intercourse with the world, or in the upheavings of my wicked heart, so long as I hold this "threefold cord" in my hand, or rather, am held by it" - Alfred Edersheim.