TEHIELLIEM 22,23 EN 24
Hierdie drie psalms vorm deel van die eerste "boek" of onderafdeling van Tehielliem (Tehielliem 1-41), wat bekendstaan as die "Genesis" boek en wat handel oor die mens. As ‘n mens hierdie eerste onderafdeling van Tehielliem verder onderverdeel, bestaan dit uit drie dele: (1) Die mens as beeld van Elohiem [1-8], (2) Die mens van die Aarde, of Antimessias [9-15], en (3) Die mens, Y'shua die Messias [16-41]. Tehielliem 22-24 vorm dus deel van die kleiner onderafdeling [Tehielliem 16-41] wat handel oor Y'shua die Messias. Hierdie drie psalms kan dus as Messiaanse psalms beskou word.
Dis nie moeilik om die Messiaanse elemente in hierdie drie psalms raak te sien nie. Kom ons kyk net na ‘n paar hiervan. Tehielliem 22 begin met die bekende woorde: "My El, my El, waarom het U my verlaat?" – ‘n duidelike heenwysing na die Messias se teregstelling en uitroep terwyl Hy aan die folterpaal gehang het. Tehielliem 23 begin met die woorde: "Yahweh is my Herder, niks sal my ontbreek nie". Hierdie dink mens aan die Messias se woorde in Yahuganan 10:11 toe Hy gesê het: "Ek is die goeie Herder …". Die verwysings na die "dal van doodskaduwee" (vers 4) en die salwing met olie (vers 5) herinner ook baie sterk aan die Messias en die werk wat Hy volbring het. Die herhaling van die vraag "Wie is tog die Erekoning?" in Tehielliem 24 (vers 8, 10) dui ewe-eens baie sterk op die Messias en die aanspraak van die Skrif dat Hy die een is wat die Koningskap van Yahweh hier op aarde sal kom vestig (vgl. o.m. Openbaring 19:11-21).
Daar is baie kleiner verskille wat ‘n mens kan uitlig en wat aan elkeen van hierdie drie psalms ‘n unieke karakter gee, maar as ‘n mens dit moet opsom, sou ons dit as volg kon stel: (1) Tehielliem 22 wys heen na die Messias se lyding en dood (vgl. vers 18 "Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad"); (2) Tehielliem 23 wys heen na die Messias se oorwinning en opstanding (vgl. vers 6 "Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van Yahweh bly in lengte van dae"); (3) Tehielliem 24 wys heen na die Messias se aanvaarding van die koningskap in die ewige koninkryk (vgl. vers 9 "Hef op julle hoofde, o poorte, ja, hef op, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan!").
Wanneer die veragting van mense my laat voel soos ‘n wurm (vers 6); wanneer dit vir my voel of my siel uitgestort word soos water (vers 14); wanneer my hart soos kerswas word en smelt in my ingewande (weens die vuur van Yahweh se toorn - vers 14, vgl. ook Yegezkel 22:14); wanneer dit vir my voel my krag is opgedroog en nutteloos soos ‘n potskerf (vers 15), kan ek vertroosting en versterking vind in die wete: Yahweh sal die ellende van die ellendige nie verag of verfoei en sy aangesig vir hom nie verberg nie – nee Hy sal hoor, elke keer as ek Hom aanroep om hulp (vers 24).
Die realiteit van die opstanding en die oorwinning wat die volmaakte Herder vir ons waarborg, is so sterk en deurslaggewend, dat ons in ons verliese en tekortkominge kan weet: niks sal ons ontbreek nie (vers 1); dat ons in ons honger en dors altyd daarop kan reken dat Hy ons na groen weivelde en waters van rus sal lei (vers 2); dat ons in tye van geestelike droogte kan verwag dat Hy siel sal verkwik en ons op die weë van geregtigheid sal lei (vers 3); dat ons selfs in doodsangs kan vashou aan die belofte dat geen rampspoed ons sal tref nie (vers 4); dat ons te midde van teëstanders wat ons omring, onsself kan verlekker in die oorvloed wat Yahweh skenk (vers 5); dat ons enige bedreiging hier op aarde kan trotseer omdat sy guns en sy teenwoordigheid ons nooit verlaat nie (vers 6).
Yahweh se koninkryk is groter as die beperkte mag van die stelsels van hierdie wêreld (vers 1-2); Yahweh se koninkryk is duidelik omlyn en afgesonderd – nie enigeen sal dit beërwe nie (vers 3-4); Yahweh se koninkryk word deurweek deur sy seën, sy geregtigheid en sy verlossing (vers 5-6); Yahweh se koninkryk is so gewigtig en gedug dat dit die ewige deure en poorte tot gehoorsaamheid en onderdanigheid oproep (vers 7 en 9); In die sentrum van hierdie koninkryk staan YAHWEH VAN DIE LEËRSKARE, STERK EN GEWELDIG – DIE KONING AAN WIE AL DIE EER TOEKOM!!
As ons waarlik dissipels van die Messias wil wees, kom ons roep bedags en snags na Hom in die wete dat Hy die Afgesonderde is wat woon onder die lofsange van sy volk, soos Hy dit gedoen het (22:2); kom ons loop in die spore van geregtigheid soos Hy daarin geloop het (23:3) en kom ons hou ons hande rein en ons harte suiwer en weerhou ons siele van nietigheid en ons monde van valsheid, soos die Messias dit gedoen het (24:4).